Pierre Greeff oor Die Heuwels Fantasties se Alles Wat Mal Is

  • 0

Die Heuwels Fantasties se nuwe album, Alles Wat Mal Is, is pas vrygestel. Pierre Greeff, hoofsanger van dié groep, beantwoord enkele vrae oor die album.

Dagsê, Pierre. Hoe's dinge?

Nee wat, lekker so op ’n Maandag, e-posse, e-posse, e-posse! 

Jul nuwe album, Alles Wat Mal Is, is onlangs aan die breër publiek bekendgestel. Hoe lyk die reaksie tot dusver en hoe voorspel julle sal aanhangers, oues en nuwes, reageer op die songs?

Ag wat, dis nog nie eers ’n week nie, maar op Twitter en Facebook lyk dit baie positief en ons is baie dankbaar dat daar so baie mense daar buite is wat bereid is om te luister na wat ons aanvang ... ons dink soos met albei die voriges is daar moontlik iets vir almal, oud en jonk, sover my gunstelingplaat van ons, persoonlik!

Jy het genoem dat julle met die algemene sound van die album gemik het vir iets tussen die klank wat prominent was op die eerste album en die klank van die vorige album, Wilder as die Wildtuin. Hoe het die prosesse van jul gedagtes en besluitneming in hierdie opsig tot stand gekom en afgeloop?

Met hierdie album het ons nie als in ’n professionele ateljee opgeneem nie, ons het eerder ’n huis in Houtbaai gehuur en self die meeste van die instrumente opgeneem soos wat ons die liedjies geskryf het ... dis so ’n lekker spasie gewees om in te werk en ek dink mens hoor dit op die album.

Vir die konseptualisering, skryf en opneem van die album het die lede van die band vir ’n lang tydperk by ’n Kaapse huis gewerk en julle op hierdie taak toegespits. Hoe is die besluit geneem om hierdie proses te volg? Hoe was die ervaring en in hoe ’n mate het dit die kreatiewe proses beïnvloed in vergelyking met vorige benaderings?

Dit was ’n logiese stap vir ons, ons het ’n spasie nodig gehad waar ons net kan musiek maak en niks anders nie en dis wat die huis in Houtbaai geword het ... dit het die hele skryfproses daadwerklik aangewakker en omtrent elke dag wat ons daar was is ’n nuwe idee of halwe idee neergelê en meeste van hulle hoor jy op die album, ek dink net drie halwe liedjies is oorgelos vir ’n ander album of hoe ookal. 


Philip Erasmus, Pierre Greeff, Fred den Hartog en Hunter Kennedy. Foto: Jaco S. Venter

In hoe ’n mate verskil die skryf- en skepproses deesdae in vergelyking met toe julle begin het as drie lede (jyself, Hunter Kennedy en Johnny de Ridder) tot hoe dit vandag (minus Johnny en plus Fred den Hartog en Philip Erasmus in die span) plaasvind? Hoe beskou jy die evolusie van jul klank, lirieke en 'song structure' van toe tot nou?

Fred het bygekom met die skryf al op Wilder as die Wildtuin en dit was nog nooit minus Johnny nie, hy het hierdie nuwe plaat, asook Wilder vermeng en produksiebydraes gemaak. Fred doen ook baie programmering en as mens van ver af moet kyk dink ek net die workflow is beter en dinge gebeur nou vinniger ... en ons het sowaar ’n uitstekende tromspeler in Philip. Jy kan sy energie op die opnames duidelik hoor post die eerste album. Lirieke is maar steeds ek en Hunter. 

In dieselfde asem – daar word met verskeie temas omgegaan in die lirieke op die album. Opmerklik is dat van die temas van jul vroeë werk, veral met verwysing na jul eerste treffer, "Oorlewing 101", se vertolking van voorstedelike frustrasie, nog kop uitsteek, soos op "Die Volkslied": "ons sluk die spasie in /om verveeldheid te oorwin / en koekonne vir al ons kinders te spin" en "daar's ’n oop stuk grond / kom ons bou ’n gat daarop / ’n stoor vir ons huishoudelike stront ..." Het julle spesifieke besluite geneem oor watter idees julle wil aanraak op die album? Hoe verskil dit van jul vorige werk en watter faktore speel ’n rol in die groei van ’n kunstenaar se liriekskepping?

Ek dink ons skryf maar wat ookal ons voel op die stadium wanneer die liedjies gemaak word ... dis rêrig soos om ’n spieël op te hou in terme van wat jy dink op daardie stadium. 

Verskeie interessante elemente is betrek by die musiek – onder meer verskyn die Gugulethu Tenore op "Koolstof Drome" en word Irish War Pipes op "Die Volkslied" gehoor. Wat was jul oorwegings in terme van hoe en waar om instrumente en musikante van buite te betrek?

Lou-Ann Stone speel saksofoon ook op "Beloofde Land" en dis ’n instrument wat ons al wou gebruik het sedert die eerste plaat, so dis rêrig wonderlik dat ons kon, sy het so ’n groot bydrae op daardie liedjie gemaak! Die Tenore het ons ontmoet by Skouspel siende dat hulle langs ons in die hotel gebly het en ons het vriende geword ... dit was maar soos al ons ander colabs op al die vorige albums, natuurlike uitvloeisels (vriende wat kom musiek maak op jou nuwe CD). Ek en Hunter was in Ierland hierdie Junie op ons bucketlist-trip (Paul Simon se Graceland-konsert in Londen, Bruce Springsteen in Dublin en Ernie Els se ope sege in Lytham st. Annes by die Britse Ope) en het vir Andrew Kenny, ’n jong bag pipe player, in ’n pub in Doolin in die weste van Ierland ontmoet en die lied vir hom gestuur want ons het gedink dit kan werk. Dit was lank terug en wragtig, die dag van die vermenging-deadline het sy opnames by ons arriveer ... dit add so baie aan daardie tune! Awesome!

Wanneer ’n groep soos Die Heuwels Fantasties so ’n groot en wye aanhang wen, soos julle het, wil ’n mens natuurlik oor die lang termyn jou getroue aanhangers behou en ook nuwes wen. Hoe ’n groot rol speel hierdie oorweging in die benadering tot die skryf, opneem en vrystelling van nuwe materiaal?

Ons doen wat ons doen en al wat ons altyd hoop is dat ons aanhangers kan relate met die materiaal, dis regtig ons enigste oorweging. 

Die Antwoord het al in die verlede gesê hulle sal vyf albums vrystel en dit sal die einde daarvan wees. Is daar soortgelyke gedagtes in die Heuwels-span wat die toekoms betref, of hoe dink julle oor die lang termyn? 

Sê jy vir my, ons dink definitief nie so ver op die oomblik nie. 

Het jy enige gunsteling-snitte op die album? Oor watter songs is jy die mees opgewonde om live uit te voer?

My gunsteling op die oomblik is "Ek Sou Wou" en by die paar launch shows in Stellenbosch en Johannesburg en Pretoria het hy heel lekker afgegaan! 

- Die Heuwels Fantasties tree Vrydag 23 November by Wunderbar in Kaapstad op vir die bekendstelling van Alles Wat Mal Is. Besoek hul webwerf vir verdere besonderhede oor optredes.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top