Piaf & Brel: Luisterryk! deur Naòmi Morgan en Bernard Odendaal: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 5

Piaf & Brel: Luisterryk!
deur Naòmi Morgan en Bernard Odendaal
Uitgewer: Imprimatur (2023)
ISBN:
978-0-6397-4611-1

Si quelqu’un était poète, il ne serait sûrement pas de la chanson, vous comprenez. Si quelqu’un avait vraiment beaucoup de talent, il ne serait non plus certainement pas dans la chanson, c’est certain. […] les gens qui font de la chanson, ils ont peut-être tous voulu pendant dix minutes être Rimbaud et comme ils ne sont juste pas Rimbaud, ils essaient de faire des chansons jolies ou honnêtes. – Jacques Brel (Odendaal en Morgan 2009)

1. Agtergrond

Die bundel Piaf & Brel: Luisterryk! bevat Afrikaanse en Franse tekste naas mekaar van die belangrikste liedere uit die onderskeie oeuvres van Edith Piaf en Jacques Brel (Morgan & Odendaal, 2023). Die titel en omslagkuns van die bundel herinner aan ’n plakkaat wat ’n verhoogproduksie bekendstel. Die bundel is gerig op Afrikaanssprekende entoesiaste van die Franse chansons en poësieliefhebbers wat in die Franse kultuur en die unieke, gesofistikeerde nagklubwêreld van Parys belangstel.

Naòmi Morgan (foto: verskaf)

Naòmi Morgan is ’n professor in Frans aan die Universiteit van die Vrystaat en is ’n vertaler van Franse tekste soos Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran (beide Eric-Emmanuel Schmitt) en Die klein prinsie (Antoine de Saint-Exupéry) in Afrikaans. Sy het ook François Smith se Kamphoer in 2021 in Frans vertaal. Sy het verskeie toekennings vir haar bydrae tot die vertaalkuns ontvang en is onder meer ’n Chevalier des Arts et des Lettres de la République Française (Ridder in Kunste en Lettere van die Franse Republiek).

Bernard Odendaal (foto: verskaf)

Bernard Odendaal is ’n voormalige professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat en later Noordwes-Universiteit. Hy was vanaf 2012 die direkteur van die ATKV-Skryfskool tot sy aftrede in 2020. Twee digbundels, Onbedoelde land (2007) en Nootvat. Kwashaal. Stapel (2021), het uit sy pen verskyn. Van sy gedigte is in Groot verseboek, Nuwe stemme 2, Honderd jaar later en die Versindaba-reeks opgeneem.

Die bundel Piaf & Brel: Luisterryk! het ontstaan na aanleiding van omdigtings wat sedert 2004 gedoen is deur Morgan en Odendaal, in samewerking met die musikante Herman van den Berg, Jolette Odendaal en Matthys Maree, ten einde verhoogproduksies saam te stel wat die musiek van Piaf en Brel toeganklik maak vir Afrikaanse gehore.

Die bundel bevat ’n omvattende voorwoord wat die relevansie van Piaf en Brel in die Franse chansontradisie beklemtoon; die ontstaansgeskiedenis van die omdigtings uiteensit; en die vertaalstrategie omskryf. Vele aspekte hiervan was ook voorheen in Literator (Odendaal & Morgan, 2009) en op Versindaba gepubliseer (Odendaal & Morgan, 2010). Daar word op gewys dat hierdie projek, wat bykans 20 jaar beslaan, tot verskeie verhoogproduksies en CD-uitreikings gelei het. Die verhoogproduksies, met meegaande teks deur Morgan, is hier ter plaatse asook in die Lae Lande in kabaretvorm uitgevoer as My man, Jacques Brel – in klinkende Afrikaans! en Jacques Brel: die tere oorlog van die liefde. Twee volledige CD’s is deur Herman van den Berg vrygestel. Enkele omdigtings is ook deur Jannie du Toit en Koos van der Merwe in hulle CD-vrystellings ingesluit. Sedertdien is Piaf se liedtekste ook binne die projek betrek en is ’n verdere verhoogproduksie in kabaretvorm uitgevoer, getitel Brel & Piaf: Paryse tweesang.

Herman van den Berg se CD’s Brel in Afrikaans (vrygestel deur die platemaatskappy Zimbraz) en Brel: laat my by jou bly (eie vrystelling). Foto’s: Discogs 

In die bogenoemde voorwoord verklaar die outeurs (Morgan & Odendaal, 2023, p. 14): “Dit gaan hierdie keer om ’n boek; om tekste wat onafhanklik van hulle toonsettings ervaar moet word. Ons wou die toeganklikheid daarvan as leestekste bevorder.”

Ook in ’n gesprek op die sosiale media op 23 Junie 2023 verklaar Morgan: “[D]ie poëtiese gevoel daarvan is Bernard Odendaal se werk. Brel was later baie gefrustreerd met die chanson-formaat. Hy wou meer hê, digter wees. Hy ís nou, maar in Afrikaans, danksy Bernard.”

Die musiek van Piaf en Brel is nie totaal volksvreemd vir Suid-Afrikaanse gehore nie. Die bekendste plaaslike vertolker van hulle onderskeie oeuvres is die Fransgebore Daniele Pascal, na wie soms verwys word as die “ambassadeur van die chanson in Suid-Afrika” (Pascal, 2023).

Daniele Pascal se CD’s Hymne à l’amour: The songs of Edith Piaf en Pascal sings brel (albei vrygestel deur Leo Productions). Foto’s: Discogs

Daar is ook heelparty Afrikaanse musikante wat al vertolkings van Piaf of Brel in Nederlands, Engels of Frans (asook enkele Afrikaanse vertolkings) gedoen het, insluitend Laurika Rauch, Amanda Strydom, André Schwartz, Niël Rademan, Karin Hougaard, Helena Hettema en Jannie du Toit (Morgan, 2016). Die belangrikste skrywers van Afrikaanse kaberettekste was Hennie Aucamp en Stephan Bouwer. Die Kerslig Vers en Melodie-program het die Afrikaanse kleinkuns en die Afrikaanse lied op soortgelyke wyse as die chanson bevorder.

In die Lae Lande is Herman van Veen, Stef Bos, Liesbeth List, Trijntje Oosterhuis, Ellen ten Damme en Jeroen Willems bekend vir hulle vertolkings in Nederlands en Frans.

In Duitsland is die Berlynse chansonnier Klaus Hoffmann bekend vir sy vertolking van Brel in Duits. Die Switser Stephan Eicher is ook vandag bekend vir vertolkings van die chanson in Duits.

In die Engelssprekende lande is daar te veel vertolkers om hier te noem.

2. Die chansontradisie

Min musikale tradisies is so onlosmaaklik deel van die nasionale kultuurgoedere en identiteit van ’n land soos die Franse chanson. Maar dit behoort nie eksklusief aan Frankryk nie – daar is immers ook verskeie ander Franssprekende lande, soos België, Kanada en selfs Afrikalande, wat voorheen Franse kolonies was.

Chanson is ’n tradisie met ’n lang geskiedenis. Chanson is ’n Franse woord wat “lied” beteken. Dit verwys na ’n verskeidenheid Franse liedere uit die troebadoertradisie: reisende digters en musikante wat liedere oor liefde, verlies en avontuur uitgevoer het. Dit oorspan verskeie periodes, van die monofoniese gesang van die Middeleeue en die meerstemmige sang van die Renaissance tot interpretasies eie aan elkeen van die klassieke periodes. Daar is ’n gesegde in Frankryk dat alles uiteindelik ’n chanson word. Die moderne chanson het ontstaan uit die 19de-eeuse kabaretmusiek in Parys en die fin de siècle-epog waartydens daar aanvaar is dat die verbygaan van die 19de eeu ’n fundamentele historiese diskontinuïteit verteenwoordig. Hierdie tydperk is gekenmerk deur groot verandering, omwenteling en die gepaardgaande kreatiwiteit en vernuwing van die Modernisme (Gay 2007). Die fin-de-siècle-kunsbeweging is bekend vir gesofistikeerde en dekadente estetika; ontvlugting as ’n manier om die uitdagings van die moderne wêreld te hanteer; wêreldmoegheid en pessimisme oor die toekoms; en ’n beklemtoning van elegansie, luuksheid en eksotisisme. Die noue verwantskap tussen chanson en kabaret is opvallend: Kabaret bied ’n verhoog waarvandaan die chanson uitgevoer word. Dit verklaar ook die teatrale aard van die moderne chanson (Cordier 1988).

In die chanson-tradisie word ’n belangrike onderskeid getref tussen vertolkers (genoem chanteurs/chanteuses); en sanger-liedmakers (genoem chansonniers/chansonnières).

In die moderne chanson staan enkele name uit as chanteurs en chanteuses: Piaf, Juliette Gréco, Mireille Mathieu, Cora Vaucaire, Rosalie Dubois, Yves Montand en Serge Reggiani. Daar was ook chanteuses wat direk geassosieer word met die Resistance tydens die Tweede Wêreldoorlog, byvoorbeeld Irène de Trébert, en Anna Marly en Germaine Sablon, wat beide bekend is vir die lied “Le chant des partisans”.

Soortgelyk staan enkele name uit as chansonniers en chansonnières: Brel, Georges Brassens, Léo Ferré, Georges Moustaki, Charles Aznavour, Gilbert Bécaud, Francis Lemarque, Charles Dumont, Maurice Fanon, Jean Ferrat, Serge Gainsbourg, Marc Ogeret, Anne Sylvestre en Barbara. Jacques Prevert, Maurice Chevalier, Charles Trenet, Berthe Sylva en Germaine Montéro was belangrike voorlopers tot hierdie groep.

Indien die hedendaagse epigone van die bogenoemde chansonniers ondersoek word, kan name soos dié van Patrick Bruel, Serge Lama, Benjamin Biolay, Jean-Louis Murat, Christophe Miossec, Gérard Pierron, Marc Robine, Michèle Bernard, Renaud Séchan, Georges Chelon en Francis Cabrel by hierdie lys gevoeg word. Patricia Kaas, die Armeensgebore Nara Noïan, en die Kanadees-gebore Francesca Gagnon onderskei hulself as die belangrikste chanteuses van die dag.

Ek was bevoorreg om omvattend deur Frankryk te kon reis en was betower deur die groot aantal opkomende chansonniers en chansonnières wat sedert die voorgenoemdes op die toneel verskyn het: Damien Saez, Yves Jamait, Mano Solo, Christian Olivier, Soan, Raphaël Haroche, Vincent Delerm, Juliette Noureddine, Bénabar en Gabriel Saglio.

Daar is ook heelparty opkomende chansongroepe (nouvelle chanson genoem) met aweregse name soos Têtes Raides, Weepers Circus, Acorps de Rue, Les Hurlements d’Léo, Les Ogres de Barback, Debout sur le Zinc, La Route des Airs, La Mine de Rien, La Rue Kétanou, Le Nomade Statique, Le Balluche De La Saugrenue, Les P'tits Fils De Jeanine, Les P'tits Gars Laids, Les P'tits Yeux, Les Têtes De Piafs, Les Tit' Nassels en Les Négresses Vertes (lesers kan gerus die meegaande speellys op Spotify beluister) (Moll 2023).

Dit is opvallend dat heelparty chansonniers se oeuvres ook toonsettings van Baudelaire, Rimbaud, Verlaine, Villon en Apollinaire insluit.

Charles Baudelaire, Paul Verlaine en Guillaume Apollinaire (Foto’s: openbare domein, Wikimedia Commons)

Ewewydig aan die Franse tradisie is daar in verskeie ander Europese lande soortgelyke tradisies gevestig. Die Duitssprekende lande het byvoorbeeld sedert die vroeë Romantiek ’n Lieder-tradisie met komponiste soos Schubert (wat hoofsaaklik steun op tekste van Goethe), Schumann (wat hoofsaaklik steun op tekste van Eichendorff en Heine), Mahler (wat hoofsaaklik steun op tekste van Rückert en Duitse vertalings van Chinese poësie) en Richard Strauss (wat hoofsaaklik steun op tekste van Eichendorff en Hesse) aan die spits. Met die koms van die Weimar-era het die onsekerheid, maatskaplike onrus en dekandensie gelei tot die totstandkoming van ’n eweknie van die Franse kabaretkultuur in Duitsland as deel van ’n groter ideaal om aan Berlyn ’n kultuurstatus ekwivalent aan dié van Parys op te eis. Daar word as gevolg hiervan soms verwys na die Berlynse chansonkultuur waarmee kunstenaars soos Marlene Dietrich, Hildegard Knef en Harald Juhnke geassosieer word, asook liedmakers wat Bertholdt Brecht, Kurt Weill en Hanns Eisler insluit. Ongelukkig het die opkoms van die Derde Ryk en die gepaardgaande sensuur daartoe gelei dat die meeste van hierdie kunstenaars na die VSA uitgewyk het en só het die Derde Ryk hulle eie ambisies ondermyn (Jelavich 1993).

3. Liedtekste as subspesie van die poësie

Ten einde ’n akkurate inskatting van die bundel te doen, is dit enersyds nodig om liedtekste as subspesie van die poësie te verken (hierdie afdeling); en andersyds om die vertaalkuns as studieveld in die letterkunde te verken (afdeling 4).

Literêre terme en teorieë (Cloete ea 1992) definieer lied soos volg:

Die spontaanste liriese literêre produk waarin op skynbaar ongedwonge wyse stemminge van vreugde, verering, smart of verrukking tot uitdrukking gebring word, is die lied. So ken ons die lied vandag: as ’n literêre produk wat geskryf is om gelees te word. Vroeër was die lied egter, soos die naam aandui, veronderstel om gesing te word, selfs in gevalle waar dit sterk verhalend was – sang begelei op die lier.

[...] Die literêre lied het onbetwisbare singmoontlikhede, wat saamhang met sy liriese aanslag, sy reëlmatige strofebou en sterk metriese gang.

Volgens Van Gorp (in dieselfde bron aangehaal) word die chanson van ander populêre musiektekste onderskei deurdat dit “aandag vraagd voor de inhoudelijke en vormelijke aspecten van de liedtekst” en word daar soms daarna verwys as chanson artistique, chanson littéraire of chanson poetique. “De tekst beoogt duidelijk 'poëtisch' te functioneren.”

Die Nederlandse digter, chansonvertaler en letterkundige Ernst van Altena verwoord hierdie kwaliteit van die chanson as “’n lied wat ook sonder sy musiek kan bestaan” in gesprek met die gevierde kenner van lied- en kabarettekste, Hennie Aucamp (Aucamp 1984). Morgan en Odendaal maan egter dat die liedteks nie noodwendig suiwer poësie is nie en dat “suiwer poësie selfstandig is en sonder musiek kan klaarkom”, soos aangedui in Cloete ea 1992).

Volgens Aucamp word die voortreflikheid van liedtekste bepaal “om hulle woordspelings en soms anormale taalgebruik; om hulle organisasie van ’n gevoelsargument”; en “[S]ang is verhewigde spraak” (Aucamp 1977). Morgan en Odendaal wys daarop dat dit juis die fyn ewewig tussen die teks en die musiek is wat die uiteindelike gehalte bepaal.

Piaf en Brel het bekendheid verwerf as die eerste volwaardige supersterre van die chanson op die wêreldverhoog. Hierdie verhewe status is waarskynlik om verskillende redes verwerf, en dit mag moontlik oppervlakkennis wees wat daartoe lei dat hulle name so geredelik in dieselfde asem genoem word. In die geval van Piaf is hierdie status hoofsaaklik verwerf as chanteuse (vertolker). Die meerderheid van haar liedere is deur Charles Dumont en Michel Vaucaire gekomponeer (Burke 2011). In die geval van Brel is hierdie status hoofsaaklik verwerf as chansonnier (liedmaker) – toegegee, die pianis Gérard Jouannest het ook bygedra het tot die musikale verwerking van sy liedere (Dauncy en Cannon 2016).

Edith Piaf (Foto: openbare domein, Wikimedia Commons)

Dit is dus belangrik om daarop te let dat oorspronklike liedtekste deur Piaf inderwaarheid net ’n klein gedeelte van haar oeuvre beslaan en dat haar status dus eerder ooreenstem met dié van ’n popster. Om die liedtekste van hierdie twee kunstenaars op een verhoog te plaas is baie sinvol vanuit ’n kommersiële oogpunt, maar problematies indien ’n etiket van literariteit daaraan verleen sou word. Dan sou Brel, om dieselfde redes as Bob Dylan of Leonard Cohen, so ’n etiket waardig wees, maar nie Piaf nie. Ek het dus gefrons oor die aanbod van Afrikaanse liedtekste van Piaf en Brel in een bundel, veral waar die liedtekste van Piaf se oeuvre in die bundel meestal nie haar eie oorspronklike tekste is nie. Dit skep gewoon dieselfde indruk as wat ’n bundel wat tekste van byvoorbeeld Madonna en Leonard Cohen in een asem sou aanbied, sou skep. Daarom sou ’n bundel wat uitsluitlik op Brel fokus, van groter literêre waarde wees. So ’n bundel sou moontlik ook die ander groot chansonniers, byvoorbeeld Brassens en Ferré, kon betrek.

Sou die fokus na Brel verskuif, is dit toepaslik om sy oeuvre en kenmerkende styl te verken. Brel se uitvoerings het gehore in vervoering gehad as gevolg van die rou, emosiebelaaide, passievolle en obsessiewe lirieke en die eerlike wyse waarop hy sy eie werk vertolk het. Morgan en Odendaal haal Van Altena aan wat die unieke en sterk persoonlikheid wat in al Brel se lirieke teenwoordig is, beklemtoon, en die “snyende ironie” van sy latere werk (Van Altena 2005).

Die belangrikste Nederlandse omdigtings van Brel is deur Ernst van Altena gedoen (Van Altena 1964; 2005). ’n Leerling van hom, Lennaert Nijgh, is verantwoordelik vir ’n bekende en ikoniese omdigting wat as “Liefde van later” bekendstaan. Die digter en liedmaker Willem Wilmink is ook verantwoordelik vir enkele omdigtings, byvoorbeeld “Een vriend zien huilen”.

Van Altena, aangehaal deur die Odendaal en Morgan in Literator, 2009, spreek hom soos volg oor Brel uit:

Waarschijnlijk ook realiseren we ons in retrospectief beter dat Brels dood het einde van een cultureel tijdperk inluidde en wel dat van het lied als groot theatraal expressiemiddel waarin persoonlijke poëzie, inventieve, niet uit de computer gehaalde muziek en dramatische uitdrukkingskracht nog konden samengaan om een breed, niet door generatiekloven gescheiden publiek te veroveren.

Die belangrikste Engelse omdigtings is deur die Amerikaanse liedmaker en omstrede digter Rod McKuen gedoen (McKuen 1974), en die belangrikste Duitse omdigtings deur Dieter Keiser (Keiser 2023).

Dit is uiters relevant om daarop te let dat Brel sommige omdigtings onderskryf het. As boorling van Vlaandere het hy die Nederlandse omdigtings goed verstaan, en het hy enkele van Van Altena se weergawes self vertolk. Hoewel McKuen se status as digter dikwels bevraagteken is en sy eie poësie as kitsch afgemaak is, was hy ’n lewenslange musikale vriend van Brel wat die omdigtings met Brel se volle medewete en ondersteuning gedoen het.

Van Brel se afsterwe het McKuen gesê:

As friends and as musical collaborators we had traveled, toured and written – together and apart – the events of our lives as if they were songs, and I guess they were. When news of Jacques' death came I stayed locked in my bedroom and drank for a week. That kind of self-pity was something he wouldn't have approved of, but all I could do was replay our songs (our children) and ruminate over our unfinished life together.

’n Volledige register van Brel-omdigtings in alle tale is beskikbaar by die webwerf brelitude.net (Onbekend 2023).

In Afrikaans is die bekendste omdigtings van enkele liedere deur Jannie du Toit, Karin Hougaard en Fanus Rautenbach gedoen.

Karin Hougaard se Metamorph (vrygestel deur Jns Records; foto: Discogs)

4. Die vertaalkuns

’n Literêre vertaalde teks word ondersoek om te verstaan waar die teks staan in verhouding tot die oorspronklike deur die interpretatiewe potensiaal wat voortspruit uit die vertaalkeuses wat gemaak is, te ontleed. Die inskatting van vertalings behoort deur voorbeelde geverifieer te word en daar moet bepaal word of die fyn nuansering van die bronteks verwoord is (Berman 2009; 2018).

Morgan en Odendaal verduidelik dat ’n vertaalstrategie gevolg is waartydens Morgan eers ’n direkte vertaling van die tekste gedoen het. Odendaal het dit dan verwerk tot ’n Afrikaanse liedteks binne die rymskema en metrum van die oorspronklike teks. Dit is dan aan Van den Berg en (Jolette) Odendaal verskaf wat getoets het of die Afrikaanse weergawes musikaal uitgevoer kon word. Hierdie proses van omdigting is herhaal totdat die beste moontlike gehalte verkry is. Daar word ook op gewys dat Morgan en Odendaal doelbewus nie enige vorm van transkulturele vertaling probeer bewerk het nie en dat die oorspronklike nuansering sover moontlik behou is.

Daar word melding gemaak van bestaande omdigtings van Piaf en Brel in Engels, maar dat dit Morgan en Odendaal se mening is dat tydens “veral die Engelse vertalings, veel verlore gegaan het van die betekenisstrekking en toonaard van die oorspronklike liedtekste” en dat dit gevolglik nie die nodige gravitas aan die liedere verleen nie.

Morgan en Odendaal het ’n deeglike studie gemaak van bestaande omdigtings in Nederlands (byvoorbeeld die omdigtings van Van Altena en Lennaert Nijgh). Omdat die omdigting van Franse liedtekste in Afrikaans ’n uitdagende proses is, hoop ek dat die Nederlands, waar moontlik, wel vergelykend bestudeer en as verifiëring gebruik is, omdat die grammatiese struktuur van Nederlands soortgelyk aan dié van Afrikaans is, maar ook omdat sommige refreine uit die Nederlands reeds by Afrikaanse gehore eggo. Om hierdie tekste in geheel te ignoreer of as minderwaardig weg te praat sou dus kortsigtig wees.

Vervolgens ’n bondige vergelyking van die bekendste fragmente uit enkele liedere wat reeds in Afrikaanse of Nederlandse omdigting bekend is aan plaaslike gehore. Die relevansie van die Nederlandse omdigtings kan nie onderskat word nie, omdat Brel dit self deel van sy repertoire gemaak het.

Ne me quitte pas (bl 178)

Die lied is in Engels vertaal deur Rod McKuen as “If you go away” (McKuen 1974) en dit het die standaard geword vir die uitvoering van die lied in Engels. Fanus Rautenbach se gewilde Afrikaanse omdigting is geensins minderwaardig nie, maar enkele aspekte van die betekenis gaan, soos in die geval van McKuen se omdigting, verlore ter wille van die musikaliteit daarvan. Ook Stef Bos het onlangs ’n roerende opname van sy eie Afrikaanse omdigting gemaak (Bos 2023). Die belangrikste omdigting is egter dié van Van Altena, aangesien dit deur Brel self opgeneem en onderskryf is.

Hiermee ’n vergelykende uittreksel uit die lied:

Laat my by jou bly (Morgan en Odendaal)

Moenie weggaan nie (Fanus Rautenbach)

Laat me niet alleen (Ernst van Altena)

Laat my by jou bly.
Laat ons liefs vergeet.
Mens kan als vergeet,
als laat agterbly.
Mens kan tyd vergeet;
tyd op stry verspeel;
tyd op swyg verspeel,
op wil-niks-meer-weet;
tyd wat ook kon staan
stil soos in ’n kerk,
breed soos engelvlerk,
bang ook wat vergaan.
Laat my by jou bly (x4)

Ek sal dou laat bring,
vroeg uit ’n woestyn;
druppels, kristallyn,
om jou mooi hals string.
Ek sal dieper grou
in my hart in af,
dieper as die graf,
na ’n skat vir jou.
Ook bou ek ’n ryk
waar die liefde heers,
waar die liefde heers,
op die troon jý pryk
laat my by jou bly (x4)

Moenie weggaan nie
Jy moet liewer vergeet –
Maar, jy moet net onthou:
Verby is verby
Wis uit die tyd
Van misverstand
En die tyd verspil
Die aanhou probeer
Om te vergeet
Van die weggaantyd
Gister het gebeur
Moenie weggaan nie (x4)

Maar, ek belowe jou nou
Gepêrelde dou
Juwele van reën
Want so word ons een
Ek sal die aarde verskuif
Tot lank na my dood
Met glans jou beklee
In goue lig doop
Ek gee jou ’n ryk
Waar die liefde regeer
Soos die liefde ons leer
In ons klein koninkryk
Moenie weggaan nie (x4)

Laat me niet alleen
Toe vergeet de strijd
Toe vergeet de nijd
Laat me niet alleen
En die domme tijd
Vol van misverstand
Ach vergeet hem, want
'T Was verspilde tijd
Hoe vaak hebben wij
Met een snijdend woord
Ons geluk vermoord
Kom dat is voorbij
Laat me niet alleen (x4)

Lief, ik zoek voor jou
In 't stof van de wegen
De paarlen van regen
De paarlen van dauw
Ik zal al mijn leven
Werken zonder rust
Om jou licht en lust
Goud en goed te geven
Ik sticht een gebied
Waar de liefde troont
Waar de liefde loont
Waar jouw wil geschiedt
Laat me niet alleen (x4)

 

Die vertaling van die titel deur Morgan en Odendaal is problematies en peuter onnodig aan die betekenis. Indien dit direk uit die Frans vertaal word, is die betekenisstrekking “Moenie van my af weggaan nie” of “Moet my nie verlaat nie”.

Dit is ooglopend dat Van Altena se weergawe ’n belangrike sleutel bied tot die ontsluiting van die lied. Die teatrale kwaliteit, die angst en die obsessiwiteit is minder voelbaar in Morgan en Odendaal se omdigting. Ook die refrein, wat reeds by Afrikaanse gehore eggo, gaan verlore. Dit mog dus meer geslaagd gewees het om die Nederlandse refrein te behou, soos wat die outeurs gedoen het met “Marieke” (bl 125).

Le plat pays (bl 98).

Van Altena se Nederlandse omdigting is, soos in die geval van “Ne me quitte pas”, ook deur Brel self opgeneem en onderskryf.

Hiermee ’n vergelykende uittreksel uit die lied:

My lae land (Morgan en Odendaal) Mijn vlakke land (Ernst van Altena)

Die see wat wag of woed, wat maak soos ’n woestyn;
die duine in sy pad waarteen hy koppig dein;
die yl gestrooide rotse wat sy vloed afslaan,
dan laag lê in die eb en hul ’n vesting waan;
die mis, spookagtig, kil, wat altyd binnesluip;
die oostewind wat gier, en gierig om hom gryp –
die Lae Land van my.

Die katedraalgedoe wat hier soos berge rys;
die koers na Leeglêland waarop die torings wys;
die spuierduiwels, stom van dakke af aan’t lag;
die uurwerke wat traag-traag tik aan nog ’n dag;
die geutgegorrel van die reën wat nag wil sê;
die westewind wat tjank om als wat hy wil hê –
die Lae Land van my.

Die lug so laag gepak dat hemel aarde raak;
die lug so laag gepak dat mense dwerge raak;
die lug so grys gevul, riviere vloei deur wolk;
die lug so grys gevul, mens praat en asem wolk;
die noordewind wat toeslaan, elke koers en kant;
die noordewind wat toeslaan, vierendeel die land –
die Lae Land van my.

Wanneer de Noordzee koppig breekt aan hoge duinen
En witte vlokken schuim uiteenslaan op de kruinen
Wanneer de norse vloed beukt aan het zwart basalt
En over dijk en duin de grijze nevel valt
Wanneer bij eb het strand woest is als een woestijn
En natte westenwinden gieren van venijn
Dan vecht mijn land
Mijn vlakke land

Wanneer de regen daalt op straten, pleinen, perken
Op dak en torenspits van hemelhoge kerken
Die in dit vlakke land de enige bergen zijn
Wanneer onder de wolken mensen dwergen zijn
Wanneer de dagen gaan in domme regelmaat
En bolle oostenwind het land nog vlakker slaat
Dan wacht mijn land
Mijn vlakke land

Wanneer de lage lucht vlak over het water scheert
Wanneer de lage lucht ons nederigheid leert
Wanneer de lage lucht er grijs als leisteen is
Wanneer de lage lucht er vaal als kleileem is
Wanneer de noordewind de vlakte vierendeelt
Wanneer de noordewind er onze adem steelt
Dan kraakt mijn land
Mijn vlakke land

 

Die struktuur van die openingsreël in die oorspronklike Frans, “Avec la mer du Nord ...” (Met die Noordsee ...), word deurgaans gebruik (die woord avec kom dikwels aan die begin van reëls in die teks voor). Van Altena vertaal dit as “Wanneer de Noordzee ...” en herhaal hierdie patroon deurgaans in die teks as Nederlandse ekwivalent en vorm só ’n narratiewe gang (wanneer ... / wanneer ... / wanneer ... / dan ...). Hierteenoor het Morgan en Odendaal se omdigting ’n baie meer beskrywende strekking, wat myns insiens die karakter van die lied ondermyn. Dit sou gevolglik kon baat by ’n soortgelyke sintaktiese struktuur as dié van Van Altena.

La chanson des vieux amants (bl 244)

Dié lied is dikwels herkenbaar as die Nederlandse “Liefde van later”, wat oorspronklik deur Herman van Veen bekend gemaak is. Die omdigting is deur die Nederlandse liriekskrywer Lennaert Nijgh gedoen.

Hiermee ’n vergelykende uittreksel uit die lied:

Lied van die ou minnaars (Morgan en Odendaal)

Liefde van later (Lennaert Nijgh)

Natuurlik het ons kwaai baklei ook;
net dolverlief kan so lank woed.
En duisend maal wou jy my skei ook,
het ek gesê dit pas my goed.
In hierdie wiegielose huis
ontglip die ander meublement
die woedebuie nie wat tier nie;
en niks is ooit meer rêrig pluis,
vol doodgedwonge sentiment,
eenvoudig vatbaar vir plesier nie –

maar, o, my lief,
my fraaie, fel, volslae hartedief,
van smôrens af tot snags het ek jou lief,
begeer ek jou, bemin ek jou.

Jou fyn verleidingspel die ken ek;
jy weet hoe slim ek woorde weef.
Dat jy my pal behoed, erken ek;
deur my het jy ook al leer leef!
Jy moes ’n aantal minnaars neem:
’n Mens moet jou tog soms verwen –
die lyf se lied is onvolprese.
En, alles goed in ag geneem:
Dit eis ook wel ’n klomp talent
Om “oud” te wees – maar jonk in wese!

Als liefde zoveel jaar kan duren
Dan moet het echt wel liefde zijn
Ondanks de vele, kille uren
De domme fouten en de pijn
Heel deze kamer om ons heen
Waar ons bed steeds heeft gestaan
Draagt sporen van een fel verleden
Die wilde, hartstocht lijkt nu heen
Die zoete, razernij vergaan
De wapens waar we toen mee streden

Ik hou van jou
Met heel mijn hart en ziel
Hou ik van jou
Langs zon en maan tot aan het ochtendblauw
Ik hou nog steeds van jou

Jij kent nu al mijn slimme streken
Ik ken al lang jouw heksenspel
Ik hoef niet meer om jou te smeken
Jij kent mijn zwakke plaatsen wel
Soms liet ik jou te lang alleen
Misschien was wat je deed verkeerd
Maar ik had ook wel eens vriendinnen
We waren jong en niet van steen
En zo hebben we dan toch geleerd
Je kunt altijd opnieuw beginnen

 

In hierdie geval is die titel deur Morgan en Odendaal baie nader aan die Franse bronteks. Die refrein “Ik hou van jou” in Nijgh se weergawe is treffend en eggo lank reeds by Afrikaanse gehore, maar is geensins ’n vertaling van Brel nie. Ongelukkig verval Morgan en Odendaal se eie refrein in mooiskrywery en argaïsmes (byvoorbeeld “fraaie”).

Le moribond (bl 232)

Die Engelse omdigting van die lied deur Rod McKuen was in 1974 ’n groot kommersiële sukses vir Terry Jacks as “Seasons in the sun”. Hierdie weergawe is egter ’n stroperige tranetrekker en sluit aan by die beskouing van McKuen se werk as kitsch. Hoewel Morgan en Odendaal se omdigting meer werklikheidsgetrou is, dra dit swaar aan literêre pleisterwerk, rymdreun en lomp stelwyses wat ’n fasiele en studentikose indruk laat. Trouens, die beklemtoning van “swaar, sowaar” as eindrym kom ook in die (rymskema van die) Afrikaanse kinderliedjie “Sewe sakke sout” voor (“Sewe sakke sout is swaar, sowaar ...”). Die neiging tot verkleinwoorde om die lettergreeptelling te balanseer val ook op (byvoorbeeld “Priestertjie”):

Gegroet, Emile, dis nogal swaar –
om jou vaarwel te sê is swaar, sowaar.
Oor wyne het ons saam gesing;
om vroue het ons meegeding;
ons smarte het ons weggesing.
Vaarwel, Emile, en dis vir laas ...
Die lente buite voel misplaas, sowaar.
Ek gaan maar onder blomme rus:
Oor Vroulief voel ek houtgerus
as goeie jy haar hoeder is.
En gaan lag,
En gaan dans;
Hou ’n opskop, steek ’n dop.
En gaan lag,
en gaan dans
as jul my die graf in stop.

Die afskeid, Priestertjie, is swaar –
om jou te groet is nogal swaar, sowaar.
Ons het mekaar wel teengestaan;
ons paaie het uiteengegaan
op soek na sin in ons bestaan.
Vaarwel dan, Patertjie, vir laas ...
Die lente buite voel misplaas, sowaar.
Ek gaan maar onder blomme rus.
Gaan “stelp” my vrou se “droefenis” –
Meewarig soos jy altyd is.

Jojo (bl 240)

Daar is ook uitsonderlike formulerings in die bundel. ’n Hoogtepunt in die bundel is die omdigting van die lied “Jojo”, ’n huldeblyk aan Brel se afgestorwe bestuurder en boesemvriend, Georges Pasquier:

Jojo,
ek het grappe gebring,
sigarette en wyne ...
kyk, die nag is nog lank
en ons sterre kan skyn
tot die son dit verdring.
Jojo,
ek kan hoor hoe vervoerd
jy jou vlootliedjies uitsing –
dat die mense hier bo
hulle ore voel tuit
van wat ondergronds woed!

Selfs ses voet diep, Jojo, bly sing jy voort.
Selfs ses voet diep misluk die dood.

Jojo,
op ’n aand soos vanaand
is dit als weer opwindend:
wil jy Nazi’s verdryf,
ek teaters oorwin
uit die kerkhof vandaan.
Jojo,
of ons praat woordeloos
oor die tyd van ons jonkheid ...
Want die wêreld die slaap,
weet van gretig of dronk
net so min as van boos.

Herhaal refrein.

Amsterdam (bl 118)

Brel het die lied oorspronklik oor ’n toneel in die hawe van Antwerpen geskryf, maar dit later na Amsterdam gewysig. Dit skets die barbaarse gedrag van matrose wat die hawe aandoen. Die een matroos sterf terwyl ’n toekomstige matroos, te midde hiervan, gebore word. In hierdie toneel eet die besope matrose kabeljou en kuier met straatvroue. Die omdigting is aanvanklik baie geslaagd, maar ontspoor later in die liriek: “Op die Amsterdamkaai skuur matrose eers traag / op ’n streeldeuntjie maag / met die hoertjies so fraai.” Hier beskryf Brel hoe die maag van ’n matroos teen die maag van ’n vrou skuur. Ek wonder wat die doel van die verkleinwoord “hoertjie” is – dalk eerder “straatvrou” – en of die beskrywende term ooit “fraai” kon wees, veral waar die oorspronklike Frans slegs na ’n vrou verwys en geen byvoeglike naamwoord gebruik nie – dit lees bloot “Sur la panse des femmes”. Om die lettergreeptelling te behou is daar heelwat alternatiewe. Die laaste reëls verander die betekenisstrekking. Daar word ook nêrens in die oorspronklike liriek na die “ryk kavaliers van die ou Republiek” verwys nie, en ’n mens wonder tot watter mate ’n omdigting die skeepsreg het om hierdie vryheid op te neem. Die oorspronklike liriek is “Ils ramènent leurs bâtards jusqu'en pleine lumière”. Ook die reëls “Ils pissent comme je pleure / Sur les femmes infidèles” is gerieflikheidshalwe verswyg as deel van die stigtelike aanslag. Ten einde beter te verstaan hoe die omdigting musikaal klink, het ek ook Van den Berg se vertolking beluister. Dit is opmerklik dat daar verskille bestaan tussen Van den Berg se vertolking en die gepubliseerde weergawe. Dit word dus aangeneem dat die lirieke tydens die literêre publikasieproses verder verfyn is.

La bière (bl 102)

Dit is in hierdie geval opvallend dat die verwysing in die oorspronklike liriek na “Uylenspiegel” (Tyl Uilspieël) verander is na “Jan Rap”. Die vernaamste rede hiervoor, voer Morgan en Odendaal aan, is dat daar verskeie verwysings uit die Lae Lande in die lied bestaan en dat die verwysing na Pieter Brueghel behou is, maar dat Uilspieël verander is sodat die leser of luisteraar nie oorweldig word met tematiek uit die Lae Lande nie (Odendaal en Morgan 2009). Dit is uiteraard in stryd met die outeurs se benadering om nie transkultureel te vertaal nie (Morgan en Odendaal 2023). Hierdie besluit tydens die omdigtings is problematies en onderskat Afrikaanse gehore. Die kinderboek Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël is byvoorbeeld lank reeds deur Protea Boekhuis aan Afrikaanse lesers bekend (Grobbelaar 2006).

Piaf en Brel was eksponente van die werkersklas, met ’n beeldskone eenvoud in hulle taalgebruik. Daar was ’n element van ongetemdheid, pretensielose emosionaliteit en selfs hedonisme aan hulle lewens en die uiters persoonlike lirieke wat hulle geuiter het. Hierdie eienskappe is bevestig in ’n onderhoud met ’n kenner van hulle onderskeie oeuvres, Daniele Pascal (Pascal 2023).

Odendaal onderskei homself as ’n letterkundige met ’n uiters verruimende woordeskat, ryk aan sofistikasie, nuutskeppings, Nederlandismes en selfs argaïsmes waaraan hy nuwe lewe gee. Morgan is bekend vir haar statuur as ’n verfynde meestervertaler uit Frans. Hierdie kombinasie van keurige en erudiete taal lei ongelukkig in sommige omdigtings tot ’n herkenbare vingerafdruk wat nagelaat word.

In die geheel getuig hierdie omdigtings van baie voetwerk in keurige en oulike Afrikaans, maar die passie, die angst en die voorgenoemde beeldskone eenvoud ontbreek, wat ’n futlose en fasiele indruk laat. Daar is ook woordkeuses wat argaïes voorkom, en dit benadeel die tydloosheid van die liedere. Die liedere word gevolglik vasgevang in ’n verfraaiende idilliese skryfstyl deurspek met gemoedelikhede en sierpoësie.

Daar is ook soms ’n oordaad aan woordkeuses wat in die templaat van die metrum en rymskema ingedwing is, en ’n aantal hebbelikhede wat daaruit volg. Ek is van mening dat die stemming van die teks en die meegaande metrum bepalend is vir die suksesvolle omdigting, maar dat die rymskema soms ’n beperking bied en dat die teks in enkele gevalle daarby sou kon gebaat het as die rymskema laat vaar is.

Daar is enkele omdigtings wat gewoon minder geslaagd in Afrikaanse is, byvoorbeeld “Jef” (bl 210).

5. Inskatting

Die vertaalkuns stel uitdagende eise aan die vertaler. Derrida (2001) omskryf hierdie uitdaging soos volg: “Nothing is translatable and, by the same token, […] nothing is untranslatable.”

Die beoordeling van vertaalde tekste is uiteindelik tweeledig: of die tekste die bedoeling van die oorspronklike tekste lewensgetrou oordra; en of die vertaalde tekste selfstandig bestaansreg het in die doeltaal.

Daar gaan uiteraard altyd iets verlore in vertaling. Maar daar is ook soms winste.

Die leser of luisteraar is blind wanneer die omdigtings beluister of gelees word. Literêre en intellektuele eerlikheid is dus belangrik wanneer so ’n vertaalprojek aangepak word (Low 2003).

Pascal, as vooraanstaande kenner van die chanson, meen dat hoewel daar al verskeie pogings tot omdigtings en vertolkings van Piaf en Brel in verskeie tale en kulture gedoen is (sy verwys daarna as nouvelle cuisine), beide Piaf en Brel se tekste werklik slegs in die oorspronklike Frans tot hul reg kom en dat die meeste pogings tot omdigtings daarvan in ander tale die oorspronklike werk se kanonieke status ’n oneer aandoen (Pascal 2023). Om die tekste van Piaf en Brel te vertaal is dit noodsaaklik dat die doeltaal ’n kulturele omgewing bevat waarbinne die teks bestaansreg het en verstaan kan word. Daarom sou dit hipoteties onwaarskynlik wees dat Piaf en Brel in Mandaryn of Xhosa vertaal kon word. Volgens Pascal word die Afrikaanse kultuur nie noodwendig deur Europeërs ervaar as ’n kultuur wat die hoër kunste beskerm en waardeer nie en dat dit soms eerder as ongeraffineer en vulgêr beskou word. Daar moet dus met groot omsigtigheid omgegaan word, veral om te verseker dat die vertaling die nodige kulturele gravitas aan die teks bied.

Dit is belangrik dat daar ’n noodsaak vir die omdigtings bestaan en dat gevra word of dit ’n bydrae tot die vertaalskat in Afrikaans lewer. Die beskikbaarheid van vele ander omdigtings in Nederlands en Engels is belangrike oorwegings in hierdie verband.

’n Verdere oorweging handel oor die beskerming van kultuurerfenis. Elke kultuur is geregtig daarop dat die kultuurerfenis (deur Unesco gedefinieer as die tasbare kultuur, die ontasbare kultuur, en die natuurlike erfenis) beskerm word (France-UNESCO-Craterre-ENSAG 2006). In terme hiervan bestaan daar dikwels teenkanting teen die assimilasie van een kultuur binne ’n ander kultuur, hoewel dit algemeen voorkom. Hierdie teenkanting beskou die appropriasie van kultuurgoedere met die doel om die vlag van ’n ander kultuur daarop te plant, as ’n vorm van ’n selfingenome kolonisering. Dit het ten doel om dit wat kosbaar is te annekseer en te vervreem van die episentrum van die kultuur. Dit word versterk indien vooraanstaande akademici legitimiteit daaraan gee (Said 1994). Dit lei tot ’n geldige bekommernis dat Afrikaanse gehore hierná nie verder nodig het om Piaf en Brel in hulle oorspronklike formaat te beluister nie, omdat daar nou ’n plaaslike weergawe bestaan.

Hoewel bogenoemde argumente belangrike oorwegings behoort te wees wanneer kultuurgoedere oorgedra word tussen kulture, is dit kwalik genoegsaam, aangesien dit ook die assimilasie van alle kennisvelde, insluitend die lettere, sou benadeel. Miskien moet daar eerder verstaan word dat daar met groot sorg omgegaan moet word met projekte soos hierdie. Ek twyfel egter nie aan die edele bedoelings van die outeurs nie.

Morgan en Odendaal het die versorging van Piaf en Brel se tekste in Afrikaans oor ’n periode van bykans twee dekades onderneem ten einde die chansons in Afrikaans vir plaaslike gehore aan te bied. Die primêre doel was nie noodwendig om literêre tekste hieruit te publiseer nie. Die indruk word egter gekry dat die outeurs terugskouend gepoog het om deur goeie literêre inkleding in die inleiding ’n plakker van literariteit aan die vertalings te verleen. Trouens, dit is ook opvallend en ongewoon dat die outeurs selfs ’n lys mediaresensies en ander lofprysings van die verhoogproduksies insluit, asof dit momentum sou gee aan die kanonisering van die bundel.

Ten spyte van die enkele mankemente wat uitgewys word, bly die ontsluiting van hierdie tekste vir Afrikaanssprekendes in dié omvangryke bundel van 265 bladsye ’n waardevolle toevoeging tot die skatkis van internasionale liedtekste en laat dit ’n belangrike merker na in die ontsluiting van Piaf en Brel se tekste in Afrikaans.

Mag dit ook nie Piaf en Brel se laaste woorde in Afrikaans wees nie.

Bibliografie

Aucamp, H. 1977. Die lewe is ’n grenshotel: ryme vir pop en kabaret. Kaapstad: Tafelberg.

—. 1984. Woorde wat wond: geleentheidstukke oor randkultuur. Kaapstad: Tafelberg.

Berman, A. 2009. Toward a translation criticism. Kent: Kent State University Press.

—. 2018. The Age of Translation: a commentary on Walter Benjamin’s “The task of the translator. Londen: Routledge.

Bos, S. 2023. Stef Bos – “Moenie weggaan nie” | Liefde voor Muziek | Seizoen 9 | VTM. Herwin van TouTube: https://www.youtube.com/watch?v=v_p2IHl07rs&ab_channel=VTM.

Burke, C. 2011. No regrets: the life of Edith Piaf. New York: Alfred A Knopf.

Cloete, TT en ander. 1992. Literêre terme en teorieë. Eerste uitgawe. Pretoria: HAUM-Literêr.

Cordier, A. 1988. Post-war French popular music: cultural identity and the Brel-Brassens-Ferré myth. Surrey: Ashgate Publishing.

Dauncy, H en S Cannon. 2016. Popular music in France from chanson to techno – culture, idenity & society. New York: Routledge.

Derrida, J. 2001. What is a "relevant" translation? Critical Enquiry, 27:174–200.

France-UNESCO-Craterre-ENSAG. 2006. Cutlural heritage and local development. Parys: UNESCO.

Gay, P. 2007. Modernism: the lure of heresy – from Baudelaire to Beckett and beyond. New York: WW Norton & Co.

Grobbelaar, P. 2006. Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël. Pretoria: Protea Boekhuis.

Jelavich, P. 1993. Berlin cabaret. Cambridge, Massachusetts: Harvard University Press.

Keiser, D. 2023. Französische Chanson-Texte auf Deutsch: Brel, Jacques. Herwin van Französische Chanson-Texte auf Deutsch: https://www.xn--franzsische-chanson-texte-auf-deutsch-jxd.com/chanson-texte/category/Brel+Jacques.

Low, P. 2003. Translating poetic songs: an attempt at a functional account of strategies. Target, 15(1):91–110.

McKuen, R. 1974. Seasons in the sun. New York: Pocket Books.

Moll, M. 2023. Playlist des Chansons Françaises. Herwin van Spotify: https://open.spotify.com/playlist/3Kz9f3yQAVn4I2p78S5v1c?si=eb6a595cee894506.

Morgan, N. 2016. Resensie: Jannie du Toit se Bonjour, Monsieur Brel by die Vrystaat Kunstefees. Herwin van LitNet: https://www.litnet.co.za/bonjour-monsieur-brel/?fbclid=IwAR1MOa4cmkeJIeS0HirC5fskGgEYAOLVxEQXYMF3NMzIQ9mlpO5qDKc7DSQ.

Morgan, N en B Odendaal. 2023. Piaf & Brel: Luisterryk!. Pretoria: Imprimatur.

Odendaal, B en N Morgan. 2009. ’n Verslag oor die vertaling van dertien Jacques Brel-chansons in Afrikaans. Literator, 30(2):1–26.

—. 2010. Jacques Brel-chansons in Afrikaans. Herwin van Versindaba: https://versindaba.co.za/2010/05/19/jacques-brel-chansons-in-afrikaans.

Onbekend. 2023. Covers by language. Herwin van Brelitude.net: https://www.brelitude.net/covers_lang.htm.

Pascal, D. 2023. Daniele Pascal. Herwin van Daniele Pascal: http://www.danielepascal.co.za/index.html.

—. 2023. Understanding the lyrics of Piaf & Brel in the original French. (M Moll, onderhoudvoerder).

Said, E. 1994. Culture and imperialism. New York: Vintage.

Van Altena, E. 1964. Chansons van nu : George Brassens, Jacques Brel, Jacques Prévert, Gilbert Bécaud, Charles Trenet, Charles Aznavour, Guy Béart, Anne Sylvestre. Amsterdam: Heijnis.

—. 2005. Mijn vlakke land / Le plat pays. Rotterdam: Nijgh & Van Ditmar.

  • 5

Kommentaar

  • Meneer Moll, woorde wat jy nie verstaan nie, is nie argaïsmes nie. Dit is 'n gebrek in jou woordeskat. Ek het geen enkele argaïsme in die teks raakgelees nie. Foutsoekerige resensie.

  • Daar is baie info wat mens kan google maar INSIG moet jy verwerf. Pas op dat die groot visse saam wie jy probeer swem jou nie insluk nie. Watter kwalifikasie het jy in vertaalkunde, mnr Moll? So ver ek weet geen.

  • Mx Beer, hoe smaak dit my dan jy skuil agter ʼn naampie? Nie dat dit sal help nie, jy het immers in Prof Moll met ʼn ingenieur te doen wat binne so 20 minute jou identiteit kan bevestig indien hy sou wou.

    In elk geval, geen argaïsmes nie? Het Mx Beer dan die teks gelees? Die lied van die ou minnaars kon netsowel die lied van die argaïese minnaars geheet het! Ek wens ek kon van Prof Moll verskil het, ek het darem al self kritiek ontvang vir my proefskrif, albums, musiekvideo’s, ensomeer – dit is nooit lekker nie, veral nie nadat ʼn mens lank en hard daaraan gewerk het nie. Ek dink ongelukkig dat hy veels te liefdadig was in sy resensie.

    Ek sien twee groot probleme in die vertalings.

    Eerstens gaan die totale gevoel verlore in die vertalings. Selfs met karige Frans kan jy meeste van die lirieke met die eerste luister verstaan; en op die blad is die Franse teks heel verstaanbaar. Tog, die vertalings probeer fênsie voetwerk doen in ʼn taal wat eerder tot sy reg kom in beeldskone eenvoud. Wat ʼn absurde ironie!

    Tweedens, ek kan net nie sien hoe dat daar enige literêre waarde is aan hierdie vertaling nie. Ek, soos baie Suid-Afrikaners met Namibiese wortels, het met ʼn sterk dosis Duitse volksmusiek grootgeword. Ek is self skuldig daaraan dat ek een van die mees bekende voorbeelde vertaal en uitgereik het, maar vandag besef ek dat dit dalk net vir my van waarde was, want die groter ervaring kan nie vertaal word nie. Ons weet tog dat liedere in ʼn taal wat ons nie verstaan nie steeds geniet kan word. Ek dink dat daar ʼn groter skat te ontgin is deur dan te gaan oplees oor die betekenis van ʼn lied waarvan jy die taal nie verstaan nie.

  • Welkom op die digitale media, Mx Beer/Mx Venter!

    Ek merk dat jy/julle geen digitale voetspoor het nie; nog nooit voorheen aanlyn kommentaar gelewer het oor enige literêre aspek nie; en gevolglik sélf geen bewese rekord saam met die groot visse het nie. Maar dankie in elk geval vir die profesie oor die visse, ek sal op die uitkyk daarvoor wees. Dit laat 'n mens natuurlik wonder of jý dalk self 'n klein vissie is wat wegkruip agter die skyn van 'n groot vis. Of is jy dalk 'n groot vis wat wegkruip agter 'n klein vissie? Of dalk 'n opblaasvis?

    Ek vind dit ook koddig dat jy/julle skynbaar baie van my weet behalwe vir 'n basiese biografiese gegewe soos my titel.

    Socrates het gesê: "When the debate is lost, slander becomes the tool of the loser."

    Mx Venter, ek sien jy het nie my bronnelys gelees nie. In teenstelling hiermee, merk ek dat daar nie 'n omvattende bronnelys, iets wat 'n mens sou verwag in 'n vertaalbundel, in die boek ingesluit is nie, daar is bloot enkele voetnote en verwysings in die teks, meestal na internetskakels (Google?), Encyclopedia Brittannica (Google?), die LTT (Google?) en 'n lang lys bedankings.

    Intussen wag ek geduldig vir die groot visse om my weg te raap.

  • Hmmmm, dis 'n nismark. Maar goed, goed, sal die tjoens bietjie luister as ek ooit weer braai. Kan miskien 'n skaflike afwisseling op die leeuloop wees.

    Ek bewonder die effort wat hier ingesit is. Deur die vertalers sowel as die kritikus. Die kritiek lyk baie gematig. Veels geluk met die boek sowel as die interessante artikel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top