"’n Soetsuurlemoen": ’n Memoir deur PJ Philander

  • 4

PJ Philander, 1983 (foto: verskaf deur Steward van Wyk)

Die digter PJ Philander se 100ste verjaardag word op 25 November 2021 gevier. ’n Gesprek rondom sy lewe en skryfwerk vind op Saterdagmiddag 23 Oktober 2021 by die Tuin van Digters plaas. Hier is die volledige feesprogram.


Steward van Wyk het aan LitNet ’n kort memoir, "’n Soetsuurlemoen", deur PJ Philander verskaf. Die skrywe  is dalk verouderd in terme van inhoud en taal maar tog literêr-histories belangrik en interessant. 

In hierdie teks kom pejoratiewe terme voor wat deur lesers as aanstootlik en beledigend ervaar mag word. Hierdie terme word in hul oorspronklike historiese konteks aangehaal.

PJ Philander as tienerseun in Caledon (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Caledon

Eerste skyfie

Al kan ek nie al die soet en suur van my lewensloop onthou nie, volg hier enkele skyfies daarvan.

Ek onthou hoe ek my as kind op ’n dag kom kry het dat ek kan fluit. Ek het in ’n peperboom voor ons deur gesit en wag vir die onderwyseres, ons buurvrou, om huis toe te kom. En presies soos ek vermoed het, het sy onder die boom kom staan, opgekyk en gevra: "Waar’s die kanarie wat so mooi fluit?" Sonder om iets meer te wil weet, het sy aangestap, en toe ek haar haar voordeur hoor toemaak, het ek vinnig uit die boom geklim om Mamma te gaan vertel wat sy gesê het. Alhoewel Mamma nie ’n mens vir vleiery was nie, het sy my groots laat voel toe sy my ’n sny brood met groenvyekonfyt daarop gegee het.

Soos wanneer ’n mens ’n soetsuurlemoen skyfie vir skyfie proe, kom ek af op nog ’n skyfie wat vir my steeds ’n bitter nasmakie het.

Oudergewoonte het ek na skool by die huis van my ma se beste vriendin verbygestap. Sy’t my een middag uit haar kombuis oor die onderdeur nader gewink, my op ’n bankie laat sit en soos my ma haar gevra het, my vertel dat my sussie dood is. Ek het geweet dat sy vir ’n paar dae siek was. Sy en ’n maatjie van haar het glo van ’n heining in ons buurt se giftige bessies geëet. Verslae is ek huis toe, by die agterdeur in, langs Mamma by die stoof se sterwende vuur gaan staan, aan haar voorskoot vasgehou en saam met haar gehuil.

Die dokters kon na die lykskouing met geen beter rede vir hulle dood vorendag kom nie as dat dit veroorsaak is deur die bessies wat hulle geëet het.

Ek het lank daarna gewonder waarom sy so ongevoelig van ons af weggeskeur was, snags rondgerol tot die beddegoed opsy geskop was en my ma kom vra het of ek dalk siek voel. Vrae soos waarom ek as kind aanhou huiswerk moet doen in plaas van, soos sy, in die hemel te gaan bly, het my dikwels ontevrede laat voel.

Ons kombuis het ’n misvloer gehad wat my ma elke week gesmeer het en waarvoor ek mis moes gaan optel sodra my hande heeltemal ontslae geraak het van die vorige week se misreuk. Ek moes die ander vloere elke Vrydag met bokpolitoer poets. Dit was nie kinderspeletjies om ses duim breë vloerplanke van vier slaapkamers, ’n sit­ en eetkamer, asook een groot voorportaal op die knieë met ’n skropborsel en opvryfdoeke blink genoeg te kry na my ma se sin nie.

Van Maandae tot Donderdae was ek smiddae na skool ’n joggie en taks het ek my sikspens en trippens wat ek verdien het, in ’n rooi spaarbussie gebêre om dit dan aan die end van die jaar vir my ouers te gee as ’n bydrae tot my nuwe pakkie Sondagklere en -skoene. Daarby was ook geldjies vir al die sakke akkers wat ek smôrens lank voor dagbreek opgetel het en vir al die boodskappies van ooms vir wie ek soms ver ente moes draf om dit af te lewer.

Saterdae se matinees, met Buck Jones of Charlie Chaplin, was vir my verbode. My ma was daarteen dat ek verneder moes word om op die galery, niks beter as ’n kykgat van die bioskoop nie, het sy beweer, te gaan sit. Ek moes doodtevrede my afgedankte gholfstokke vat en alleen-alleen my dryf-, nader- en sethoue op ’n oop veldjie naby ons huis oefen. Dan, lank voor sononder, teruggaan om my posduiwe met mielies hoog uit die lug hok toe te lok; hulle pronkerig te sien vlerksleep by die wyfies wat eers kamma skrikkerig en skaampies padgee voor dit agterna tyd word vir hulle kop-onder-die-vlerk-slapie.

Op skool kon my onderwysers op my bekoorlike sopraanstem staatmaak wat die skare by sangwedstryde op hulle voete gebring het met ’n applous vir ’n weer so! Die dorp se mees kritiese musici het my sangtalent as ’n Godgegewe gawe beskou. Hulle het daarop aangedring dat my stem opgepas moes word, maar die onderwysers het dit uitgebuit.

Sondae se uitstappies saam met Mamma en Pappa na Die Venster toe was vir ons ’n hoogtepunt. Dis ’n klipformasie in die veldblommetuin waarvan ek nou nog nie moeg word om na te kyk nie. Op weg soontoe het kalkoentjies, roemenaggies en vygies elke lente die tuin verlewendig as die son op sy helderste was. Orgideë het ons hande-viervoet onder venushaarvarings laat deurkruip tot waar swane langs kabbelende watervalletjies in die reservoir in die skaduwees van bloekombome geswem het.

Elke somervakansie het ek, my ouer broer en ons twee sustertjies saam met my ma in Saldanhabaai gaan kuier. Nie ’n week het verbygegaan nie of my ma en ons tante het toegelaat dat ons en my neef in ’n bakkie saam met ’n opgeskote seun gaan visvang het. Een na die ander het ons korhane oor die bakkie se rand opgetrek. Tuis moes ons hulle skubbe afskraap, koppies en stertjies afkap, binnegoed uitsny tot die eetbare lengte, min of meer vanaf mens se polsgewrig tot by die elmboog, oorbly. Eers as ’n mens saans aan tafel vingertjies aflek en die viskrummeltjies met duim en wysvinger oppik tot die bord skoon is, besef ’n mens dit was die moeite werd. Ook kan ek nie die dae vergeet toe ons sonder toestemming dit tot binne ’n kring spits rotse gewaag het nie. Daar het dieselfde seun een roeispaan vir ’n oomblik laat droog drup in die bakkie, terwyl hy ’n klompie gulsige haaie, slegs die grootstes, getempteer het met stukke lokaas wat hy met die ander roeispaan in hulle oop bekke tussen hulle skerp tande tot in hulle kele gesteek het. Dit was ’n doldappere frats waarvan die grootmense nooit in der ewigheid moes uitvind nie.

Op rustiger dae het ons in die stilte van die Baai rondgevaar, klaar gekookte kreefpote en -borsies as afval by die kreeffabriek se hawehoof opgeskep en dan daarmee fees gevier. Terug Caledon toe, as die lokomotief soos ’n trae wipwaentjie teen die koringlande se heuwels swoeg, het ek stilweg met toe oë tevrede gedroom oor al ons pret in Saldanhabaai.

Ek het nog iets om te vertel. Dié keer oor ’n gebeurtenis kort voor my laaste skooljaar op Caledon en lank na die dae van viskrummeltjies.

Netjies uitgevat is ek saam met Oompie, vleinaam vir een van Caledon se Scholtze, vir ’n Paasnaweek Kaap toe. Dawie Hendricks was ’n medepassasier en hy’t langs Oompie op die voorste sitplek gesit, ek op die agterste met Wynand Bredenkamp, ’n kreupel man, wat in Botrivier by ons aangesluit het. Die rit stad toe was voorspoedig. Ek was daardie naweek tuis by tante Maria en oom Baas wat van Saldanhabaai af verhuis het.

Oompie het die Dinsdagoggend oorhaastig opgedaag vir die terugrit. Sonder verdere versuim is ons vierstuks daar weg onder die outydse seilkap. Alles het weer eens voorspoedig gegaan tot die motor ruk-ruk tot stilstand gekom het teen die eerste opdraand van Sir Lowry’s Pas, regoor twee donkiewaens waarmee petrol daardie dae in groot konkas van Somerset-Wes na Caledon vervoer is. Oompie het gou-gou uitgespring om ’n klip teen die linkerkant se agterwiel in te skuiwe, want sy handrem was glo nie van die beste nie. Hy’t die motor weer probeer aanskakel, maar kon dit verbrands nie aan die gang kry nie. Mismoedig het hy toe weer uitgeklim om die klip te verwyder. Hik-hik stotter die motor toe agteruit. Sy bevel aan Dawie om die voetrem vas te trap was noodlottig. Dawie het uit vrees, of wie weet wat, die rathefboom met die punt van sy skoen uit rat gestamp en toe uitgespring. Ek en Wynand, die kreupele, vasgevang op die agterste sitplek, het drie maal aan die binnekant saam met die motor van die pad af bolmakiesie geslaan. Wonderwerk bo wonderwerk het die motor met sy kap heel oopgeskeur na die derde bolmakiesieslag op sy vier wiele beland. Volgens Dawie en Oompie is eers Wynand in die lug in opgeskiet en ek het, miskien as gevolg van angs, bewusteloos kortpad gevat grond toe. Ek het eers bygekom toe my kop ’n skerp klip getref het en ek meteens besef het dat die motor waarin ek was na my aangerol kon kom. Dit was eers toe ek die motor hoër op, pad se kant toe, sien staan het dat ek voel-voel in die donker my hoed gekry het en gevoel het dat my kop bokant my oor aan’t bloei was. Oompie en Dawie was in ’n japtrap by my en, gerusgestel dat ek, behalwe vir die skrapie aan my kop, ongedeerd daarvan afgekom het, moes saamgaan om Wynand te kry. Hy’t heel bo in ’n denneboom beland. Sy opeenvolgende sugte het ons tot by die boom gebring. Die manne van die donkiewaens het kom help om hom af te kry.

Daardie aand was ons kop in een mus met die donkiewaens se manne. Die duusmans wat in bevel van die transportryers was, het op die grond onder die waens geslaap en ons saam met die werkers onder die sterrehemel. Hulle het ’n suikersakkie vol kaf gestop dat ek my kop bokant die seerplek daarop kon laat rus. Behalwe die nabyheid van donkiedrolle, donkiepis, sweetreuke van touleiers en die steiltes van die Pas vorentoe, was daar vir my niks meer om van bewus te wees nie as die geskitter van sterre, ver weg en onbereikbaar. Dit op sigself was meer as genoeg om my wakker te hou tot een van die donkies, waarskynlik agter die kaf aan, met sy voorpote amper op my kop getrap het en met sy gesnuif in my oor, my van angs laat uitroep het. Dawie het die uitgehongerde dier met ’n stok verwilder. Vroegoggend het die werkers die donkies ingespan om die motor tot in die pad te trek dat Oompie na die naaste motorhawe vrywiel kon ry. Daar het die voorman vasgestel dat die petroltenk dolleeg was. Dawie het geskerts dat Oompie se kop nog dronk was van sy lang naweek se vryery. Wynand was fiks genoeg om sonder ophou met Dawie te jil toe ons teen die Pas uit verby die donkiewaens jaag. Oompie het bek-af onder sy hoed gesit en brom en ek het met my hoed bo die toiings van die kap vir die touleiers totsiens gewaai.

Tuis het ek my skoolklere inderhaas aangetrek voor Mamma Oompie kon invlieg. Ek gaan liewer nou niks meer vertel van haar uitbarsting nie.

Die dae se suur en soet het verby gedraal en toe ek my kom kry, was dit regkrytyd om as onderwyser by Zonnebloem Kollege in Kaapstad opgelei te word en myself in te rig vir wat ook al die lewe my in die toekoms sou bied.

My ouer broer, ’n uithalerstudent, was in sy derde jaar op kollege toe ek by hom aangesluit het as ’n loseerder by die Lotters in Upper Ashleystraat. Ons huismoeder was tante Bettie, ’n niggie van my ma. Sy was ’n beeldskone mens met ’n groot moesie op haar linkerwang. Soos ’n asterisk op haar wang het dit haar goedhartigheid beklemtoon. Ewe-eens was oumoeder Lotter, haar skoonma, die een wat dit verseël het met ’n besorgdheid oor almal. Sy was byvoorbeeld baie besorgd toe ons een vakansiedag saam met ’n groepie skoolmaats teen die steiltes van Duiwelspiek, die groter een van Tafelberg se stutmaats, gaan piekniek hou het. Sy was ontsteld, want ’n portret wat jare lank in die gang gehang het, het gedurende die nag afgeval. Die draad waaraan dit gehang het, het met raam en glas onbeskadigd op die gangvloer gelê. Dit was volgens haar ’n voorteken dat iets tragies gaan gebeur.

Ongeërg is ons daar weg, elk met ’n rugsak vol kos. Met sy mandolien byderhand sou my broer sorg vir ’n bietjie plesier vir die groep wat sou saamsing en tiekiedraai. Alles het baie vrolik verloop tot by die kampplek. Nie lank nie of ’n vuurtjie was gereed vir koffie maak en ontbyt regkry. ’n Paar stuks wat ’n grot aan die bokant gaan bekyk het, was terug toe ons onrustig geword het oor my broer wat sy mandolien by sy rugsak gelos het om bossies toe te gaan. Toe ’n uur of wat verbygegaan het en hy nog nie terug was nie, het ons na hom gaan soek.

Die voorste span het al verbygeloop toe ek hom in ’n afdwaalpaadjie sien sit het. Beangs het ek hulle teruggeroep. Hy was doodsbleek. Hy kon nie praat of roer nie. Bloed het aan albei kante van sy kop langs sy nek afgestroom. Blitsvinnig het ons met dennehouttakke ’n draagbaar saamgeflans en hom bergaf gedra tot waar ’n bergwagter die bemanning van die naaste ambulans kon skakel om te kom help.

Heel verslae het ek later daardie middag met sy rugsak en myne nog vol kos by die huis aangekom. Ek het sy mandolien vir tante Bettie gegee om vas te hou voor ek begin verduidelik het wat ons vermoedens was. Hy het waarskynlik by die watervalletjie digby ons kampplek op ’n klip gegly toe hy ’n nerina wou pluk. Oumoeder Lotter het met haar hand voor haar mond gesê: "Daar is dit." Die dokters moes ’n operasie doen. Hulle het ’n deel van sy skedel bo die regteroor met ’n plaat vervang. My ouers het van Caledon af stad toe gejaag. Hy was ’n week later nog altyd in ’n koma.

Ons skoolhoof het by elke oggendbyeenkoms in die binneplaas vir hom gebid. Ek het elke oggend tussen die klomp studente na die skoolhoof se gebede bly staan en luister. Dit het in my ore gedreun tot dit my van binne verskeur het.

Hy’t bo verwagting herstel, sy laaste jaar op kollege voltooi en ’n betrekking as ’n laerskoolonderwyser in Kollekoelanie op die grens van Betsjoeanaland aanvaar. My ouers het hom bederf deur alles wat hy gevra het vir hom te stuur. Met jokkiepet, rybroek, saal, peits en ’n gehuurde perd het hy die stof van Kollekoelanie laat waai tot by die Moloporivier. Beurtelings het hy later betrekkings aanvaar in Mbabane in Swaziland, toe in Groenrivier in Suidwes-Afrika. As jongmens in wildvreemde omgewings kon niemand sy swerflus ooit kalmeer nie. Soos ’n pot wat oorkook, het hy aan borrel gebly tot sy swerwerslewe jare later in Kaapstad tot bedaring gekom het.

Terug op die lewenstrapmeul: Voor ek klaar was met my jare op kollege, het ek verlief geraak op ’n dametjie van Walmer Landgoed aan die voet van Tafelberg, en hoe ligsinnig die grootmense en my maats my ook al daaroor gekoggel het, is dit tot vandag toe natuurlik net ek alleen wat onthou hoe my eerste goedgemikte soentjie my maag bolmakiesie laat slaan het. Ons het agterna gereeld vir mekaar geskrywe en sy’t getrou vir my toutjiesmeel gestuur toe ek vir myself in Calvinia moes kos maak, maar ongelukkig het ek nie besef dat haar liefde vir my, ver weg in die yskoue Hantam, verflou het en dat ek vir haar niks anders geword het as ’n stille Putsonderwater waarin geen duiweltjies, diep genoeg ondergronds, gedwaal het nie.

Wag. Ek moet seker eers vertel van ’n laaste soetigheid op Caledon. Daar was ’n prieel aan die agterkant van ons huis. Mamma het my altyd ernstig laat belowe om die druiwe deeglik onder ons buitekraan af te spoel voor ek daarmee op die kombuisdak klim. Behalwe die druiwe wat ek langs die warm skoorsteen gesmul het, het ek ook met dagdrome my vrye tyd daar geniet en een maal per week geluister na die vliegtuig wat dofweg onder die boggel van die uitspansel verby gedreun het. Met die gekraak van elke korrel onder my tande kon ek my soetste mymeringe oor hawens soos New York, Rio de Janeiro en Rotterdam proe.

Wreed ontnugter moes ek dan, soos gewoonlik, aanstaltes maak sodra Mamma roep: "Pietman! Hoor jy nie die vishoring nie? Gaan koop vir ons ’n geelbek of steenbras as dit nie te duur is nie. Dis byna tyd vir jou pa om te kom eet. Hy’s moeg, my kind, en sy winkelbediende moet ook huis toe gaan. Daar blaas die ou vishandelaar al weer op sy nare ou vishoring. Jy weet mos hy bly so aanhou kerm as daar nie genoeg kopers in sy viswinkel is nie. Kom nou, Pietman. Daar sal môre nog altyd druiwe wees. Die soetstes wag mos soos altyd vir jou in die heel laaste tros."

PJ Philander, skoolhoof op Genadedal (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Calvinia

(Tweede skyfie)

Wat die res van die lewe vir my sou inhou, het soos volg op Calvinia begin. Vir die grootste deel van ses maande moes ek eers sy koue winter, daarna ’n voorsmakie van sy somerhitte verduur.

Daarna het ek my vingers gaan verbrand in Plettenbergbaai waar ek as hulponderwyser vir laerskoolklasse aangestel is.

En toe?

"Skaam jou, Liesie. Kry end met jou storie oor Altjie. Ek sal wat wil gee om so ’n liewe dogter te hê. Sy’s ’n onderwyseres van die eerste water. Haar straftyd is haas verby. Die skoolhoof van haar vorige skool wil haar weer hê. Die ouers ook. Vir wat bly jy kerm? Sy’s deur en deur nog ’n kans werd."

"Dis maklik vir jou om so te sê, Bet. Ek en Dolf kan nou nog nie daaroor kom nie. Sy’t met hom hier aangekom in sy blink motor. Gedink hy’s wonderlik. Eers agterna uitgevind hy’s ’n getroude man."

"Bly stil, Liesie. Dis dinge wat toeka al gebeur het. Van lank voor daar motors was. Sy’t ’n fout begaan. Niemand is sonder foute nie. Kyk net na hierdie klomp wasgoed. Kyk veral na die wit mense s’n. Soms moet ’n mens drie maal inseep, was en uitspoel voor ’n mens ’n saadvlek uitgevrywe kry en dit daarna nog boonop in die son op bleik laat lê."

Nie lank nie of ’n middagwindjie poep in die broekspype en die hempsmoue kry stuiptrekkings. Later word die kussingslope soos kopdoeke van die renosterbossies afgehaal en saam met dubbelbedlakens vasgeknoop voor die wasvrouens soos drommedarisse met boggels op hulle rûe daarmee dorp toe stap.

Rondom die wasplek is dit doodstil, behalwe vir die voortdurende geborrel van die fontein aan die bokant waarvandaan ’n warmwaterspruit algaande teen die rantjie af ’n laag vuil roes agterlaat voor dit in die wasdam in loop. Volgens Liesie is die jong niks beter as dieselfde soort roes warmee hy Altjie se lewe besoedel het nie.

Liesie is begryplik ook die josie in, want juis die einste gespuis wat agter ons loop, weet dat Dolf, haar man, saans agteraf met een van die dorp se hoere jol. Dwarsdeur die vooraand kwel hierdie gedagte haar en soos ’n broeis hen wat langs ’n yskoue neseier warmte soek, bly sy rusteloos rondrol tot die horlosie tienuur slaan. Dis Dolf wat dan die voordeur suutjies agter hom toemaak; by haar voete kniel; sy gebedjie prewel; stilletjies langs haar inkruip; sy kop toetrek en dan begin snork soos ’n vark wat nooit genoeg uit sy eie trog kry nie.

Die weeklikse wasdag is verby. Dis al weer Dinsdag en met elke skelwoord uit haar ma se mond drup Altjie se trane op die warm strykyster. Traan vir traan verdamp haar naberou op die yster wat in plaas van ’n broek se gulp plat te stryk dit meer en meer skroei terwyl haar ma al bitsiger op haar skel: "Gemors van ’n affêre! Goddank kleinding weet nie van wie en waarvan ek praat nie. "

Dis haar baba se drinktyd en dis haar pa wat nou voor stok gekry moet word. Altjie ken die roetine.

"Jy’t kamstig weer domino’s gespeel in oom Hennie se winkel gistraand. Of hoe sê ek?"

"Ja. Die ou baasspeler het my weer keer op keer van die bord afgevreet. Hy’t my kaal gevreet.

"Kaal gevreet? Moenie doekies omdraai nie. Erken. Was dit weer dieselfde ou meid gisteraand?"

"Jy vis op droë grond, Liesie."

Sy weet goed genoeg hy kan nie erger bloos nie. Doer in die diepsee agter kabeljoue aan het die son hom vandag nog bruiner verbrand en tog het hy niks meer om te bewys vir sy moeite nie as net ’n paar witvissies, swartbaars en hotnotjies. Doodonskuldig suig die baba aan Altjie se bors totdat dit leeg is en sy hom onder haar bloese laat doedoe. Dis kort voor sononder en vir vandag is Liesie min of meer uitgewoed. Die strykgoed lê netjies opgevou in stapels op die voorstoeptafel en snuffel-snuffel kom oom Tom van oorkant die pad aangestap met ’n galjoen in sy hand.

"Vat so, ou niggie. Altjie kan dit nou enige tyd op my kole kom braai vir julle aandete. Ek het ’n klompie van jou rots af hier onder by die ’Lookout’ gevang. Kyk so. Mooi groot, nè? Maar van die os op die esel, hoe gaan dit met julle kleinkind?"

"Hy word môre gedoop. En mastig, voor ek vergeet, dankie vir die galjoen. Altjie kan dit later kom braai. Sy moet eers haar stomme bloedjie in die bed kry. Ek sal vir jou ’n paar snye van my varsgebakte growwebrood saamstuur om die galjoenvet daarmee af te sluk. Rustige nag, Tom."

Dis Sondag. Die kerkorrel dreun om elke straathoek van die vissersdorpie en op die kerktoring staan ’n haan asof dit uitkraai: "God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees." Met die seën is Ronald Harker gedoop. Buite langs die ingangpaadjie onder die klipboog het klompe nuuskierige agies hom kom bekyk voor Altjie met hom in sy pragtige sjaal aangestap het huis toe.

Wat haar betref, kon mense maar agteraf dink en sê wat hulle wou, maar vir haar was daar iets heilsaams in haar verhouding met haar ouers. Haars insiens het dit die vuur in haar ma se tong minder skroeiend gemaak. En omdat sy as onderwyseres gestroop was van haar status en salaris, was sy gedwee om al die verwyte te verduur en vir nog ’n jaar aspoestertjie te wees.

Op daardie stadium het ek aangekom as plaasvervanger vir ’n hulponderwyser wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog as soldaat in Egipte diens gedoen het. Myns insiens was Altjie innerlik volwassener en uiterlik aantrekliker as al die ander meisies daar rond. Die geskel van haar ma het vir my meer as vir haar gesteur. Dit het gelei tot uitstappies langs die strand om die woede van haar ma te vermy. As troetelpaar het ons gevolglik elke Sondagmiddag skuiling gevind agter ’n sandduin alhoewel die dreuning van dreigende golwe teen ruwe rotse aan die voorkant oorverdowend was. Mettertyd het ek die gunsteling van haar ma geword. Sy’t my bo haar eie kinders gekies om vir haar ouers op Pacaltsdorp briewe te skrywe. Eers later het ek agtergekom dat haar ma nie skoolgegaan het nie. Ek was jammer vir haar en kon des te meer haar skok verstaan toe sy maande later kon sien dat haar slimste kind weer swanger was. Dié keer verwagtend met ’n kind van my.

Ek het ’n voorgevoel gehad dis klaarpraat met my, nieteenstaande die ooreenkoms dat ek my ouers se toestemming moes gaan vra om te trou, dan moes terugkom, aansoek moes doen om ’n ander betrekking en dan dadelik saam met Altjie moes padgee as ek een aangebied word. Swaar soos dit was om so iets aan my ouers te vertel, het ek tog daarin geslaag om met melkbaardjies en al as twintigjarige hulle toestemming te kry om in ’n magistraatshof in Kaapstad te trou.

"Dis jou doodvonnis." So het oom Tom dit gestel toe hy te hore kom dat ek eers die skoolbestuurder moes gaan spreek voor ek weer voet in die skool mag sit. Sonder om doekies om te draai het die bestuurder my ingelig dat ma Liesie namens die familie my mistrap gaan rapporteer het en dat hy as bestuurder verplig was om my dadelik te ontslaan.

Ek, oombliklik ontslaan? Oombliklik sonder salaris? Hoe nou? Ek het kispak, beste paar skoene en warm jas vir ’n appel en ’n ei verkoop om vir ons twee hondeklastreinkaartjies Kaapstad toe te koop.

Dit was douvoordag toe ons teen Hanoverstraat se steilte uitsukkel, plek-plek op ’n sypaadjie talm om Altjie kans te gee om op haar reiskoffertjie te rus voor ek einde ten laaste aan my neef se voordeurtjie in die agterplaas van ’n deftige woonhuis in Walmer Landgoed geklop het. Blas soos my neef is, was hy plotseling bleek van die skrik. Nog bleker toe hy van my verknorsing hoor.

Die troue agter die rug het ek een oggend na ontbyt van winkeldeur tot winkeldeur gestap om werk te soek. ’n Kroegeienaar het, voor hy nee gesê het, eers sarkasties gevra: "Jy wil ’n kroegman wees, jou eie bankie bring om agter die toonbank op te staan sodat die klante jou kan sien? Skoorsoekers uitsit as dit nodig is?" En toe het hy geblaf: "Gaan weg, snuiter!"

Na nog ’n week van verydeling het ek my een oggend vasgeloop teen ’n vriend van my pa. Reg genoeg. Hy moes groete oordra aan my ouers, maar ek het meteens besef my ma sou nooit rus voor sy my opgespoor het nie. Heel ontmoedig stap ek toe tot by die vismark waar ’n kreef aan spartel was om los te kom van die klomp wat in ’n visskottel oorhoeks geraak het. Nie lank nie of woeps beland hy onder ’n skraapsel geelstertskubbe voor ’n viswyf hom in die visskottel terugsmyt.

Meer rustig verkyk ek my toe aan die oesters wat soos die korse van rogbrode aan die binnekant van klein skulpies vassit. My bekoring bereik toe ’n hoogtepunt by die vismandjies vol perlemoene wat soos die hoewe van koetsperde op ’n klipvloer van ’n stal tot rus gekom het.

Gedurende die tydjie wat oor was voor die winkels sou sluit, het ek begoël geraak deur al die goue en diamantringe tot ek, na ek in elke sak van my gesoek het, met slegs ’n rafeltjie swart gare vorendag kon kom. Daarna het die oordadigheid van karmosyn, hoogrooipurper, borriegeel en komkommergroen van nog edelstene my oopmond laat staan voor die laaste winkelvenster.

Toe ek die voordeurtjie van die vertrekkie in die agterplaas van die deftige huis oopmaak, hoor ek Altjie kreun. Daar was net harmansdrup in die medisynekassie. Dit was alreeds die tweede teelepeltjievol wat sy gesluk het. Niks wou help vir die pyne nie.

Dit was eers na die aandete wat my neef gebring het dat Altjie weer geglimlag het en ons kon verseker dat sy ’n honderd maal beter voel. Dit was wel ’n skatlike maanskynaand, maar sy wou liewer op ’n ander aand na die sierstene gaan kyk.

Die dag daarna het ons albei verslaap. Eers na nog ’n harde klop aan die voordeurtjie en eers nadat my ergste bedwelmdheid oor was, het ek rigting gekry. Genugtig! Dit was jou waarlik Mamma, tant Maria en oom Baas wat voor my gestaan het toe ek die deurtjie oopmaak. Hulle het gegis dat daar niemand anders sou wees as Foks en Pietie Mike by wie ons herberg sou soek nie. Na hulle Altjie se toestand in een oogopslag opgesom het, het hulle gewag tot ons reg was om te vertrek.

Toe die kanonskoot twaalfuur op die kop van Duiwelspiek af donder, was ek en Altjie op die agterste sitplek en Mamma op die voorste langs oom Aainie Kleinschmidt in sy huurmotor op weg na Caledon. Aan die voet van Sir Lowry’s Pas het oom Aainie stilgehou vir brandstof. Die petieterige seun by die petrolpomp het my herken. Ons was dikwels saam joggies op Caledon. Toe hy klaar was, het hy ewe beleefd sy hoed gelig vir Altjie en gevra of sy die gelukkige bruidjie is.

Oom Aainie het hom ’n ligte skoppie onder sy stert gegee en ’n trippens in sy hand gestop. Die Chevroletjie het kleingeld gemaak van die pas, maar was effens aan’t kook toe ons op die hoogste punt stilhou. Altjie was gespanne. Ek kon dit voel aan haar hand wat myne styf vasgehou het. Mamma het haarself effentjies reggeskud soos ’n hen wat haar kuikentjies wou beskerm.

Dit was vir my iets ongehoords om sonder inkomste terug te wees onder my ouers se dak en dit boonop met ’n skoondogter vir hulle. Hoewel dit waar is dat ’n mens nooit vir jou ouers ’n las sal word nie omdat hulle sorgsaamheid net liefde as basis het, dink ’n mens op so ’n tydstip aan niks anders nie as die haglike toestand waarin jy jouself bevind.

Daardie eerste aand kon ek nie slaap nie. Altjie het voor twaalf wakker geskrik van die gemiaau van ’n klomp katte wat bronstig op ons dak kattemaai en daarna weer van die geraas van vuilgoeddromme wat straatlangs deur die wind rondgewaai is. Wat ook al? Sy kon haarself volstrek nie oriënteer nie.

Toe die melk afgelewer word, was dit opstaantyd. My werk was oornag vir my beplan. Ek moes groen piesangs in my pa se winkel tussen koerantpapier in houtbalies pak om ryp te word, in ’n agterkamer sop opwarm vir plaasvrouens tot hulle mans wat kroeg toe was vir opknappertjies, teruggekom het met sleeptonge en oorskietgeldjies vir hulle kleingoed se lekkers.

Na sulke besige Saterdae in die winkel het ons Sondae met Pappa-hulle saamgestap tot by die Hel waar papkuil die water probeer koel waai het. Voor ek verveeld kon raak van die roetine is ek op aanbeveling van die Engelse kerkskool se hoof, meneer Pheiffer, deur die Departement van Onderwys goedgekeur as hulponderwyser op Hawston.

Gedurende my dienstydjie daar het ek weer aansoek gedoen Calvinia toe om ’n betrekking by die Esau Gedenkskool en die betrekking gekry. Omdat daar nie ’n huurhuis beskikbaar was nie, het Altjie op Caledon agtergebly. Haar verblyf daar was vol haakplekke totdat George gebore is. Die bevalling het goed verloop, maar weke na sy geboorte het ons hom byna verloor as gevolg van dubbele longontsteking. Na die spanning was Altjie een aand, terwyl sy hom gebad het, in psigiese verbinding met my oorlede broer. Sy boodskap was dat sy by my op Calvinia moes aansluit.

Nadat ek ’n slaapkamer by een van die dorpsgesinne gehuur het, het sy en George een Vrydag aangekom. Later, toe ons verskuif het na oupa Daantjie se huis waar ons meer ruimte gehad het, is ons tweede seun, Dennis, gebore. Met twee sulke skattebolle het Altjie haar hande byna te vol gehad, maar met die hulp van ’n bediende kon sy byhou.

Twee jaar later, toe ons skoolhoof stad toe vertrek het, is ek as skoolhoof aangestel. Altjie was weer verwagtend en Mamma het aangedring dat sy met ons seuns Caledon toe moes kom sodat ek meer tyd kon hê om die huis wat vir my as skoolhoof beskikbaar was, meer bewoonbaar te maak. Daar was baie werk, maar ons buurman, Dawie Henderson, het in sy vrye tyd kom help. Na al die timmer-, wit- en verfwerk was die huis eindelik piekfyn. Die plafonne, gemaak van goiingsak wat ons styf gespan het en toe met kalkwater gewit het, het al die vertrekke gevrywaar teen die voorheense gesweet van die kaal sinkdak gedurende die Hantam se koue winters. Die spykers waarmee ons dit aan die dakbalke vasgekap het, het met hulle koperkoppe dit verfraai en die tapytbedekte sit- en slaapkamervloere saam met vloer-, plafonlyste en beskotte het ’n warm huislikheid verskaf wat ons as ’n gesin geheel en al laat tuis voel het. Peter, ons jongste seun, het, met ons al agter hom aan, ons elke keer laat skaterlag as hy begin steier het en aan ’n sitkamerstoel vasgehou het om deur die rugsportjies se kykgate ons kant toe te loer.

"Geluk en ongeluk woon onder een dak." Ook dié sêgoedjie van oupa Daantjie het vir ons ’n waarheid geword. Die Esau-familie het hulle opgeruk oor my aanstelling, hoofsaaklik omdat ons kategis hulle verseker het dat ’n neef van hulle aangestel sou word en nie ek nie. Wat begin het as ’n familieprotes, het gou-gou ’n uitgebreide opstand geword wat ’n voorwaarde gestel het dat die betrekking weer in die Onderwysgaset geadverteer sou word.

Ons bestuurder het in plaas van om, soos die gebruik was, ons kategis te raadpleeg oor wie aangestel moes word, dit oorgelaat aan die Aartsbiskop wat my finaal benoem het as die toekomstige skoolhoof.

Omdat die fiasko wat daarop gevolg het gans te walglik is om te herhaal, vra ek om verskoning dat ek tog die atmosfeer van daardie dae herskep deur ’n paar belaglike voorvalletjies te noem. Aaintjie Gous, ’n NGK-ouderlingsvrou, het eendag toe ek by haar verbygegaan het, my kant toe geskimp: "Hy wil hom hoeka wat verbeel. Selfs sy hondjie wat straatlangs elke tefie besnuiwe moet ‘Mister’ genoem word.” lets anders: Die belhamel van hulle groep het een aand hardop uit sy motor na my oop venster se kant toe gebulder: "Kry ek jou een aand op straat, skiet ek jou vrek!" Enkele aande later het hy drie van sy aanhangers dronk gemaak om ons skool se dineedans te laat misluk. Een van die onbeskofstes wou die vioolspeler se strykstok breek, ’n ander vent wou een speler se kitaarbak beskadig. Die derde een het die glasbakke vol kos, aangedra van ’n buurvrou se huis af, in die straat stukkend gesmyt. Dit het woes gegaan daardie aand.

Altjie het gesoebat dat ek moet verkas. Terug van die paglande af het ek ’n paar Sondae later besluit om aansoek te doen om ’n betrekking in die Boland. Toe ek Altjie vra wat sy omtrent my besluit dink, het sy spontaan saamgestem en praat-praat daaroor het ons in die aandskemerte huis toe gestap.

Om die einde van die kwartaal se gedrang van passasiers te vermy, het Altjie en ons kinders ’n week voor die skole gesluit het, Caledon toe vertrek. ’n Week later sou ek in die gedrang vasgevang gewees het, was dit nie dat die kondukteur op Klawerstasie my ’n onbesette koepee gegun het nie. Ek het myself verlustig in die luuksheid van die fluweelsagte bank waarop ek my kon uitstrek terwyl die gedruis in die kompartement langsaan gegaan het oor sopies wat al kleiner en kleiner geword het tot die tonge van die suiplappe begin sleep het oor wie die droesem moes kry.

In die verte het die gesigseinders my laat dink aan hoe alles in die lewe bly verander. Ek het myself begin afvra wat van Petrus, my gebreklike huurder van die stoepkamer sou word. Sou die nuwe skoolhoof hom as ’n huurder van die stoepkamertjie wou behou? Sou hy Petrus, gebreklik soos hy ook al is, elke werksdag wou sien werk toe sukkel in ’n vierwielwaentjie; hom saans na werk die dag sou wou hoor, en snags na ’n beter holtetjie vir sy bolyfie in sy matrassie soek? Dis toe dat ek my verbeel dat ek oom Tom ewe wysgerig uit die Bybel hoor aanhaal: "Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs."

Ek het weer die brief gelees wat oupa Daantjie bus toe gebring het toe hy saam met Kallie en Petrus vir my tot siens kom sê het by die poskantoor:

Treurmarestraat 1

Calvinia.

Meester

Gee asseblief die ring tussen die watte vir Joe.* Daar is geen haas hiermee nie. Dit kan wag tot jy hom gaan besoek. Sê vir hom dis van my. Jy’s nader aan hom as ek. Vertel hom hoe pynlik die letsels op my rug word en sê vir hom my skuldgevoel oor hom is met tye net so pynlik. Dis ’n ring wat Abraham Esau my gegee het. Hy moet dit dra en trots voel oor Abraham Esau, al kan hy nie oor my so voel nie. Hou dit vir jouself as hy dit nie wil hê nie.

Oupa Daantjie.

* Joe: ’n Buite-egtelike kind van oupa Daantjie en ’n dierbare vriend van my op Malmesbury.

Dit was ’n onbillike versoek, want wie weet wanneer ek ’n kans sou hê om Malmesbury toe te gaan? Al waarvan ek op daardie oomblik ten volle bewus was, was dat ná Sir Lowry’s Pas die uitgestrekte denneplantasies my sal laat besef dat al Calvinia se dorheid agter die rug is en dat tatgai, kambro en hotnotskool nie hond kan haaraf maak met groenboontjiebredie, afval en kerrieboontjies nie. En nêrens elders as op Caledon is nooientjiesbloos, speldekussings en proteas te kry nie. ]a, "al die veld is vrolik ..." Dis die beeld wat ek enduit van Caledon wil behou.

Boonop het die wind aan die wolke bly torring tot die potblou lug bo die hange van Hauwhoekpas gekoepel het as die trein wieletjie vir wieletjie om die draaie agter sy rook aan swenk voor dit die smal treinbruggie aandurf, bo-oor die stroom wat die bruin klippe ver onder spierwit spat met sy watergolfies.

By Klipheuwel het ek naby die einde van my laaste treinreis uit Calvinia gekom. Ek het begin regmaak om my goed deur die venster vir oom Aainie aan te gee. As hy maar geweet het hoe min bagasie ek het, kon hy vir Altjie en die kinders saamgebring het om my te verwelkom. Ja, hy’t hulle die vorige week huis toe gery. Hulle het grootgeword vandat hy hulle laas gesien het. Hulle ouma, soos altyd, was die hele week voor hulle aankoms druk besig om alles netjies te maak.

"]y ken haar. Al die beddens in die kamers vir die kinders en die een in julle kamer moes skoon oorgetrek word en Potkoek kon nie sy draaie kry in die tuin nie.” Hoe hy hom ook al vererg het oor al die gewerskaf, moes hy elke onkruidjie in die tuin vanaf die agter- tot by die voorhekkie uittrek.

Daardie aand was alles uiteindelik rustig en dit was slapenstyd sonder die geskommel en getiktak van die trein.

Maar daar is nog iets om te vertel omtrent Calvinia: Ons leraar se gemeente het Clanwilliam, Loeriesfontein en Sakrivier ingesluit. Elke vierde week het hy ons gemeente bedien. Alle ander tye moes ek as kategis, na die vorige kategis bedank het weens sy misnoeë oor my aanstelling, Woensdae se bidure en Sondae se dienste waarneem.

Sondae was die kerk altyd stampvol. Uit New Town, ongeveer ’n halfuur se stap kerk toe, het oumense met die hulp van kieries hulle agterwêrelde soos oorgroot pan- en potdeksels op en af gelig. Doodmoeg kon hulle dan nie vir die eerste gesang en gebed opstaan of kniel nie.

As die winterweer Woensdagaande te bitter koud was vir die oumense, was dit net ek en Dawie Henderson wat hulle in die kerk in gebed opgedra het. Op pad huis toe na die biduur het Dawie my aljimmers vertel dat hy my nie genoeg kon bedank vir sy bekering nie. Eers het hy glo alleenlik my dienste bygewoon omdat hy ’n vriend in my gevind het, maar later het die begeerte om kerk by te woon vir hom ’n dryfkrag van bo geword.

Na een van die Lydensweek se dienste het hy in die garage waar hy gewerk het, sy arm beseer toe dit vasgeknel geraak het tussen ’n motor se onderstel en die hyser. Weens bene wat in sy regterarm gebreek was, van die skouer af tot by die polsgewrig, moes hy dit gespalk in ’n slinger dra.

Op Hemelvaartsdag is hy begrawe. Die verslag na die lykskouing het gelui dat hy aan ’n hartaanval dood is as gevolg van ’n bloedklont. Die geneesheer het waarskynlik nie rekening gehou met so ’n noodlottige nadraai van die besering nie.

Dawie se drie wesies het niks anders as hulle ma se rok gehad om aan vas te hou nie toe hulle van die kerkhof af in die geniepsige windjie wat stofwolkies om hulle laat warrel het, huis toe gestap het.

Foto geneem tydens die tydperk wat PJ Philander skoolhoof was in Genadedal (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Genadendal

(Derde skyfie)

Ons het onsself wysgemaak dat Genadendal vir ons vol genade sal wees, nieteenstaande die feit dat Johnnie Beukes wat saam met my onderwys gegee het op Calvinia, lief was om te maan: "Hokaai, mense! Die uitvind lê ver vorentoe." Berg- en Klippiestraat kom op Die Werf vlak voor die Morawiese kerk bymekaar. Tussen die twee strate is die Vleituine waar houtstutte elke jaar op aandag staan gemaak word vir die ranke van groenboontjies en waar skorsiepitte, aartappelmoere en uie geplant word.

Alleenlik Morawiërs is geregtig op boupersele teen die skuinstes aan weerskante van die twee hoofstrate vir hulle huisies met ouderwetse wolfneusgewels. Ook slegs hulle is geregtig op ’n deel van die dennebos om winters daar hout te kap vir hulle kaggelvure.

Ek het bevoorreg gevoel toe ek losiesplek kry by oom Marcus en tant Maria Cloete. Alles omtrent die twee liewe vriende kom staan nou nog helder voor my in die gees asof dit gister was wat ons op hulle voorstoep in die skaduwee van ’n eeu oue akkerboom gesit en ginnegaap het. By hulle het ek weer, heel anders as op Calvinia, dieselfde verfyndheid teëgekom waarmee ek op Caledon grootgemaak is.

Na ontbyt het oom Marcus na sy werk toe gestap om die dorp van broodmeel te voorsien. Oudergewoonte het hy op weg elke winteroggend kortliks in oom Joe Pheiffer se smidswinkel vertoef om sy hande by die blaasbalk se vuurherd warm te vrywe.

Dit was my gebruik om smiddae met ’n leesboek op die grasperk agter die Cloetes se huis te ontspan. Nie lank nie of ek kon die kerkklok se slae duidelik hoor. Dan het ek regop gestaan om myself eers met my verkyker aan ’n begrafnisstoet te verkyk. ’n Doodsklok is nie iets waarna mens graag wil luister nie, nog minder as, soos op Genadendal, sy eggo’s van Grootkop af helder oor die dorp teruggalm kerkhof toe. Miskien is dit daarom dat ek verkies het om veral Vrydagmiddae Wonderklippe se hoogtes aan te pak om ’n paar veldblommetjies te pluk vir Altjie en ons kinders wat voorlopig by my ouers op Caledon gebly het.

Oom Marcus en tant Maria was bly toe hulle my uiteindelik kon verseker dat ’n vriend van hulle wat in Kaapstad woon, sy vakansiehuis, Cornelia, in Klippiestraat aan my sou verhuur. Dis waar Elsa, ons enigste dogtertjie, gebore is. Seffie Human het my geneem na ’n deel van Die Kloof, wat my oortuig het dat dit die bloedrooiste en mooiste nerinas in Wes-Kaapland het. Altjie was nog met Elsa in die kraambed toe ek tuis kom met ’n handjievol daarvan.

Een aand het ek ’n man op die solder hoor loop. Ek het ’n besem in die kombuis gaan haal, met die stok heen en weer teen die spaansrietplafon geratel en begin dak toe skel. ’n Emmer het waarskynlik uit sy hand geval en ek het hom haastig na die solderdeur toe hoor stap. Daarna was alles tjoepstil.

Altjie het my voorheen vertel van ’n man wat soms helder oordag aan die binnekant van die kombuisdeur hom staan en hom aan haar verkyk het asof sy ’n indringer is. Volgens ons buurman was Cornelia voorheen ’n waenhuis en was dit die gewoonte van die eerste eienaar om saans sy perde se voer in die solder te gaan haal.

Altjie was op die daad nie langer lus vir so ’n spookhuis nie. Sy was vasbeslote dat ons ’n plek vir ons op Greyton moes koop en ’n maand later was ons daar gevestig. Hendrik, ons buurman, was na sy werksure ons tuinier, sy vrou, Fredrieka, ons bediende, en Jakoos ’n maat vir George, Dennis en Peter. Aan die bokant digby ons huis was ’n waterstroom wat Hendrik voorsien het van al die leiwater wat hy vir ons spogtuin nodig gehad het. Reg rondom was ons ingekamp deur ’n kweperheining. Ons het van die mooiste borriekwepers vir my pa gestuur om in sy winkel te verkoop. Saam met my ma se voorraad uit haar groentetuin het ook ons Pappa van groente help voorsien. Alles het vlot verloop tot ek een middag tuis gekom het toe Altjie vir Peter en Jakoos moes aankla dat hulle my bosduiwe uit die draadkou losgelaat het. Hulle het gedink die duiwe sou vanselfsprekend uit die koue wind terugkom kou toe.

Dit was nie die ergste nie. Elsa het daardie naweek siek geword. Die geneesheer het haar siekte verkeerd gediagnoseer. Eers het hy haar behandel vir griep, toe vir inflammasie en Sondagaand vir longontsteking. Maandagoggend was sy te siek vir woorde. Ons het ingewillig dat sy na Caledon se hospitaal toe moes gaan en die dokter het aangebied om ons soontoe te ry. Ek het haar op die voorste sitplek in my arms vasgehou en toe ons by Helshoogte teen 70 myl per uur afdraand haas, het haar ogies gebreek. Vir die eerste keer in my lewe het ek die dood aanskou. Soos Altjie se Chinese ligblou teekoppies het haar ogies fyn krakies gekry. Ek het die dokter op sy knie getik. Hy’t in ’n stofwolk stilgehou, sy gehoorbuis gebruik en na ’n rukkie met ’n sug dit om sy nek gebêre. Altjie was verpletter. Sy’t ons kindjie gekry om op die agtersitplek in haar arms vas te hou. Mamma het haarself boeglam geskrik toe Altjie onverwags by die voordeur instap met Elsa se lykie. Die lykskouing het bevestig dat dit witseerkeel was. Ons moes almal – Hendrik, Fredrieka en Jakoos ook – vir inspuitings gaan.

Twee dae daarna by haar graffie het my gemoed vir die hoeveelste keer saam met Altjie s’n weer vol geskiet. Soos deur vroegoggendmis het ons die klompie kransies wat gemaak was van papawers, purperwinde en vergeet-my-nietjies sien wegdrup saam met ons trane op die afgeskuinste sye van haar graffie tot waar ’n houtkruisie aan haar koppenent op wag bly staan het.

Toe die koster die ysterhekkie agter ons toetrek, het ek, Altjie, ons seuntjies, my ma en pa, hand aan hand en met die kerkhofstilte in ons harte huis toe gestap.

Smiddae na skool het ek Altjie dikwels kom kry waar sy alleen op ons agterstoep sit as ons span saam met Jakoos in die gruispad by ons voordeur albaster speel. Met die skooltas in my regterhand en linkerhand op haar skouer, het ek dan langs haar kom staan en na die sneeu gekyk wat op Greyton se donkerblou berge stadigies smelt en spierwit al dieper in die afgrond in trippel om die opvangdam se spieëlgladde watervlak aan die onderent te verfrommel.

Maande later het Fredrieka geboorte gegee aan ’n dogtertjie. Sy’t gevra of ons sal omgee as sy haar Elsa noem. Altjie was aan’t huil toe ek daardie aand nadat ek die varke akkers gaan gee het, terugkom en langs haar in ons slaapkamer kom staan het.

Sy het Elsa se laai oopgetrek gehad en haar kleertjies in die bababedjie vir Fredrieka se dogtertjie begin pak. Die kinderkappie van wit wol, deur Altjie self gebrei en waarvoor Mamma die oulikste randjie van die mooiste ligrooi tussorsy gehekel het, het Altjie om die bol van haar vuis gewentel tot sy dit, soos in ’n poppespel, in haar skoot laat val het en toe net gehuil en gehuil het.

Dit was niemand anders as tant Maria wat vir Altjie na ’n lang loop oor die heuwels tussen Genadendal en Greyton kom troos het nie. Sy’t nie net trooswoorde gebring nie, maar ook haar arm wat moederlik kon paai. En wie anders as oom Marcus kon ’n mansmens se verskuilde droefheid raaksien toe hy my eendag nader gewink het. Ek was na ’n verlengde etensuur aan terugstap skool toe. Hy’t my op ’n staptoertjie geneem om die meul te besigtig. By die yslike draaiwiel het hy begin verduidelik hoe vriende van ’n leraar, lank voor die heer Schmidt se tyd, die sterk meulstroom van Baviaansrivier af aangekeer het om die meulwiel te draai.

Hy’t my toe binnegenooi om die ingewikkelde versameling van die Hernhutters se ratwerk te aanskou tot waar ’n vere-arm die meulstene draai. Die gladgeslypte granietstene het my herinner aan oom Tom wat dikwels gesê het: "Die maalstene van God maal stadig, maar baie fyn. "

Altjie se leed het my laat besluit ek moet aansoek doen om elders ’n betrekking te kry ten spyte van die spesiale assistentskap wat my na Elsa se dood op Genadendal aangebied is. My laataand kuiertjies by ons skoolhoof het Altjie nog meer eensaam laat voel. Ook dit het end gekry toe my kollegas agteraf my kanse gedwarsboom het om aangestel te word as hoof van die Hoërskool Emil Weder. Afgesien van die teleurstelling het daar tog iets goeds ons kant toe gekom toe ek aangestel is as hoof van Malmesbury se pasgestigte sekondêre skool.

Na my vertrek Malmesbury toe het Hendrik die laaste boerpampoene, skorsies, groenboontjies, uie en aartappels na Pappa se winkel toe gestuur. En meer as ooit tevore het ons huisie gans verlate gelyk met sy geel kanferfoeliebloeisels aan die voorkant en sy bloedrooi granaatbloeisels aan die agterkant. Daarvandaan tot teenaan die kweperheining verby die varkhokke het ons voetpaadjie dowwer geword soos die onkruid die oorhand gekry het, en die waterstroom het ongeërg voortgevloei.

Malmesbury

(Vierde skyfie)

Behalwe in plattelandse dorpe met Engelse name soos Abbotsdale, Darling en Porterville het ek ook in Mamre, Kalabaskraal, Dassenberg, Stawelklip, Piketberg en Goedverwacht leerlinge gewerf vir die pasgestigte Sekondêre Afrikaansmedium-skool in Malmesbury. Die gebou daarvoor is opgerig as ’n saal in ’n woonbuurt vir bruin mense, in ooreenstemming met die vereistes van die Groepsgebiedewet, en sou mettertyd die Sendingkerkgebou in die dorp vervang. Intussen is dit aan die Departement van Onderwys verhuur. Verbeel jou sulke sluheid van dese en gene wat die priesterwyding ontvang het. "Wolwe in skaapsklere!" sou oom Tom sê.

Die eerste surigheid het ek begin proe toe die sendingkerk se leraar, Eerwaarde, my gebrandmerk het as ’n kommunis, ’n aantyging wat vir my destyds tronkstraf op die hals kon haal. Die gesalfde was vir my die josie in omdat ek die stemgeregtigde ouers oorgehaal het om slegs lede van die Engelse kerk te kies om as skoolkomiteelede te dien. Hy wou daaroor uit sy vel bars van woede en het met boosheid sy bondgenoot, dominee van die groot kerk en voorsitter van die plaaslike skoolraad, ingespan om my op my plek te sit. Geoefen in die soort befoeterde baasspelerigheid het die dominee dit reggekry. Die pasgekose komiteelede het bedank om my sodoende ’n kans te gee om sonder struweling te begin. Soos ’n bedorwe kind het Eerwaarde die titel as voorsitter van die herkose komitee aanvaar. Die komitee het uit sy eie kerkraadslede bestaan. Hulle het hom gevolg soos ’n troppie wat blêr-blêr en kopknikkend al in sy spore volg.

Om die vervreemding tussen my en die pastorie te vererger, het van die vrouens wat medewerkers was vir ons eerste skoolbasaar nie net Eerwaarde nie, maar ook Juffer se haat aangehits deur te vertel dat ek daarop aangedring het dat alle benodigdhede vir die basaar alleenlik van nieblanke winkeliers gekoop moes word. Die enigste uitsondering wat gemaak kon word, was in die geval van botter wat gedurende daardie oorlogsjare onverkrygbaar was by kleiner winkels. Daarvoor moes hulle na blankes se winkels gaan. Sulke nuus was vir Eerwaarde water op die meul en weer moes ek hoor dat Dominee weet hoe om van ’n kommunis ontslae te raak.

Dreigemente daar gelaat. Die voorbereidingswerk vir die basaar het verandering gebring: ’n Yslike versiersuikerde koek met tennisbaan en spelers daarop, gemaak deur ’n vriend van my in Kaapstad, het al wat Swartlander is, Hoofweg toe laat loop om dit in die uitstalvenster van ’n Jodewinkel te besigtig. Leeslampies, gemaak van oshorings op stukke olienhout gemonteer en met leë volstruiseierdoppe as lampskerms het as bykomende advertensie gedien. Die basaar is in die sendingkerk se skoolgebou gehou. Eerwaarde en Juffer was daar, al was dit uit blote skynheiligheid.

Die basaar se opbrengs was meer as genoeg om ons rugbyspan uit te rus met truie, broekies en skoene en ons netbalspan met bloeses en rompies. Behalwe sport was ons klem hoofsaaklik op skoolvakke. Seffie Human het by my aangesluit om hoofassistent te wees. “Arbeid Adel”, ons leuse, het ons aan die einde van die tweede jaar ons bors laat uitstoot omdat ons ’n 100%-slaagsyfer gehad het, wat goed vergelyk het met toonaangewende skole in Kaapstad.

Intussen moes my blindederm verwyder word. Gering soos die operasie is, het ek ’n hartversaking gehad en die geneesheer moes glo omtrént sukkel om my hart weer aan die gang te kry. Hy’t agterna die skokkende nuus aan Altjie oorgedra. Dennis het die gesels afgeluister, en ná die geneesheer weg is, het Altjie na hom gesoek. Hy’s na ‘n donker hospitaal toe. Ek het wakkergeskrik toe hy aan’t huil was aan die koppenent van my bed. ’n Geneesheer wat klaar was met sy rondes, het hom by ons huis gaan aflaai. Altjie het volstaan dat ek as skoolhoof moes bedank en ook moes afsien van die werk in Ebrahim se kafee, alhoewel dit net Saterdae na oggendklasse vir minder bevoegde leerlinge was. Sy en die dokter was oortuig dat alles vir my te veel was. Ek het saamgestem op voorwaarde dat dit my sou vry staan om aansoek te doen om die hoofskap van een van die kleiner sekondêre skole in Kaapstad. Daarmee was dit totsiens vir Malmesbury.

Nee, wag. Net soos ’n mens soms oorskietseltjies in jou kosbord tussen duim en wysvinger oppik, wil ek nog iets van Malmesbury se dae opdis. Seffie het vir homself ’n windmakermotor aangeskaf en ek, Altjie en ons kinders is saam met hom Calvinia toe. Daar het Altjie en ons kinders in oupa Daantjie se huis wat sy kleinkind, Danie Adonis, geërf het, agtergebly vir ’n kuiertjie asook om geselskap vir Danie se vrou gedurende daardie Junie-skoolvakansie te wees.

As drie onervare avonturiers is ons Maandag douvoordag na ’n gesellige naweek daar weg. Ek en Seffie het besluit om vir petrol tot in Rehoboth via Vioolsdrif te betaal. Danie het ons verseker dat sy motor terdeë nagesien was. Hy sou in Rehoboth agterbly om sy orige verloftyd by sy oom Annas deur te bring. Hy was ’n karakoelboer op Kannigap, ’n plaas in die buitewyke van Rehoboth. Volgens Danie was sy oom se twee troppe, maklik twee duisend elk, die grootste in daardie area. En wat van springbokke? Oom Annas se groot trop het glo altyd wip-wip met hulle spronge op loop gesit as sy oom se bakkie oor die veld aangedreun kom.

Ek het maar geluister, want die veld was dor van anderkant Springbok af en Seffie was heel befoeterd nadat hy in Vioolsdrif met ’n boeredogter in ’n winkeltjie gesels het. Sy’t hom vertel van ’n dans daardie aand en hom genooi om saam met my en Danie die polkas, settiese, vastrappe en walse te kom geniet.

Na ’n geringe oponthoud by ’n garage en na ons eers weer op weg was, het Danie homself gevies vir Seffie se bogpraatjies. Hy’t geweet die boere sou ons doodmaak sodra hulle agterkom dat ons bruin mense is. Om ’n end te maak aan sulke snert het Danie met ’n paar geniepsige doppe Seffie aan die slaap gehad tot ver verby Mariental waar daar net spore was van lorries wat in die sand vasgeval het. Nie lank nie of ons kom kry ons agter ’n ystervark aan tot ons kon wegswenk vir ’n blaaskans onder ’n kameeldoringboom se nanniegoepnes. So het ons aangesukkel tot die sekelmaan vir ons skewebek begin trek het op Rehoboth.

’n Week daarna het ons Windhoek toe gegaan om ’n rugbywedstryd tussen die Springbokke en Leeus te sien. Ons moes in Khomasdal by een van Danie se vriendinne oornag. Praat van agterlikheid en armoede? Stel jouself gerus, leser. Jy’t nog nie die ergste armoede teëgekom as jy nog nie in Khomasdal was nie. Daar’s byvoorbeeld vir al die mansmense ’n afdakkie waar jy soos ’n hoender op ’n ysterpaal moet sit en aan ’n tweede ysterpaal agter jou moet vasklou om jou maagwerking te laat koers kry en gelyktydig water af te slaan.

Na die vuurproef het ons die wêreldberoemde begraafplaas in die Suiderhalfrond, slegs vir blankes, gaan besoek. Verslae oor die kontras met Khomasdal het ek my verkyk aan die paadjies wat weerskante bewaak word deur sierlike marmergrafstene en beelde van heiliges wat met hulle stralekranse die boodskap "Rus in vrede" oordra terwyl sipresbome se skaduwees in die wind wieg en jou laat voel jy kan jou oë uit die kop skaam oor wit mense wat op daardie oomblik ongeërg, ten spyte van die ellende van Khomasdal, heerlike etes geniet van voor- tot nagereg en daarna op veersagte beddens lekker sou gesels oor die vorige dag se rugbywedstryd.

Op leë mae is ons die volgende dag terug Rehoboth toe. Ons het langs die pad stilgehou by ’n bakkie wat moes rommelhoop toe na dit teen ’n koedoebul gebots het. Ons het die bloedspoor gevolg tot waar die koedoe nie verder kon nie. Seffie het die bok se keel met sy knipmes afgesny. Ons het die boude vir biltong saamgeneem en die vel by die polisiestasie in Rehoboth gaan oorhandig. Dit word as ’n oortreding van die wet beskou om ’n koedoe dood te maak. Danie het onderneem om in die hof te verskyn vir die glips en hy’t vrygekom met ’n waarskuwing van die magistraat. Terug Malmesbury toe per trein oor Hutchinson het ek en Seffie baie gehad om oor te gesels. Eers toe ons die Grootkerk van Malmesbury se toring doer uit die verte kon sien, was daar nie langer tyd vir teugies brandewyn nie.

Voor ek vergeet, moet ek vertel van ’n toer wat ons na Port Elizabeth onderneem het. Die skoolspan was opgewonde, want elke leerling kon kwalifiseer om ingesluit te word. Tien van die leerlinge in elk van die twee standerd 7-klasse en tien leerlinge van die standerd 8-klas wat die hoogste punte in die halfjaarlikse eksamen behaal het, die meeste geld met hulle kollektelyste ingesamel het vir die skoolbasaar en altyd die hoflikste was teenoor hulle onderwysers, medeskoliere en dorpenaars, sou in aanmerking geneem word vir die toer.

Op die kop sesuur die oggend het ons vertrek vir die eerste oorstaan op Caledon. Daar aangekom, is ons die volgende oggend na ontbyt Visvlei toe, digby Hawston. Niemand wou dit glo toe Adriaan Boisen, ’n standerd 8-leerling, ’n yslike kabeljou uit die Visvleiwater voor sy voete laat neerplons het nie. Dit het gelyk asof die bootjie waarin hy was, die bewerasie het voor almal weer stil geword het. Dog nie lank daarna nie moes ’n galjoen sy stert klap en met sy vinne totsiens wapper. Beurtelings het dit so gegaan met ’n gejubel oor nog ’n vangs en nog ’n vangs tot elke bootjie sy kabeljou of galjoen gehad het en ons vroegaand op De Vos Malan se skoolgrond kon vis braai.

Soos klein klippies kringetjies maak in waterpoeletjies, het die geselskappies van ons skoolspan tot klein groepies gekrimp en indien jy varkoor gegooi het, sou jy kon hoor: "Waar wou Adrian sodanig ’n kabeljou kon vang?” Hoe ook al, dit was ’n wonderlike ondervinding. Deur ’n nuwe eetlus aangewakker, het almal se tonge gedurende ontbyt begin loskom. Tussendeur happies en koutjies wou hulle meer weet omtrent Oudtshoorn se volstruise, krokodille, stalaktiete en stalagmiete.

Ons het begin by ’n volstruisplaas. Al dertig agies het beurte gekry om vir ’n foto op ’n volstruis se rug te sit. Daarna was dit opwindend om plaaswerkers, fyn uitgevat met jokkiepette, oor ’n kort distansie wenpaal toe te sien jaag op volstruise.

Agterna is ons na die krokodille toe. Dis grieselig om dop te hou hoe die damwater van hulle rûe afstroom soos water van teëldakkies af en om te aanskou hoe ale in hulle oop bekke tussen rye tande keellangs met ’n roeispaan maag toe ingedruk word.

Die Kangogrotte was die kroonstuk van hulle uittog daardie dag. Hulle het na asem gesnak in die ontvangsaal. Die druipstene van die dak en vloer af het hulle oopmond laat op en af staan en kyk. Ander formasies, veral dié van ’n bok langs ’n verboepte lam, was ewe oorstelpend. Plotseling is al die saalligte gedoof en verskrik hou elkeen in die pikdonkerte vas aan ’n maat. Daarna moes ons werskaf om hulle sover te kry tot by ’n smal sierstrook waarop hulle hande-viervoet moes kruip om nie hulle koppe te stamp teen die dak van die grot nie. Daarna is hulle in die skoorsteen op. Ons dogters moes aan die voorkant voel-voel soek na ’n vashouplek in die noute en alleenlik deur God se genade het hulle nie die seuns agteroor laat tuimel in die skoorsteen omdat ’n hand af en toe aan hulle knieë geraak het nie.

In vergelyking met die Grotte was Port Elizabeth met sy fietse, motorfietse en motors op snelweë ’n malhuis waarvoor hulle na ’n lang dag nie langer lus gehad het nie.

Malmesbury praat nou nog oor die soetheid wat daardie uitvlug vir die spannetjie ingehou het. Adriaan word nou nog kabeljouman genoem, en die ander galjoenmanne. Die slotliedjie wat die groep gesing het toe ons voor my deur stilhou, was: "Hoe lank sal die skoolhoof lewe in sy gloria, in sy gloria."

Viva la Malmesbury!

Hierdie foto is ook geneem toe PJ Philander skoolhoof was by Belgravia Hoërskool in Athlone, kort voor sy vertrek na die VSA (foto verskaf deur Steward van Wyk).

Kaapstad

(Vyfde skyfie)

Dae lank fluit die Suidoos in sleutelgate van spoghuise en winkels aan Tafelbaai se kant en hoog deur die wind slinger skollies aan die agterkant van Tafelberg na hul pondokkies. Dit het my geïsoleerd laat voel tussen so baie mense, in ’n stad wat oorvol voorspoed en teëspoed het. Nog te meer het dit saans gelyk asof die sterre aan vallende siekte ly en die maan aan geelsug.

Goddank kom daar toe verligting. Ek en Altjie word deur USSALEP (United States South Africa Leadership Exchange Programme) gekies om die VSA se onderwysstelsel eerstehands te gaan waarneem.

PJ Philander en sy vrou, Altjie, in Rondebosch (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Terug in Suid-Afrika kon ons nie uitgepraat raak oor die buiteland nie, tot op ’n dag, asof teruggeruk aan ’n stang, ons weer die helder beeld van ’n watereendjie in een van die waterplasse langs die Mississippirivier kon herroep; ’n koet het op sy pootjies gesteier en sy vlerkies geflap om ’n vissie af te wurg. Net so bars was dit vir ons om weer met Apartheid gekonfronteer te word.

Hierdie foto is geneem toe PJ Philander skoolhoof was by Belgravia Hoërskool in Athlone, kort voor sy vertrek na die VSA (foto verskaf deur Steward van Wyk).

Ons was daar om die nagevolge van Sharpeville te sien deursyfer tot in Kaapstad. Die swart mense het in protes langs De Waalweg na Caledon Square gemarsjeer om hulle besware op skrif voor te lê aan ’n magistraat. Hulle het agterna vreedsaam verdaag. Daarna het die polisie hulle agter die doringdraad in Langa en Gugulethu ingekamp gehou. Vir meer as ’n week was die enigste mense ’n groepie Kwakers wat toegelaat was om namens alle goedgesindes voedsel en medisyne vir hulle te neem.

Eers na veertien dae het die swart man wat gewoonlik ons melk aflewer, opgedaag. Ek het van die ontbyttafel af opgestaan en hom teruggeroep na hy ons melkbottels neergesit het. Hy was al by die voorhekkie, maar het nader gekom tot op die voorstoep. Hy’t aanhou oor sy maag bly vrywe en gesê dis asof ’n dier hom van binne af opvreet. Altjie het vir hom toebroodjies stoep toe gebring. Hy’t dit soos ’n honger hond verorber.

In my verbeelding kon ek weer Aaintjie Gous my kant toe sien spuug toe ons verbied was om ons goed in Caledon, Greyton, Calvinia en Kaapstad te verkoop omdat dit in blank-verklaarde gebiede was. Om te vergoed vir my finansiële verliese, het ek as deeltydse dosent ’n naskoolse kursus in Afrikaans vir diensdoende leerkragte aangebied en Sondae as aankondiger van die Proteaprogram vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie gewerk.

Dit was algar drafstapwerkies om my geldelik in te rig vir ons exodus na Amerika. George en Dennis was alreeds oorsee en Peter was in sy laaste jaar om klaar te maak met die mediese kursus.

’n Tragiese voorval wat vir my die deurslag gegee het om te emigreer, was die dood van Seffie Human, een van my getrouste vriende. Ek en Altjie het sy begrafnis op Genadendal bygewoon. Die kerkorrel het met elke gesang ons stemme laat saam bewe en in my paar woorde as deel van die diens het ek onder andere vertel van ’n mooi oomblik toe ek en hy een laatmiddag by die oerbron van die Baviaansrivier gerus het na ’n lang stap agter nerinas aan. Hy’t ’n klippie in die water gegooi en ’n geliefde vers van Opperman aangehaal:

Dit kring om jou, dit kring om my
en kringend gaan om jou en my
die tyd verby, die tyd verby.

PJ Philander saam met akademici by die Friends Academy, Long Island, New York (foto verskaf deur Steward van Wyk)

New York

(Sesde skyfie)

Na ’n bietjie nektar hier en ’n bietjie daar
kom ek met suur- en soetigheidjies opgegaar
as wapens teen die galbitterste aalwyn
tot stilstand tussen die Sonora- en Mojavewoestyn.

Einde Maart 1969 het ons padgegee Amerika toe. Dit was nie maklik om na twaalf jaar afskeid te neem van vriende wat geanker was in ons harte nie. Dit was asof ons eers tot ons sinne gekom het toe ons doer in Athene koud kry na ’n oornagse vlug uit Johannesburg. Dit het Altjie ’n goeie rede gegee om vir haarself ’n pelsjas te koop. Ons was byna poot-uit van winkels kykery toe ons by die markplein kom. Daar het sy ondergronds in die klerewinkels rondom die treinstasie haar verkyk aan nog meer pelsjasse tot sy op een besluit het.

Toe moes ons haas om betyds te wees vir ’n besoek aan Epidaurus. Dis byna ongelooflik dat die Grieke destyds lukraak so ’n volmaakte lokaal gekies het omrede die akoestiek. Ons het treetjie vir treetjie tot op die hoogste sitplek geklim waar ons geluister het na die gids wat ver onder op ’n sementblad ’n dragma laat val het. Dit was presies asof dit langs ons ore klingel. ’n Entjie van die amfiteater af het ek saamgestap om Altjie ’n kelderkamer te laat sien waarin sielsieke pasiënte destyds tussen hamelstertgeitjies, akkedisse en spinnekoppe geplaas is om by wyse van skokke van hulle gekrenktheid ontslae te raak. Saterdagoggend was ons by die Orakel in Delphi met niks om te vra of te sê nie. Na ’n tydjie by die Apollo-tempel het ons uitasem van ’n hoogtetjie af die golf van Korinthe in die Adriatiese See sien uitskuim.

Na Delphi was ons verblyf in Rome baie kort. Tog het ons ’n dag afgestaan vir Pompei, wetende dat ons by ouma De Melker tot laat in die aand oor baie toertjies sou moes gesels.

PJ Philander in sy huis in New York (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Ouma het aangedring op ’n besoek aan De Pauwhof en vir Altjie se ontwil het ek in Antwerpen ingewillig om Manneken Pis weer te sien water afslaan. Daarna het ons oor ’n koppie tee met Ouma gesels oor haar voorneme om by ons in Locust Valley te kom kuier. Praat van nuuskierig? Moenie Friends Academy weggooi nie. Ons het op ’n Maandag in Maart 1969 aan die einde van middagete daar aangekom en die agies het ons met wysvingerswaaie met vrae oor Afrika bestook.

PJ Philander saam met ander studente en akademici by die Friends Academy, Long Island, New York (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Vroeg in September het Altjie haar op Long Island kom kry as Naaldwerkonderwyseres en ek myself as Aardrykskunde-onderwyser. Na drie jaar in dié hoedanigheid het ons leerlinge op toer geneem na die buiteland. Al die toere was ’n sukses, behalwe een wat ’n probleem geword het as gevolg van ’n opstandige seun. Na ek hom op die lughawe in Buenos Aires geskrobbeer het, het hy by die hotel waar ons tuis was, vermis geraak. Eers later daardie aand het ’n leerling op hom afgekom waar hy in sy klerekas weggekruip het. In Kaapstad, aan huis by een van die ouers wat vir ons leerlinge huisvesting aangebied het, het hy die bed natgemaak. Om sy verleentheid te vermom het hy een van die gasvrou se dogtertjies gevra om vir hom ’n groot beker water te bring om sy dors te les. Onder die voorwendsel dat die beker uit sy hand geval het, het hy die water op die laken laat val. Eers agterna het die huismoeder uitgevind dat hy sodoende sy piskol wou uitwis. In Oudtshoorn het ’n gasvrou gekla dat hy aangelê het by een van haar bediendes. Laasgenoemde klagte was ’n moeilike saak om te hanteer, maar dit het ’n end gemaak aan al sy streke, veral toe ek hom gewaarsku het dat die gasvrou ’n skriftelike verslag saam met my vir sy ouers gaan stuur. Eers op die retoervlug vanaf Athene het hy om verskoning kom vra. Heelwat later, terug in die Verenigde State, het sy ouers my kom vertel van ’n groot verbetering in sy gedrag.

Altjie het na ons laaste toer siek geraak as gevolg van ’n verswakte hartspier. Ek het toe ’n huis in Locust Valley gekoop sodat sy van die grondverdieping af makliker buitekant kon kom vir die nodige stapoefening wat dokter aanbeveel het. Sy het twaalf jaar lank met die kwaal aangepiekel, af en toe ’n opera gaan kyk en soms na ’n simfonie­orkes in Manhattan gaan luister. Stadigaan het haar toestand verswak.

Die strafste slae vir my was toe sy vyf maal, elke slag vir ten minste tien dae, hospitaal toe geneem moes word vir behandeling. Elke keer was die diagnose ’n ent slegter. My laaste besoek aan haar was die roerendste, want ek kon duidelik sien dat haar bed in die hospitaal haar sterfbed sou wees. Sy het nie die krag gehad om ’n afskeidsgroet met haar hand te gee nie, haar oë oop te hou of ’n kopknik te gee nie. Haar lagplooie het verslap en haar kake het haar voorheense fermheid versaak.

Die jare na haar dood was vir my die strafste om te belewe. Smiddae na skool het ek die voordeur agter my toegemaak en in die voorportaal aan’t huil geraak tot daar nie meer trane oor was om aan te hou snik nie. Voetjie vir voetjie traplangs boontoe, soos ’n verkleurmannetjie van tak tot tak, het talle aandenkings my gevoelens omskep in sonskyn en donkermaan. Dag na dag het elke sitbank vir my ’n pynbank geword en toe het ek vir myself gevra: "Wanneer en vir wie kom die sodanige verlossing wat die dood kamtig bring?"

Onlangs nog as ek uit die kerk gekom het by St John’s in Lattingtown op Long Island, het ek oor die kanferfoelieheining geloer na die gedenkplaat vir haar op die klipmuur en die grasperkie waaronder haar as in ’n urn begrawe lê. Dis maklik om te sê alle vlees is gras, maar om dit te aanvaar as die onvermydelike einde van jou eie vrou is ’n ander saak. Die gemis wat op ’n mens afsak, word, soos vir ’n fotograaf, ’n lanferdoek waaronder ’n mens in jou eie donkerkamer negatiwiteite van die lewe probeer ontwikkel tot nuwe helderhede om na ’n lang winter nuwe bloeisels te sien bot en vrugte word.

Dit het my ook laat dink aan ’n praatjie wat een van die skooldogters by Friends Academy in my Aardrykskundeklas gegee het. Sy het op toer saam met my en Altjie in ’n winkel in Rio de Janeiro afgekom op stapels asbakkies, gemaak van graniet, waarin gekleurde kontoerlyne betowerend heen en weer kronkel. Die winkelier het een van die asbakkies aan haar verkoop as die ware Jakob. Sy het nie gefnuik gevoel nie, ons ook nie, slegs wyser, toe sy in haar praatjie verduidelik dat die kontoere verkry was deur gekleurde vloeistowwe in die graniet se spoupypies in te blaas.

Dis lente hier waar ek nou in Las Vegas tussen die Mojave- en Sonorawoestyn sit. Die ocotillo se pers, palo-alto se rooi, mesquite se blou en selfs saguaros se wit blommetjies bring die boodskap dat die lewe onverwyld voortgaan en dat hoewel blou berge voorlangs vir ons die blink kant bo hou, hoër berge agtertoe steeds gister se yskoue sneeu behou.

En nou na ’n loopbaan van twee-en-sestig jaar as onderwyser, nege-en-twintig in Suid-Afrika en twee-en-dertig in Amerika, is dit my tweede lente in Las Vegas waar joshuabome steeds hoër en hoër beur in hierdie dorheid. Hulle stryd maak dat ek niks meer begeer [nie] as hierdie stilte waarin ek nog so baie kan leer deur slegs net te kyk na hulle weerstandsvermoë, sowel as na dié van nietige rooibossies, mieliegif, kinderpieletjies en meidesterte wat deur nóg donderweer se sarsies, nóg weerlig se kortsluitings van miljoene der miljoene jare vernietig kan word.

Dis Allerheilige-aand en die nonne slaag nie daarin om in kostuums van kloosterstof gemaak en met kussings as boepmae, hulle voor te doen as swanger vrouens nie. Nog minder slaag hulle daarin om met japonne wat rooi gekleur is die geilte van destyds te laat herlewe. Selfs Meer-Mead se hoogwater-getye kan die eertydse weie van Las Vegas nie herskep nie.

Dog, wat wou dat mens verlore kan voel in ’n casino-wêreld van die Strip wat saans soos pêrels skitter aan die voet van Blêrberg, Kapokberg en Bronberg, my vertaling van Sheep, Snow en Spring Mountain vir die ontwil van my kultuur-gegronde vriend, Lafras van Rensburg.

Genoeg dat ons Klein-, Middel- en Groot-Karoo verdor is. In godsnaam tog nie my Afrikaans ook nie. Die les? Ek moet volhard!

PJ Philander saam met sy uitgewer, Gerrie de Melker (foto verskaf deur Steward van Wyk)

Epiloog

Soms na ’n nag van teisterende drome, is dit asof ek weer wakker skrik teen die eerste hoogte van Sir Lowry’s Pas en asof dit vir my lyk die lewe donkiedrolle aan my verkoop het. Dan is dit nes ek weet dat die naelstring wat my geboorte laat gee aan so ’n nagmerrie afgesny behoort te word en dat ek soos ’n hond uit ’n stormagtige see al die vieslike nattigheid moet probeer afskud voor ander op hierdie selfde tipe duin in my spore volg.

  • 4

Kommentaar

  • Adinda Vermaak

    Watter ongelooflik interessante en plek-plek ontroerende verhaal! Baie dankie dat ons almal dit kan lees. Ek gaan nou dadelik begin om sy vier digbundels wat in ons boekrak is weer te lees.

  • Bernadette Richards

    Wat 'n roerende lewensverhaal, die humor, die deernis, die menswees.
    Well done, Steward!

  • Raymond van Diemel

    Elke paragraaf met soveel emosie verweef. Pragtig in sy eenvoud. Ons herleef die mooi en suur van sy en ook ons lewe. Dankie Prof Steward, my UWC hostelamaat (1977-1979).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top