PG du Plessis: sy nalatenskap sal nog jare lank eggo

  • 0

Dit is met leedwese dat die ATKV verneem dat die formidabele woordsmid PG du Plessis op Woensdag 7 Junie 2017 oorlede is. Woorde ontbreek om sy bydrae tot die wêreld van Afrikaans te beskryf en sy nalatenskap sal nog jare lank eggo.

Vir sy vriende was hy Pieter, maar vir die talle lesers en kykers wat deur hom bekoor is, was hy PG. Dit was veral die TV-reeks Koöperasiestories wat gemaak het dat PG ’n naam was wat amper elke Afrikaanse TV-kyker geken het.

In sy lewe was PG du Plessis ook onderwyser, akademikus, koerantman, draaiboekskrywer en ’n vriend vir baie.

Pieter Georg du Plessis is op 14 Julie 1934 te Boshof in die Vrystaat gebore. Sy pa was ’n onderwyser wat ook baie lief vir die letterkunde was. Ná matriek is PG na die Universiteit van Pretoria waar hy ’n BA-graad behaal in 1955 en sy onderwysdiploma in 1957. Hy werk daarna heeltyds, maar hou aan studeer en in 1966 behaal hy sy doktorsgraad. NP van Wyk Louw was sy promotor.

In 1969 debuteer PG du Plessis met Die nag van Legio, ’n strak drama wat in ’n gestig afspeel. Die volgende jaar word die stuk met die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Sy volgende drama, Siener in die suburbs, is uitsonderlik, juis omdat dit doodgewone werkersklasmense in doodgewone omstandighede uitbeeld. Ná dekades is die stuk steeds relevant en is onlangs weer by verskeie feeste opgevoer. Die Hertzogprys in 1972 is aan Du Plessis vir Die nag van Legio en vir Siener in die suburbs toegeken.

In 1973 verskyn Plaston: DNS-kind, ’n futuristiese stuk wetenskapfiksie oor ’n seun wat deur ’n wetenskaplike geskep word. Die vraag is of ’n kind wat geskep is vir perfeksie in ’n onvolmaakte wêreld sou kon aanpas.

Veel meer vermaaklik is die klug ’n Seder val in Waterkloof van 1979. In dié drama steek Du Plessis die draak met akademici wat hulle as verhewe bo die “gewone” mense beskou.

In 1980 verskyn ’n bundel Koöperasiestories op Donderdag by Perskor uit sy pen. Dit word gereeld herdruk en op 27 April 1983 word die eerste episode van Koöperasiestories op Suid-Afrikaanse TV uitgesaai. Dit was dadelik ’n enorme sukses.

PG du Plessis (Foto: Annemarie Wichmann)

In die drama Vereeniging, Vereeniging (1985) vind ’n mens reeds die oorsprong van dit wat later die roman Fees van die ongenooides geword het. In daardie stadium was die stuk egter so gewaagd dat Truk, wat dit aangevra het, dit nie wou opvoer nie.

Hierna het PG du Plessis hom ’n tyd lank gewy aan vermaak. Hy het talle rolprente gemaak en was ook geliefd vir sy aandeel in die geselsprogram Spies en Plessis.

In 1999 skryf hy weer ’n toneelstuk vir die KKNK met die titel Inkleurboek vir twee.

Du Plessis het verskeie tekste geskryf in sy lewe. The married man’s guide to adultery: a study of adulterations van 1998 is ’n besondere roman oor die verdigsels (adulterations) wat ’n klein gemeenskappie kan kniehalter.

Dit was egter met Fees van die ongenooides, wat in 2008 gepubliseer is, waarmee Du Plessis sy stempel deeglik op die Afrikaanse kanon afdruk. Hierdie boek ondersoek talle aspekte van die samelewing wat reeds in sy werk te sien is, maar in hierdie geval was die puik beelding en die meesleurende storie dié pennevrug van ’n deurleefde skrywer.

Die ATKV-Prosaprys is in 2009 aan hom toegeken vir dié roman.

Du Plessis het sy laaste jare op sy plaas Sémóer geslyp. Hy word oorleef deur sy vriend en gade, Marie, asook die egpaar se twee kinders en ’n aantal kleinkinders.

Toe hy in 1983 uittree as redakteur van Hoofstad, het hy opgemerk: “Al wat ek vra, so by die afskeid. Laat julle kolomme tog sag wees oor my moontlike mislukking en baie luid, tagtig-punt-luid, as daar dalk sukses is.”

Die ATKV wil sy diep meegevoel betuig aan PG se geliefdes. Soos Jan FE Cilliers geskryf het: Stil broers, daar gaan ’n man verby.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top