Pik Botha: lewensgenieter, omstrede, geliefd, ’n man vir verandering

  • 5

Pik Botha tydens ’n onlangse US Woordfees-geleentheid (foto: Naomi Bruwer)

Roelof Frederik (Pik) Botha

1932–2018


Omtrent elkeen wat Pik Botha geken het, het ’n Pik-storie. As hy met jou gepraat het, was dit met die deurdringendheid van iets belangriks, asof hy met jou alleen ’n idee, ’n antwoord, ’n gedagte wou deel.

Hy is ’n Laurence Olivier, het ’n ou vriend verduidelik: groot gebare, groot stemverheffing. Dit was by ’n braaigeleentheid in Kampsbaai. Pik het pas teruggekeer van ’n VN-vergadering, en met lang vurk in die hand, pet op die kop, sy VN-span met hom, het Pik sy orasies gelewer. Die vurk is in jou rigting gerig, hy maak ’n punt. Hy vra ’n vraag, hy beantwoord dit self. Iemand por hom met ’n vraag oor die VN. Pik draai sy vurk in daardie rigting. Dramaties, dringend, nek vorentoe wei hy uit.

Niemand kon sy sjarme ontkom nie, sy ooglopende plesier om uit die digters, die filosofie aan te haal, sy eie gedagtes op ’n weggooimanier uit te saai.

Wie was hy regtig? Hierdie man wat graag kortverhale, nogal sentimenteel, sou skryf. Sy gedigte was direk, meestal rym, meestal oor sy gevoelens. Hy het ’n persona gehad wat hom onpeilbaar gemaak het: Was hy die voorloper, die pleitbesorger, die man wat apartheid brokkie vir brokkie begin aftakel het? Was hy PW Botha se gewete? Was hy showman? Was hy die media se liefling, al was hy nie oral gewild nie. Kon hy kritiek verduur?

Immers was hy getuie van geskiedkundige gebeure: die Den Haag-verhoor, Suidwes-Afrika wat Namibië geword, die man wat die Rubicon wou en kon oorgesteek het as sy baas, PW Botha, nie skielik van oortuiging verander het nie.

Uiteindelik: was Pik nie werklik ’n panasee in die verskriklik uitmergelende tagtigerjare toe sy party stamelend, voetjie vir voetjie apartheid probeer vernietig het nie?

Miskien was Pik Botha te teatraal, dalk te dapper, te getrou, om ’n heldegrafskrif te verdien.

Ek dink hy verdien ’n heldegrafskrif. Sy persoonlikheid was te groot, sy uitsprake soms te weersprekend, sy begrip vir media-aandag te opsigtelik, maar nogtans was hy die sterkste stem wat aan buitelandse deure, asook sy eie partydeure, geklop het om indien nie te aanvaar nie, dan tog te help om eenheid tussen wit en swart te bewerkstellig.

Pik se nalatenskap kan ook romantisering nie vryspring nie.

Die jong regstudent wat sy ouers se vriende se dogter ontmoet het, dadelik verlief geraak het, is nie Mills & Boon nie – dit sou ’n lang verbintenis word. Helena Bosman was ’n dramastudent op Stellenbosch. Sy was mooi, sy was gewild, en pas na haar en sy studies is hulle getroud. Hulle was die “goue paar”. Pik was duidelik ’n man met ’n toekoms in die Departement Buitelandse Sake. Skaars ’n jaar later is na die ambassade in Swede verplaas. Hulle sou altyd in die openbare oog wees.

In haar omvattende, deeglik-nagevorste biografie van Pik Botha (waarvoor hy nooit eksplisiete goedkeuring wou gee nie) het Theresa Papenfus geskryf van vele onderhoude oor sewe jaar met Pik waarin hy liries, en natuurlik sentimenteel, sy gedigte oor sy liefde en beminde getoon het.

Dat hy ’n flirt was, was net so deel van sy persona dwarsdeur sy volwasse lewe. Hy en Helena het vier kinders gehad wat almal in hul lewenskeuses uitgestyg het. Dit was Helena wat nie haar eie ideale kon opvolg nie – die belowende dramastudent sou nooit weer aktrise wees nie. Sy was gewild as ambassadeursvrou vir haar fynbesnaardheid. Sy het, soos dit haar aard was, Pik se openbare lewe in koerante en tydskrifte sorgvuldig gevolg, dit uitgeknip en sodoende ’n onskatbaar waardevolle argief vir hom opgebou. Helena is tragies dood. Sy het geval. Sy was broos.

Pik se tweede vrou, ’n joernalis, Ina Joubert, het in die onstuimige jare bekend geword as Pik se regterhand, hoeder, geselskap; het sy beeld van ’n denker, ’n geselser, ’n plotbewoner versterk. Pik was lief vir sy grond. Hy was lief vir plante. Veral was hy lief vir braai, sing, opsê en gesels. En lees.

Toe hy in 2000 aankondig dat hy ’n ANC-lid gaan word, was dit ook maar weer net ’n “Pik-ding”, het sommige vriende en die media ook gedink. Pik se onstuimige geaardheid, sy respek vir Thabo Mbeki en, wie weet, sy verlange dat hy dalk ’n rol kon speel in openbare sake, het nie te veel opspraak verwek nie. Mettertyd sou hy baie krities word oor die ANC-regering.

Theresa Papenfus se biografie, Pik Botha en sy tyd, is ’n magistrale werk. Bloot op navorsing en gesprekke met hom en ander gebaseer, het sy in oor die 800 bladsye Pik Botha se lewe, loopbaan, gedagtes opgeneem. Sy maak self geen aannames oor Pik se geaardheid nie, maar haal ander aan, soos Patrick O’Malley, ’n gedugte politieke joernalis wat Pik se loopbaan goed gepeil het.

Wêreldbekend as op ’n stadium die langs dienende buitelandse minister in die wêreld was Pik vanselfsprekend bekend op internasionale verhoë. Hy en Henry Kissinger het ’n goeie, langdurige vriendskap gehad

Dit was stellig Pik Botha se statuur, en ook sy persoonlike verhoudings met mense soos Helmuth Kohl, Margaret Thatcher en George Bush, wat gehelp het om in die stuwende 1989 vir FW de Klerk aan die groot gesaghebbers te gaan voorstel en, natuurlik, om hulle te beïndruk met wat in Suid-Afrika kan gebeur, en met hul hulp moet gebeur.

Argiewe oor hierdie vergaderings sal sekerlik die charisma wat Pik gehad het, bevestig. Hy was die man wat eindeloos teleurgesteld was, nadat hy die wêreldleiers wou laat glo dat groot veranderinge kom, om te sien hoe PW Botha, teen alle verwagtinge in, nie die Rubicon in 1985 wou oorsteek nie.

Pik die bon vivant, die drinkebroer, die flankeerder het wel die bewonderde gawe gehad om polities en op diplomatieke terrein te oorleef. Dikwels verguis deur die media, soms gespot, soms bejammer, was hy nogtans ’n liefling. As hy bombasties, kort van draad met ’n joernalis sou oorkom, sou dieselfde joernalis weer ’n onderhoud soek. Pik was goeie mediawaarde. Hy het dit sekerlik ook geweet. Hy kon bekostig om uitdagend, moeilik, selfs beledigend te wees. Maar hy het ook geweet, met daardie vreemde aanvoeling vir aandag, dat hy wel weer besing sou word. En dit was duidelik dat die akteur in hom dit geniet het om ander lande van skynheiligheid te beskuldig, veral Afrikalande.

Pik het deel gehad aan roemlose besluite soos aanvalle op vermeende ANC-kaders. Tog het hy met dieselfde vuur van sy ministeriële dae by die Waarheid-en-versoeningskommissie erken dat hy meer kon gedoen het om aanvalle en marteling op ANC-gesindes te stop. “May God forgive me,” het hy sy betoog afgesluit.

Vrae oor Pik se bydrae, sy rol in die geskiedenis, sal moontlik juis vanweë sy indrukwekkende persona nie na waarde geskat kan word nie. Wat jammer gaan wees, want sy rol as soms eensame vegter in die Nasionale Party teen apartheid kan tog nie misgekyk word nie.

Sy kleurrykheid, sy lewenslus en genieting is bloot ’n bonus. Agter die skouspel was daar tog ’n hartstogtelike agent vir verandering.

  • 5

Kommentaar

  • Liza Smit se boek:

    The 13-year-old was furious because she had heard grownups talking about the NP being responsible for the murders. Pik Botha, a close friend of her father’s, she says, was also at the funeral and she recalls him telling her there: "My God, child … I wish I could help you but my hands have been chopped off."

    He told the media later on that Liza had misunderstood him, "but I didn’t", she insists.

    Determined to get him to tell the truth about the murders, she visited him, with the TRC’s knowledge, at his Pretoria home where the 20 minutes he had promised her turned into two hours. Liza alleges Botha tried to kiss her in the house before she ran off.

    https://www.businesslive.co.za/bd/life/books/2018-06-27-book-review-daughter-of-robert-smit-determined-to-find-apartheid-era-killers/

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top