Philip Wilson: die finale spyker in die Rooms-Katolieke kis?

  • 1

Foto: YouTube

Hoe Aartsbiskop Philip Wilson van die Rooms-Katolieke kerk in Australië waarskynlik sy oudag voorgestel het: omring deur bewonderende en lojale gemeentelede, met die luukses wat sy posisie impliseer, met die onbevraagtekende gesag waaraan hy gewoond geraak het.

Die realiteit: hy sal waarskynlik ten minste ses maande agter tralies deurbring, tensy die magistraat besluit dat hy tuis in aanhouding kan wees. Sy oortreding? In die 1970’s het hy die pedofilie-bedrywighede van ’n kollega help toesmeer.

Wilson is die mees senior lid van die Rooms-Katolieke Kerk nog wat residensiële straf opgelê word vir die toesmeerdery van pedofilie. Die mees senior lid wat van pedofilie aangekla is, is die pous se finansiële adviseur, George Pell. Ek het elders al oor hom geskryf. Pell se saak is nog aan die gang.

Australië is die eerste land wat die toesmeerders, van wie daar baie is, aan die pen laat ry. Daar is getuienis aangebied dat, as direkte gevolg van Wilson se optrede, kinders vir ten minste ’n verdere dekade nog deur die spesifieke priester gemolesteer was. Dis belangrik om daarop te let dat daar geen getuienis aangebied was dat Wilson self kinders gemolesteer het nie. Die hof het dit egter belangrik geag om seker te maak dat die gemeenskap se afsku, ook ten opsigte van die sg enablers, duidelik blyk.

Wilson het nog steeds nie bedank nie, en die pous, wie by magte is om hom af te dank, het dit nie gedoen nie. Verder, anders as in Pell se geval, is daar geen aankondiging van die Vatikaan se kant gemaak dat Wilson sy eie regskoste, wat ook die appèl wat hy geliasseer het insluit, moet dra nie. Daar kan dus aanvaar word dat die Vatikaan sy regskoste dra.

Die Katolieke Kerk het oor die afgelope dekades gesteier van die een pedofilie-skandaal na die ander, en steeds beskerm die kerk sy priesters ten koste van sy lidmate, en veral van sy mees weerlose lede, die kinders wat  vrywillige werk in die kerk doen as altaardienaars.

Anders as ander kerke is daar skynbaar ook geen reëls en gedragskodes in plek om priesterlike gedrag (en wangedrag) te reguleer nie. In die Anglikaanse kerk, byvoorbeeld, is daar ’n stel reëls genaamd “The Shepherd of the Flock” of ook “Pastoral Code of Conduct” wat priesters verbied om alleen met ’n lidmaat agter toe deure te vergader. Boonop is dit skynbaar ’n groter sonde vir ’n Katolieke priester om intiem te verkeer met ’n volwasse vrou as met ’n kind. Ek is persoonlik bewus van een priester wat summier ontslaan is toe dit op die lappe kom dat hy in ’n konsensuele verhouding met ’n volwasse vrou was. Ander wat kinders verkrag, word beskerm en vir berading gestuur, maar behou hul poste.

Steeds kan die Vatikaan nie verstaan hoekom hulle kerke leegloop en ouers nie meer hul kinders toelaat om altaardienaars te wees nie.

Tradisioneel is die skeiding tussen staat en kerk met groot ontsag behandel in demokratiese samelewings. Australië en ander Westerse lande is egter toenemend besig om spier te bult en die kerk te dwing om aan moderne wetgewing gehoor te gee.

Die volgende heilige koei in die Australiese wetgewer se visier is die biegkamer. Soos die wetgewing, en aanvaarde praktyk in die kerk nou staan, is dit wat in die biegkamer gesê word geprivilegeerd en priesters mag weier om daaroor te getuig, of dit aan enigeen openbaar te maak. ’n Reeksmoordenaar kan byvoorbeeld bieg en bely dat hy 10 vroue in stukkies gekap het, en die priester mag nie die polisie daaroor inlig nie. “The confessional is a sacrament” op dieselfde vlak as die heilige nagmaal, doop, of begrafnis, word daar beweer.

Die Australiese wetgewer verskil van die kerk hieroor en is in die proses om wetgewing op te stel wat priesters verplig om dit aan te meld indien iemand ’n misdaad aan hulle bely.

Die Rooms-Katolieke Kerk, wat te lank reeds aan ’n magsbabelaas ly en nie besef hulle is besig om hulself keel-af te sny nie, staan dit teen. Die kerk is eenvoudig te groot, te ryk en te magtig om te besef dat hulle sal moet aanpas om te oorleef. Philip Wilson se vonnis is maar die eerste doodsroggel.

Dis seker hoe die dinosourus ook aan sy einde gekom het.

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie verslag is die produk van swak navorsing. Die Katolieke Kerk het wel protokolle ontwikkel en geïmplementeer in elke bisdom.
    Die verskynsel van misbruik van kinders binne religieuse instansies (Katolieke kerk ingesluit) is laer as in ander sekulêre instansies.
    Daar is vele kere voorheen gepoog om die vertroulikheid van die bieg te breek. Priesters het met hulle lewens daarvoor betaal.
    Prokureurs se vertroulike hankering van kliënte geniet dieselfde reg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top