Philippolis: 'n onderhoud met Jens Friis

  • 1

Jens Friis se boek Philippolis is op die rak. Naomi Meyer het met hom gesels.

Het jy as joernalis/fotograaf "verantwoordelik" gevoel om hierdie boek uit te bring?
Ek het nog nie só daaraan gedink nie, maar seker, ja. Soos Hasari Pal in The City of Joy aangehaal word: "All that is not given is lost." Ek wou nog altyd 'n boek van dié aard oor Philippolis lees. Pieter Fourie, die Hertzog-pryswenner, skryf op die binneflap van die boek: "Ek kan aan niemand dink wat meer geskik sou wees om hierdie boek te skryf nie. Jens Friis is 'n boorling uit 'n geliefde onderwys-gesin van hier. Hy is by uitstek navorser, fotograaf, (reis-)joernalis en kanoniseerder van sy heimat." Fourie reken die boek gee "'n helder beeld van Philippolis met deernis, agting en prikkelende inligting". Mag lesers dit so ervaar!

Waarom het jy hierdie boek oor "jou" dorp geskryf?
Perspektief beteken dat iets kleiner word soos dit in die ruimte wegbeweeg, maar in die skryf van (dorps)geskiedenis word dinge gewoonlik kleiner terwyl dit nog naby aan jou beweeg. 

'n Profeet word dikwels nie in sy eie land geëer nie. So kon ek hulde bring aan Philippolisers wat nog leef en diep spore oor dekades heen hier getrap het. Die boek is opgedra aan my ouers, Jens (77) en wyle Naómi Friis. Verder is die vroeë geskiedenis van Philippolis reeds goed geboekstaaf, maar bitter min van die latere gebeure is al geboekstaaf. My boek probeer iets hiertoe bydra.

Oor hoe lank is die boek geskryf?
Oor slegs drie maande, want dit moes gereed wees vir 'n dorpsfees in Philippolis. Dit was 'n ideale afsetpunt vir boeke, want die drukkoste van so 'n koffietafelboek (260 glansbladsye gehul in 'n hardeband) is hemelhoog.

Hoeveel speurwerk het dit geverg?
Ten spyte van 'n druktyd wat vanaf die begin op die horison gewink het, het die boek gelukkig maklik gekom weens 'n onblusbare passie vir my geboortewêreld waarvan ek 'n deurgronde kennis het én 'n onuitputbare bron van foto's – tot so 'n mate dat ek maklik nog 'n boek oor Philippolis en die Suid-Vrystaatse Karoo die lig sou kon laat sien. 'n Wonder van die heelal is dat dit so kompleks is dat jy nooit 'n volkome greep op 'n onderwerp sal kry nie. Delf egter, en daar kom altyd nog vondste na vore.

Watter rol speel die foto's en uitleg in die sukses van die boek?
Mense word al hoe meer visueel. Hulle wil nie meer net lees nie. Daarom het ek ryklik gebruik gemaak van kleurvolle foto's op goeie papier – iets wat grootliks ontbreek in ander boeke oor Philippolis. Sonder my broer, Nico, sou dié boek nie die lig kon gesien het nie. Hy is aan die voorpunt van digitale bemarking in Engeland en kon goed ingespan word met die uitleg van die boek. Nes met die daarstel van ons Groenhuis-gastehuis (www.philippolis.co.za) in Philippolis is die Friise se belangstellings gelukkig so uiteenlopend dat dit die eindproduk voed.

Die grootpad tussen die Kaap en Gauteng loop nie meer oor Philippolis nie. Hoe het dit die dorp geraak?
Deur die eeue het die Boesmans, toe die Griekwas en later die Trekboere wat die Oranje vanuit die Kaapkolonie oorgesteek het deur die Transgariep, hul vee by dié dorp se twee fonteine kom laat drink. Die sluiting van die destydse N1 was 'n groot terugslag, maar die voordeel is dat dit die dorp in 'n tydsvakuum geplaas het met groot toeristebemarkingsgeleenthede en dat ons ernstige misdade gespaar is. Was Philippolis nader aan Johannesburg of die Kaap, was dit weens sy skoonheid lankal 'n Parys, Dullstroom of Franschhoek. Weens die dorp se witgekalkte huise en lanings bome het Karel Schoeman dit met rede die "Vrystaatse Stellenbosch" genoem.

Behalwe die mense is ook die dorpsgeboue duidelik ook belangrik...
Die kleine Philippolis het naas Bloemfontein en Bethlehem die meeste nasionale gedenkwaardighede in die Vrystaat. Daar is die imposante NG Kerk aan die bopunt van die boomomsoomde Voortrekkerstraat, maar my gunstelinge, soos die Hartjiehortjie- en Nagmaalshuisie, staan langs Tobie Mullerstraat. Dit is gewis een van die mooiste straatjies in die land.

* Philippolis. Die oudste nedersetting in die Vrystaat (ISBN: 978-0-620-81090-6) deur Jens Friis is selfgepubliseer. Dis onder meer by Protea in Bloemfontein en Pretoria beskikbaar. Skryf aan jejofr@hotmail.com as jy meer wil weet. Jens se facebook.com/grootkaroo en facebook.com/diegroenhuis word deur derduisende gevolg.

* Foto's verskaf deur Jens Friis
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    trudie venter

    Jens jou boek is pragtig en geluk met die blootstelling! As naas-oudste nedersetting in die Vrystaat, is Bethulie baie trots op jou publikasie. Ek het ‘n nie-visuele boek oor Bethulie geskryf, maar gaan jou voorbeeld volg en binne 'n jaar of wat ook so 'n mooi boek maak oor ons dorp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top