Piekniek en pret met Kersvader in die Boland

  • 0

Taalmonument deel die gees van gee met poppekas, ballonne en geskenke.

Om die druk op hom te verlig, het Kersvader besluit om solank vooraf ’n paar geskenke uit te deel tydens ’n piekniek by die pragtige Afrikaanse Taalmonument op Saterdag, 19 Desember 2020 – ’n aand wat ook ten bate van ’n goeie doel geskied.

Die heerlike program sal om 17:00 afskop met die poppekasvertoning 'Hentie en die Kersfeeskrisis' deur Henties waarna Mendl Lategan die kinders sal vermaak met die kuns om beelde uit ballonne te skep. Omstreeks 19:00 sal Kersvader opdaag en geskenke uitdeel voordat die son sak, waarna die ouers en kinders rustig verder piekniek kan hou tot 22:00.

Dié pieknieks op Paarlberg is baie gewild onder plaaslike inwoners én besoekers, wat veral die sonsondergang en pragtige naguitsig op die valleie, berge en skiereiland geniet. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en daar is buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Die piekniekreeks word boonop ten bate van 'Laat ons Lees!', die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, aangebied en gaste word aangemoedig om ’n nuwe of tweedehandse kinderboek ter ondersteuning hiervan te skenk.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies mee te bring of een vooraf by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier) te bestel. Die kiosk sal ook vir ander eet- en drinkgoed oop wees. Trek warm aan en bring 'n flits asook 'n masker saam. Sien www.taalmuseum.co.za/covid-19/ vir die spesifieke protokolle. Genoeg veilige parkering is beskikbaar.

Toegang is slegs R40 per volwassene, R10 per pensioenaris/student en gratis vir kinders onder 18 jaar. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en, indien daar nog oor is, by die hek op die dag self vanaf 16:00. Die vertonings begin om 17:00 en Kersvader behoort om 19:00 sy opwagting te maak om geskenke uit te deel, dus ouers moet asseblief hul kinders se duidelik gemerkte geskenke teen 18:00 in sy Kerskous in die Besoekersentrum besorg. Jaarpermitte (tans teen 20%-afslag) is beskikbaar teen R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top