Peter Blum en die Commonwealth Mycological Institute: Van digter tot abstraheerder

  • 0

 

Abstract

Peter Blum and the Commonwealth Mycological Institute: From poet to abstractor

It is known that the acclaimed Afrikaans poet Peter Blum was employed by the Commonwealth Mycological Institute (CMI) in London for a number of years after his sudden departure from South Africa in 1960. Blum was, however, unwilling to disclose the nature of his work at that fungal research institute to correspondents in South Africa, and what precisely he as a literator occupied himself with at the CMI has remained a mystery. Even J.C. Kannemeyer, in his authoritative biographical work Wat het geword van Peter Blum? (What happened to Peter Blum?), and in his later Briewe van Peter Blum (Letters of Peter Blum) could shed no further light on this aspect of Blum’s life. It has now become known that Blum was employed as an abstractor for the CMI’s abstract journals, Review of Applied Mycology and Review of Medical and Veterinary Mycology, from 1961 to 1967. A possible example of Blum’s work as an abstractor is referred to and the reason for his termination of service at the CMI is contemplated.

Opsomming

Peter Blum en die Commonwealth Mycological Institute: Van digter tot abstraheerder

Dit is bekend dat die bekroonde Afrikaanse digter Peter Blum na sy skielike vertrek uit Suid-Afrika in 1960 vir ’n tyd lank aan die Commonwealth Mycological Institute (CMI) in Londen verbonde was. Blum was egter ongeneë om die aard van sy werk aan hierdie swamnavorsingsinstituut aan korrespondente in Suid-Afrika bekend te maak, en wat sy rol as letterkundige daar behels het, het onbekend gebly. Selfs J.C. Kannemeyer kon in sy gesaghebbende biografiese werk Wat het geword van Peter Blum? en in die latere Briewe van Peter Blum nie meer lig op hierdie aspek van Blum se lewe werp nie. Dit het nou aan die lig gekom dat Blum as abstraheerder vir die CMI se abstrakjoernale, Review of Applied Mycology en Review of Medical and Veterinary Mycology, werksaam was. Daar word na ’n moontlike voorbeeld van Blum se werk as abstraheerder verwys en ook kortliks oor die rede vir sy diensbeëindiging bespiegel.

 

Peter Blum en die Commonwealth Mycological Institute: Van digter tot abstraheerder

1. Inleiding

In ’n stap wat selfs vriende en kollegas onverhoeds sou betrap, verlaat die bekroonde Afrikaanse letterkundige en digter Peter Blum – oorspronklik van Oostenrykse afkoms – en sy Suid-Afrikaans-gebore eggenote, Hetta, Suid-Afrika onverwags en onaangekondig op 18 Mei 1960 ten einde ’n nuwe heenkome in Engeland te vind. Die aanloop tot Blum se skielike vertrek, en veral die rede(s) waarom hy sy aangenome land en taal op daardie vroeë stadium van sy literêre loopbaan die rug gekeer het, was reeds die onderwerp van breedvoerige analise en bespreking (Kannemeyer 1993). Dit kan egter opsommenderwys grootliks toegeskryf word aan sy ontnugtering met en bitterheid oor die destydse regering se weiering van sy aansoek om Suid-Afrikaanse burgerskap. Vir meer agtergrond oor die lewe en werk van Blum in Suid-Afrika dien die biografie van Kannemeyer (1993) as gesaghebbende verwysing.

Die Blums se vertrek uit Suid-Afrika kan tereg as ’n tragiese gebeurtenis beskou word. Nie net het dit Hetta permanent aan haar land en familie ontwortel nie (sover bekend sou die Blums Suid-Afrika nooit weer besoek nie), maar dit het ook die einde van Blum se letterkundige uitset in Afrikaans beteken. Met die uitsondering van enkele reissketse in 1964–6 oor België en Nederland in die Vlaamse tydskrif Ons Erfdeel (Kannemeyer 2009a) sou daar in die meer as dertig jaar vanaf 1960 tot en met sy dood in 1990 geen skeppende Afrikaans weer uit die pen van Peter Blum vloei nie. ’n Engelse vertaling in 1966 van J.J. Slauerhoff se Ziekentroost, wat ook in Ons Erfdeel verskyn het, blyk dan ook sy laaste gepubliseerde gedig en enigste bekende werk in Engels uit daardie tyd te wees (Kannemeyer 2009a).

Die Blums het ’n asosiale, bykans kluisenaarsbestaan, in Londen gevoer en was nie geneë om besoekers te ontvang nie (Kannemeyer 1993:154), klaarblyklik nie eens familie uit Suid-Afrika nie (Slabber 1992:4). Blum se korrespondensie aan kennisse, oudkollegas en ander in Suid-Afrika – dikwels kras en soms uiters beledigend (Boshoff 1992:6; Kannemeyer 1993; Kannemeyer 2009b) – wek die indruk dat hy ’n verbitterde en ongelukkige mens moes gewees het wie se wrewel en afkeer van Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkundige establishment oor die jare net in intensiteit en venynigheid toegeneem het.

Na ’n beroerte is Peter Blum op 5 Desember 1990 in die ouderdom van 65 jaar in Londen oorlede. Op sy doodsertifikaat is sy beroep as “klerk” aangeteken (Kannemeyer 1993:155), en vir ’n intellektueel en skeppende gees soos Blum, wat vroeër reeds sy werk as bibliotekaris as onvervullend ervaar het (Kannemeyer 1993:145), moes klerklike werk sekerlik ook sieldodend en bydraend tot sy oënskynlike misère gewees het. Kannemeyer (1993:155) verwoord die tragedie van Blum se lewe na sy vertrek uit Suid-Afrika baie akkuraat: “Van watter hoek af ’n mens die saak ook al beskou, was die laaste dertig jaar van Peter Blum se lewe ’n leë, sinlose bestaan.”

As mikoloog (mikologie: “die studie van swamme”) is die huidige outeur se belangstelling in die doen en late van Peter Blum in Engeland aanvanklik deur ’n berig van Tobie Boshoff in Rapport van 5 Januarie 1992 geprikkel. Daarin noem Boshoff dat hy, in sy naspeuring van Blum se voetspore in Londen, ontdek het dat die digter op ’n stadium aan die Commonwealth Mycological Institute (CMI) verbonde was. Dit het onwillekeurig die vraag laat ontstaan: Wat sou die verband kon wees tussen die Afrikaanse letterkundige en ’n wetenskaplike instituut gemoeid met swamnavorsing? Blum self was onwillig om die aard van sy werk aan die CMI aan korrespondente bekend te maak (Kannemeyer 1993:145–6; 2009b:310, 317) en Kannemeyer (1993) kon geen verdere lig op hierdie vraag werp nie. Alhoewel laasgenoemde ook slegs na Boshoff (1992) se artikel verwys, word die Blum-CMI-verbintenis darem verder bevestig uit die inligting dat Blum sy pos by die CMI op ’n stadium weens rasionalisering en die gevolglike verkleining van die personeel kwyt is (Kannemeyer 1993:153). Alle vrae met betrekking tot Blum se verbintenis aan die CMI, en in besonder wat sy werk daar behels het, het egter onbeantwoord gebly.

 

2. Agtergrond tot Blum se werkgewer, die Commonwealth Mycological Institute

Die CMI het sy ontstaan gehad uit die Imperial Bureau of Mycology (IBM), wat in 1920 te Kew, in die London Borough of Richmond upon Thames, vir die “identifikasie van swamsiektes van plante, diere en mense, asook die abstrahering van die mikologiese literatuur” gestig is (Anoniem, sonder datum). In 1933 het die IBM die Imperial Mycological Institute (IMI) geword en in 1947 is die naam na die Commonwealth Mycological Institute (CMI) verander. Dit sal egter maar sukkel om die CMI vandag op te spoor, aangesien dit intussen weer herdoop is tot die International Mycological Institute (dus weer IMI!), wat in 1998 weer met verskeie ander institute saamgesmelt het om die huidige CABI Bioscience te vorm (Anoniem, sonder datum). Die mikologie-afdeling van CABI is ook nie meer te Kew nie, maar in Egham, enkele kilometer suidoos van die dorp Windsor, gesetel. Ten tye van Blum se verbintenis aan die CMI was Kew egter nog die standplaas, in Ferry Lane, direk aangrensend aan die wêreldbekende Kew koninklike botaniese tuin.

Dit is nie duidelik uit Kannemeyer (1993) wanneer die Blums na Windmillweg 119 (Pevensey House) in Brentford verhuis het nie, maar indien dit tydens Blum se verbintenis aan die CMI was, sou dit ’n baie logiese besluit gewees het, aangesien die betrokke adres, soos die kraai vlieg, nie veel verder as 1,5 km van Blum se werkplek sou gewees het nie. Kannemeyer noem Northfields as die naaste Underground-stasie aan die Blum-woning, maar volgens ’n kaart van die Londense vervoerstelsel (Anoniem 2000) sou dit nie prakties gewees het om met die Underground tussen Brentford en Kew te pendel nie. Die Brentford-treinstasie was egter min of meer ewe ver van die Blum-woning af as die Underground-stasie, en per trein daarvandaan is Kew Bridge, die logiese afklimpunt vir pendelaars na die CMI te Kew, ’n enkele stop ver. Die rit tussen Brentford en Kew Bridge duur presies twee minute, en te voet vanaf die Blum-woning na die Brentford-stasie, en dan weer vanaf Kew Bridge-stasie na Ferry Lane, behels ’n totale pendeltyd van slegs 20 minute (gemeet deur die outeur tydens ’n onlangse besoek). Brentford sou dus ’n baie praktiese adres vir enige werknemer van die destydse CMI wees.

 

3. Blum en die CMI: nuwe feite

Aangesien die CMI direk aangrensend aan die mikologieherbarium te Kew-tuine geleë was, was daar noue skakeling tussen die mikoloë verbonde aan die twee instansies, en by geleentheid van ’n onlangse besoek aan die mikologieherbarium te Kew het ’n terloopse navraag na Blum dan ook, na al die jare, steeds ’n positiewe reaksie ontlok. Dr. E. Punithalingam, afgetrede CMI-mikoloog, maar deesdae nog ’n aktiewe navorsingsgenoot te Kew, kon Blum steeds as die “abstractor” met die knaende luide hoes in herinnering roep. Alhoewel dr. Punithalingam self nie veel meer inligting kon verskaf nie, kon hy tog ’n bundel deur Aitchison en Hawksworth (1993), waarin die geskiedenis van die IMI opgeteken is, onder die outeur se aandag bring. Een kort inskrywing in Aitchison en Hawksworth (1993) het die antwoord op ’n paar van die onbeantwoorde vrae verskaf ten opsigte van Blum se verbintenis aan die CMI, naamlik wat hy daar gedoen het, presies wanneer en vir hoe lank. Op die genoemde bladsy verskyn, onder meer, die kort inskrywing: “Blum, P. 1961–1967” en word hy as ’n “Abstractor/Editor” gelys.

Soos reeds genoem, was die abstrahering van die mikologieliteratuur een van die primêre funksies van die CMI, en is dit dan ook wat Blum se werk daar behels het. Vanaf 1961 tot 1967 was hy gemoeid met die skandering van die wêreldliteratuur vir artikels oor swamme en veral swamsiektes, asook die opsomming daarvan vir publikasie in die CMI se abstrakjoernale, Review of Applied Mycology (tans bekend as Review of Plant Pathology) en Review of Medical and Veterinary Mycology. Ten opsigte van hierdie werk, en presies wat hy in Engeland gedoen het, skryf Blum op 6 Desember 1963 in ’n brief aan Barend J. Toerien: “... is ek op die oomblik nie gewillig om te verstrek nie: iets wonderliks sal dit seker nie wees nie” (Kannemeyer 1993:145–6; 2009b:317). Daaruit blyk dit duidelik dat Blum maar min entoesiasme vir sy werk as abstraheerder moes gehad het – in so ’n mate dat hy, as eens gerekende literêre figuur, selfs onwillig/verleë (?) was om te erken waarmee hy hom moes bemoei om die Londense skoorsteen aan die rook te hou.

In die gedeelte “Reminiscences” in Aitchison en Hawksworth (1993) skryf “clerical assistant” Mollie Samuels soos volg oor die abstraheerders: "Later other abstractors joined the staff and were closeted away in any small corner that was spare. On the top floor, I can remember Dr Churchich (Serbo-Croat languages) and Mr Blum who worked in a large mohair pullover (before mohair became fashionable) and carpet slippers."

Uit die opmerking dat hulle nie eens oor kantoorruimte beskik het nie en in enige beskikbare hoekie ingedruk is, kan afgelei word dat die abstraheerders nie juis hoë status of aansien in die CMI-hiërargie kon geniet het nie. Tot die middel van 1965 is daar dan ook nooit eens enige erkenning aan die abstraheerders in die CMI se twee abstrakjoernale gegee nie. Dit gebeur vir die eerste keer eers in Junie 1965, toe “P. Blum, B.A.” as een van ses abstraheerders in volume 44(6) van Review of Applied Mycology en as een van vyf abstraheerders in volume 5(6) van Review of Medical and Veterinary Mycology verskyn. Vanaf Junie 1967, die jaar waarin Blum die CMI verlaat het, word daar in beide joernale na die abstraheerders as “Scientific Information Officers” verwys. Hierdie “verhoogde status” was Blum egter nie beskore nie – sy naam verskyn vir die laaste keer in die Maart 1967-uitgawe (volume 6(1)) van Review of Medical and Veterinary Mycology en in die Mei 1967-uitgawe (volume 46(5)) van Review of Applied Mycology. Hieruit kan dan ook afgelei word dat hy die CMI reeds vroeg in 1967 moes verlaat het.

 

4. Blum en die CMI: enkele bespiegelinge

Benewens Duits en Engels, was Peter Blum ten minste ook ’n Oos-Europese Slawiese taal magtig (Kannemeyer 1993:9) en was hy goed met Italiaans vertroud (Kannemeyer 1993:9, 146). Volgens Kannemeyer (1993, verskeie bladsye) en Breuer (2005:14) was hy ook ’n bedrewe vertaler van Franse werke. Geen duidelike aanduiding bestaan egter ten opsigte van die tale waarvoor Blum aan die CMI verantwoordelik sou gewees het nie. Ten tye van sy aanstelling was ene Buhler reeds met die Duits gemoeid (persoonlike mededeling, dr. E. Punithalingam, afgetrede CMI-mikoloog, Londen, Oktober 2008), en Blum sou waarskynlik eers na Buhler se vertrek in 1963 groter verantwoordelikheid vir die Duits kon oorgeneem het. Soos reeds hier bo geblyk het, was dr. Churchich ook reeds vir die Slawiese tale verantwoordelik. Benewens bogenoemde tale sou Nederlands uiteraard ook een van Blum se verantwoordelikhede kon gewees het.

Afrikaans moet natuurlik ook nie uit die oog verloor word nie. Natuurwetenskaplike artikels in Afrikaans was destyds (soos steeds die geval is) egter maar yl gesaai, en dit is hoogs onwaarskynlik dat Blum se Afrikaansvaardigheid ’n rol by sy aanstelling sou gespeel het. By ’n vlugtige deurblaai van die 3 419 abstrakte in volume 44 (1965) van Review of Applied Mycology en die 3 610 abstrakte in volume 45 (1966) is slegs een Afrikaanse publikasie raakgelees, naamlik dié van Beyers en Roach (1965) oor die beheer van kopertekort in die gronde van die Kaapse winterreënstreek (Anoniem 1966:481).

Alhoewel Beyers en Roach se artikel wel oor ’n Engelse opsomming beskik, kom daar nêrens in hulle publikasie ’n Engelse vertaling van die titel voor nie en iemand by die CMI sou die titel dus vir die abstrakjoernaal uit Afrikaans na Engels moes vertaal het. Hiervoor sou Blum na alle waarskynlikheid die logiese persoon gewees het. Die opsomming soos opgeneem in Review of Applied Mycology is ook nie dieselfde as dié in die oorspronklike artikel nie en is oorgeskryf. Die oorspronklike opsomming in Beyers en Roach (1965) verwys byvoorbeeld na “... sandy soils west and east of the main mountain scarp running parallel to the coast ...”, terwyl die opsomming in die abstrakjoernaal bloot na “... acid sandy hinterland soils ...” verwys. Die gebruik van die woord hinterland suggereer ’n gemakliker vertroudheid met die fisiese geografie en relatiewe afgesonderdheid van die streek as wat normaalweg van ’n buitelandse abstraheerder verwag sou kon word. Alhoewel hinterland ’n algemeen erkende Engelse woord is (Anoniem 1995:676), verleen die gebruik daarvan tog ook so ’n effense Germaanse/Blumiaanse (?) geurtjie aan die opsomming in die abstrakjoernaal. Die laaste sin in die abstrak: “The best results are obtained only when other factors are favourable to plant growth” is ook duidelik nie aan Beyers en Roach se Engelse opsomming nie, maar aan die Afrikaanse teks ontleen. Sou abstrak 2738 van 1966 dalk ’n voorbeeld van Blum se werk as abstraheerder aan die CMI kon wees? Hieroor kan maar net bespiegel word.

Dit is interessant dat Hetta Blum, in ’n ongedateerde brief aan haar suster, personeelvermindering as rede vir Blum se diensbeëindiging aan die CMI aanvoer (Kannemeyer 1993:153, 169), waaruit met redelike sekerheid afgelei kan word dat hy nie vrywillig uit sy pos bedank het nie. Alhoewel dit wel waar is dat die CMI se personeelgetal van 1966 tot 1967 effens verminder het, was dit nie as gevolg van ’n besnoeiing in die getal abstraheerders nie. Tussen 1966 en 1967 het die getal mikoloë en plantpatoloë in diens van die CMI wel effens gedaal, maar die getal Abstractors/Editors het onveranderd gebly (Anoniem 1967, verso van titelbladsy). Blum is dus bloot deur iemand anders vervang, soos die volgende aanhaling uit die 1967–1968-CMI jaaroorsig ook getuig:

During the year two Scientific Information Officers, Mr P. Blum and Mrs A. Grant, left and one was appointed, Mrs I.M. Ross. Mr S.R.K. Sharma joined the staff in August as a temporary Scientific Officer under the Executive Council’s training scheme. (Anoniem 1968:1–4)

Die oorsig noem ook: “Another development was the start of an attempt to build up a small panel of outside abstractors to supplement the resident SIOs and one established SIO post was relinquished for this purpose.” In effek het dit egter nie gebeur nie, en mnr. Sharma sou sy “tydelike” aanstelling tot en met 1970 beklee, in welke jaar die getal abstraheerders ook al tot nege aangegroei het (Anoniem 1970, verso van titelblad). Volgens dr. Punithalingam was mev. Ross van Duitse afkoms en is sy aangestel om die Duitse werk te hanteer. Hieruit blyk dit dat Blum se vertrek ’n leemte in die vermoë van die abstraheringsdepartement gelaat het en gevolglik is dit moeilik verstaanbaar waarom juis hý dan die slagoffer van die sogenaamde rasionaliseringsproses sou gewees het. Was daar dalk ’n ander rede – wat Hetta nie wou noem of dalk kennis van gedra het nie? Volgens dr. Punithalingam sou hy nie verbaas wees indien Blum se gesondheid en chroniese hoes dalk ’n rol kon gespeel het nie, maar dit is blote bespiegeling. Dit was egter ook interessant om te verneem dat Blum sy gebruik van die stuur van snedige en beledigende kaartjies aan prominente literêre figure in Suid-Afrika – soos W.E.G. Louw en D.J. Opperman (Kannemeyer 1993) – ook in die werkplek voortgesit het, met sy medewerknemers aan die CMI, en veral dan ook die Duitse abstraheerder Buhler, as teikens van sy aanslae (persoonlike mededeling, dr. E. Punithalingam, Oktober 2008). Volgens dr. Punithalingam was die “degrading and offending” aard van die kaartjies dan ook die oorsaak van groot ongelukkigheid onder die ontvangers daarvan en het dit Blum die gramskap van sy kollegas op die hals gehaal. Of hierdie gedrag van hom dalk ’n rol by sy diensbeëindiging kon gespeel het, is nie bekend nie. Dr. Punithalingam was nie geneë om die onderwerp verder aan te roer nie en het die gesprek afgesluit met ’n simpatieke: “The man’s gone. Let him rest in peace now.” Interessant is egter die feit dat daar tot en met 1975 steeds op ’n gereelde grondslag van mev. Grant, wat ook in 1967 die diens van die CMI verlaat het, se dienste as vryskut-abstraheerder gebruik gemaak is, terwyl Blum nooit weer in dieselfde hoedanigheid betrokke was nie. Aangesien Peter Blum se personeelrekord nie behoue gebly het nie (persoonlike mededeling, mnr. N. MacIntosh, direkteur: Menslike hulpbronne, CABI, Wallingford, 6 November 2008), is dit onwaarskynlik dat meer duidelikheid ooit oor die ware rede vir sy diensbeëindiging aan die CMI verkry sal word.

 

5. Erkennings

Dank is verskuldig aan dr. E. Punithalingam vir sy waardevolle hulp; die personeel van die mikologieherbarium aan die koninklike botaniese tuine te Kew vir die warm ontvangs wat die outeur telkens daar ontvang het; die Universiteit van Stellenbosch vir toegang tot die J.S. Gericke Biblioteek; die Mediese Navorsingsraad in Tygerberg vir toegang tot die biblioteek van die Navorsingsinstituut vir Voedingsiektes; asook die sentrale navorsingskomitees van die destydse Skiereilandse Technikon en die huidige Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie vir navorsingsbefondsing.

 

Bibliografie  

Aitchison, E.M. en D.L. Hawksworth. 1993. IMI: Retrospect and prospect. Wallingford: CAB International.

Anoniem. 1966. Abstrak 2738. Review of Applied Mycology, 45(10):481.

—. 1967. Review of Applied Mycology, 46, verso van titelbladsy.

—. 1968. The year 1967–68 at the Commonwealth Mycological Institute. Commonwealth Phytopathological News, (4):1–4.

—. 1970. Review of Applied Mycology, 49, verso van titelbladsy.

—. 1995. Longman dictionary of contemporary English. 3de uitgawe. Harlow: Longman Dictionaries.

—. 2000. AA 2001 Motorist’s atlas of Britain. Basingstoke: AA Publishing.

—. (sonder datum). The history of CABI. http://www.cabi.org/datapage.asp?iDocID=235 (24 Junie 2009 geraadpleeg).

Beyers, C.P. de L. en W.A. Roach. 1965. Die beheer van kopertekort in die winterreënstreek met spesiale verwysing na koring en lusern. Departement van landbou-tegniese dienste tegniese mededeling, 46:1–17.

Boshoff, Tobie. 1992. Wat het geword van Peter Blum? Asof van die aarde verdwyn. Rapport, 5 Januarie, p. 6.

Breuer, Rosemarie. 2005. Stellenbosch writers. Stellenbosch: SSI- Stellenbosch Writers. Ook by: http://www.stellenboschwriters.com/100blump.html (24 Junie 2009 geraadpleeg).

Kannemeyer, J.C. 1993. Wat het geword van Peter Blum? Die speurtog na die Steppewolf. ’n Narrasie in veertien episodes met ’n naspel. Kaapstad: Tafelberg.

—. 2009a. Blum se laaste gedig? By, p. 16, bylaag tot Die Burger, 21 Februarie.

—. 2009b (2008 sic). Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel en See Boeke.

Slabber, Coenie. 1992. Einde van die soektog: Blum is dood. Rapport, 12 Januarie, p. 4.

 


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top