Piet Rympies Swanepoel: Huldeblyk aan my pa

  • 13

pietrympiesswanepoel

Namens my gesin, my boetie Pieter, wat saam in die viervertrekhuisie grootgeword het, en my boetie Wessel, wat my ouers se pad in die laaste jare gelyk gemaak het, skryf ek hierdie huldeblyk.

Boeta, Piet Rympies Swanepoel, of net Piet Rympies. Of Piet Prentjies, soos hy in ons skooljare ook bekend was. Terwyl ek lees aan al die verstommende huldeblyke aan hom op die internet, deur mense wat ek nog nooit van gehoor het nie, baie van wie Boeta self ook nog nooit ontmoet het nie – vreemdelinge van oor die aarde – begin ek voel dat my kleine huldeblyk heeltemal tekort skiet. Waar kry ek genoegsame woorde om hierdie man te beskryf? Vir my was hy maar net my pa.

Op die internet skryf iemand oor hom: “Stil ... daar gaan ’n man verby.”

Ek besef eers later die impak van daardie woorde toe ek verder deur die vloedgolwe van huldeblyke die gedig van Jan FE Cilliers raaklees en besef dat daardie woorde bedoel was vir die grote generaal De Wet:

Stil, broers, daar gaan ’n man verby.
Hy groet, en dis verlaas. 
Daar’s nog maar één soos hy; 
Bekyk hom goed.

– Ek lees hulde van vreemdelinge uit Nederland, Sydney in Australië, België, Duitsland, Denver in Amerika. 

– Roerende woorde van jong skrywers wat hom huldig en bedank dat hy die skrywersvlam in hulle aangeblaas het, ’n koor van kommentaar wat inval en dit persoonlik beaam.

– Soveel vreemdelinge wat skryf hoe diep hy hulle geraak het met sy woorde, rympies, versies en liefde vir die natuur. 

– Soveel vreemdelinge wat hul spyt uitspreek dat hulle nooit die voorreg gehad het om hom persoonlik te ontmoet nie. 

– Wat my egter die meeste aangeraak het, was dat ek skielik oorval is deur vreemdelinge wat ’n vriendskapshand na my uitreik net om nader aan hom te kan wees – almal Boeta se skrywersvriende wat uitreik na iets tasbaar in die groot leemte wat hy gelaat het. 

Vir my persoonlike huldeblyk gaan my gedagtes ver terug, na my kinderjare. En hier praat ek ook, soos ek reeds gesê het, namens my boeties Pieter en Wessel, omdat ons hierdie herinneringe saam gebou het.

Ek onthou my pa saans in die lig van die ou stormlantern, waar ons saam by die kombuistafel sit en prentjies teken het. Swart koolstoof in die hoek; ’n sak mieliestronke leun voor dit teen die muur, en mens ruik die aardse geur van goiingsak bo alles.

’n Klein witgekalkte viervertrekhuisie omring met die groenste groen geilte van mielielande. Dan stap ek saam met my pa deur die rye en rye mielies, so hoog dat ons in die koelte loop. Hy pluk ’n arm vol groenmielies vir aandete. Saam vou ons versigtig die blaarpunte van die mieliekoppe oop om te kyk of daar al groot genoeg pitte is om te eet. Dan vat hy my saam hom langs die rivieroewer af, geweer in die hand om ’n wilde eend vir die pot te skiet. Saam met Boeta volg ons die boerbokpaadjies deur die bos, grou ons agate uit die gruislae van die hoë rooi wal. Hy wys vir ons die halfedelstene jasper en kwarts in die klippies aan die waterkant. Hy leer ons kou aan die sagte, jong, groen groendorings, ons pluk gekristalliseerde doringboomgom en suig die nektar uit die heuningsoet, goue soetdoringkwassies. 

Ek pla waar hy draad span, waar hy op die sementstoep sit en sukkel met die stukkende waterpomp wat seëls kort ... Waar hy pype optrek uit die boorgat, waar hy onder die bome staan en doringhout saag vir stoofhout vir die huis. Ek pla, maar hy kla nie en vat my maar altyd met hom saam.

Ek onthou die fyngetrapte stof van vendusiekrale, die groot ysterrelings waar hy ons opgetel het om na die beeste te kyk, die stokkiesroomyse. Ons speel baldadig waar hy saam met oupa Piet op die dorsvloer werk. Die vaalwit blarestroom spuit by die klein dorsmasjien uit, die blarehoop groei, en die kafhoop vorm klein langsaan. My pa en Oupa dra die swaar mieliesakke aan en voer die dorsmasjien terwyl ons kinders bo-op die rye en rye klaargedorste sakke vol mieliepitte rondhardloop en spring. Ons laat die harde, koel pitte deur ons vingers gly. 

So leer my pa ons sonder woorde om die wonder van die natuur raak te sien, om die klein dingetjies te waardeer, om gelukkig te wees net omdat die son skyn, om snags uit te luister vir die roep van die jakkals, om die diamante in die môredou te soek, om jou hart te laat jubel oor die grys reën oor die mielielande. So leer hy ons sonder bohaai saam met hom teken, leer hy ons lief wees vir ons taal, leer hy ons die plesier wat woorde gee, leer hy ons die stories van ons oumense en ons omgewing.

Eers op my oudag besef ek dat so baie van die dinge wat vir my “maar net” deel was van my pa, so uniek en spesiaal was. ’n Oudskoolmaat spoor my onlangs op en ek sien deur haar oë vir die eerste keer, uit herinneringe van haar kinderkuiertjies, hoe spesiaal my pa en ma se liefde vir mekaar was. Hoe ander hulle bewonder het vir die stabiliteit, die vreedsaamheid en liefde wat hulle aan ons huis gegee het.

Hierdie huldeblyk is ook van my man, Wikus, vir wie Boeta en Mamma soos ’n eie kind in hul huis gesien het. Hoe lekker was dit as my liewe man op die ingewing van die oomblik sê kom ons gaan kuier vir Ma en Boeta, omdat hy verlang. Hoe bly hulle was as ons onaangekondig aan die voordeur klop – hul deur het altyd oopgestaan vir ons, hulle harte selfs meer met gasvryheid vir my en Wikus en my gesin. Hulle het altyd gevra hoe gaan dit met “hulle” seun as hulle oor Wikus vra.

Dan was daar die eindelose vakansies waar hulle hul liefde, toewyding en lewenskennis aan my kinders oorgedra het. Ons is so dankbaar vir die herinneringe wat ons het van hulle as ouers en grootouers. Daar is so baie wat ons gaan mis, en so baie wat ons koester.

Ek glo ek praat namens al Boeta se kinders as ek sê dat ons ongelooflik bevoorreg was om onder hierdie twee goue mense te kon grootword. Om nou hier te kan besef dat die grootste maatstaf van geluk daarin lê dat jy kan terugkyk op ’n dag en besef dat alles juis ekstra-spesiaal was – bloot omdat jy dit deur jou lewe as vanselfsprekend kon aanvaar. Ons het nooit nodig gehad om die liefde van ons gesin te ondersoek en daaroor te wonder nie. Dit was vanselfsprekend. Ons het nooit nodig gehad om te dink oor die talente wat in ons aangewakker en gekweek is nie, want dit was vanselfsprekend. Die huis wat Boeta met sy hande gebou het, die groente uit die tuin, die vleis op ons tafel, die vrugte uit die vrugteboord, die water uit die leivoor, die boorgat wat hy laat sink het, die watertenkstellasie wat hy gebou het, die vakansies by die see … Ons het nooit besef hoe wonderlik spesiaal ons ouers was nie. Dit was vanselfsprekend …

Vir ’n goeie lewe sê ons dankie … Rus sag, Boeta.

---------------------

Piet Swanepoel is op 20 Desember 1937 op Bothaville in die Vrystaat gebore. Van kleins af was hy lief vir gedigte, rymelary en voordra. Hy word groot in ’n gemeenskap waar televisie onbekend is, radio ’n luuksheid; waar mense in die aand om ’n tafel by kerslig sit en stories vertel en rympies opsê. Na skool gaan hy Johannesburg toe, waar hy as tremkondukteur werk kry en ook later sy vrou ontmoet, met wie hy op 19 Desember 1959 getroud is. Later gaan werk hy in die goudmyne op Welkom totdat hy terugkeer na die plaas langs die Vaalrivier om sy pa met die boerdery te help. Tussen 1977 en 1992 gee Human & Rousseau sewe kinderdigbundels uit wat uit Piet se pen gevloei het: Rympies vir duimpiesRympies vir rakkers, Rympiesfontein, Voorslaggies, Hier kom die rympiesman, Klouterboom en By Doringdraai se drif.

Hy staan in die gemeenskap bekend as Piet Rympies of die Rympiesman en van sy gedigte word selfs op Potchefstroom se universiteit voorgeskryf vir die dramastudente. In 1981 word van sy gedigte in DJ Opperman se Kleuterverseboek opgeneem wat deur Tafelberg Uitgewers uitgegee is. In 1982 word nog van sy gedigte vervat in DJ Opperman se Klein verseboek, ook deur Tafelberg uitgegee. In 1989 word nóg van sy gedigte vervat in drie digbundels: TrompettertjieWieliewalie en Mallemeule, saamgestel deur Pieter W Grobbelaar en uitgegee deur Perskor. In 1990 publiseer HAUM ook van sy gedigte in die digbundel Groen. In 2010 publiseer Human & Rousseau sy versameling kortstories, Marico se mambas. Dit bevat stories uit vergange se dae oor transportryers, spoke en ander gedaantes wat algemeen was in die dertiger-, veertigerjare.

Piet en sy vrou, Harriet, was vir baie jare bekende inwoners van Groot Marico, waar hulle op hul plasie Rondavelskraal (Rympiesfontein) die tydloosheid van die bosveld geniet het, waar dinge amper nog net dieselfde is as toe Herman Charles Bosman die Marico soveel jare gelede op papier vasgelê het. Hulle is om gesondheidsredes in 2012 na Pretoria, waar hulle naby hul jongste seun gebly het.

Harriet is in 2014 oorlede. Piet is drie jaar later, op 13 Januarie 2017, oorlede na hy op 18 Desember 2016 saam met sy kleinseun in 'n motorongeluk betrokke was. Piet se kleinseun is op Oukersdag 2016 oorlede aan sy beserings, en in die daaropvolgende dae het Piet hom dood getreur.

Piet se werk is in 2016 ook opgeneem in twee bundeltjies van Kreativ SA, Kwinkvinkies en Opslagblom, wat vrygestel is na hy reeds in 'n koma was na die motorongeluk.

  • 13

Kommentaar

  • Baie dankie, Susan, vir hierdie roerende huldeblyk.

    Piet Rympies Swanepoel se nalatenskap is wêreldvol, landvol, hartvol. Sy liefde vir eenvoud en vir Afrikaans spreek uit die volgende woorde, wat sonder twyfel aan sy Harriet gerig is:

    Ek weet ons dink soms aan mekaar –
    sy’t nog ’n skerfie van my hart
    en ek ’n skerfie hart van haar
    al is ons jare al apart ...

    Baie dankie, liewe Piet, vir elke vers, ruimhartig meegedeel, asof persoonlik aan my gerig. Rus sag, geliefde Rympiesmaker, daar waar jy herenig is met jou Harriet en klein Daniel.

    Innige meegevoel aan die Swanepoel-gesin, -familie en vriende. Mag die Heilige Gees self jul Trooster wees.
    Myra <3

  • Ek is skoon in trane. Wat 'n pragstukkie oor jou pa en ma ... mooi mense. Atmosfeerskeppers. Ek hoop jy doen 'n biografie van jou pa en ma, Susan. Pragtig.

  • De Wet Potgieter

    Susan, ek en my vrou, Alita (Steenkamp), het 'n paar jaar gelede (kan nie die presiese datum onthou nie) die eer gehad om julle pa en ma op hul plasie by Groot Marico te ontmoet. Dit was toe hulle die plekkie wou verkoop. As ek maar net die geld gehad het om dit te kon koop want wat 'n wonderlike ervaring was dit nie. Afgesien van die lekker gesels daardie dag was dit ook 'n belewenis om deur die huis te stap en die wonderlikste ervaring was Piet Rympies se rondawel met al sy geskiedkundige rykdomme wat hy bymekaar gemaak het. Hy het daardie dag vir ons 'n ware hartseerverhaal uit die Anglo-Boereoorlog vertel en Alita wou nog teruggaan om weer daaroor te gesels vir 'n tydskrifartikel. Jou huldeblyk is 'n roerende getuigskrif van julle kinders se liefde en respek vir hom. Nederige mens wat nie roem gesoek het nie, maar bitter lief vir sy moedertaal was - dit is hoe ek hom opgesom het.
    De Wet Potgieter

  • Rene van Wyngaarden

    Piet was 'n wonderlike man. Hy het eerste vir my genooi om FB-vriende te wees, nadat ons by een of ander taalwebwerf ingeskryf het. In die tyd was die persoon wat die werf bedryf het redelik rigied en het sy nie ingesien dat ander mens se kommentare kan weglei van haar oorspronklike plasing nie. En toe ek nou weer op ’n dag so n dwaling had , het sy my van die groep verwyder. Maar toe vind ek vir Piet. Wat ’n wonderlike lewenservaring. So kort , maar so ryk! En ek is so bly dat hy nog weer vir ’n laaste maal in Australië kon gaan kuier. Sal jou mis my vriend, maar rus sag! Wonder nou net hoeveel keer hy my tremkaartjie geknip het?

  • Johan Swanepoel

    Hallo Susan. Het darem geweet van jou pa maar laas Vrydag op kanaal 147 VIA kyk ek na Vrydag4uur en 'n ene Johan Jordaan sê 'n gedig op oor Mariko Mampoer. Sjoe dit is so mooi en ek het nou alles op Google probeer om die gedig se woorde te kry want wil dit so graag weer lees maar kom nêrens reg nie totdat ek op die blad af gekom het. Is dit dalk moontlik dat jy dit hier kan plaas?

  • Lorinda Cronje

    Goeie dag, ek het vanoggend weer die program of kanaal 147 gekyk, waarna verwys word deur mnr Johan Swanepoel hierbo. En het nou op hierdie artikel afgekom oor oom Piet Rympies. Susan en al die kinders, ons innige simpatie met die afsterwe van jou pa en moeder. Dit is reeds so lank na die gebeurtenis ....
    Ek en my man Johan is so bevoorreg, ons het jou ouers se plasie in Groot Marico gekoop. Ons het 'n wonderlike twee tot drie weke spandeer by jou ouers tydens die koopproses. Wat 'n fantastiese belewenis! Tot vandag wanneer ons in die omgewing kuier en mense verneem van waar ons is, sê ons dat ons op Rympiesfontein is ... die antwoord is altyd dieselfde: " Ja dit is mos oom Piet Rympies se plek." Wat ’n besondere voorreg! Vriendelike groete Lorinda.

  • Susan Saaiman

    Dankie almal vir julle mooi kommentaar, Elle, De Wet, Rene, Fanie en Willem. Jammer ek het nie voorheen geantwoord nie. Dankie nogmaals vir die woorde. Lorinda, sjoe dis nou groot toeval of sameloop dat julle die kopers van Rympiesfontein is - mag julle geseënd wees gedurende julle lewensjare daar. Johan.... hier is die Marico Mampoer voordrag deur Johan Jordaan:
    https://www.youtube.com/watch?v=iPaNYe69Wcg

    Marico Mampoer - deur Piet Swanepoel
    Waar Marico sy loop
    Deur die boswêreld kerf
    Is die middel te koop
    Uit die outyd geërf
    Oor ‘n stadige vuur
    Word die voggies berei
    Om dan suiwer en puur
    In die bottel te gly
    En het jy dalk ‘n skeet
    En g’n niemand het raad
    Sê ek jou ( want ek weet)
    Dit is al wat sal baat
    Dit laat swak harte klop
    Dit maak vaal vroutjies fraai
    Dit vreet maagwurms op
    Dit laat wors beter braai
    Dit herstel die osoon
    En dit olie jou “gears”
    Brand jou uitlaatpyp skoon
    En sit pit in jou kers
    Al wat vas is raak los
    Al wat los is raak vas
    Tot jou tandsteen word bros
    Waar jy spoeg vrek die gras
    Dit maak sterk manne swak
    Dit gee klein outjies brul
    Dit maak kwaai perde mak
    Dit laat ou merries vul
    Dit het krag, dit het skop
    Dit het vonk, dit het vuur
    Dit is meer as net dop
    Dis Marico Kultuur
    Dis die gees van die vrug
    Wat jou grondveste roer
    Dis beroemd, dis berug
    Dis Marico mampoer
    * * *

  • Johan Swanepoel

    Baie dankie Susan. Intussen het heelwat mense, via die media videos, van die gedig die lig laat sien. En ek geniet dit elke keer. Seker maar omdat ek 'n Swanepoel is... lol

  • Susan, kan jy dalk help? Ek is op soek na die woorde van die gedig "My Maricoland" wat eendag deur Johan Jordaan (Die Donkieboer) aan ons voorgedra is en my diep geraak het. Ek verbeel my dat dit deur jou pa geskryf is. Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top