Persvrystelling: Slimkoppe verstom beoordelaars by ATKV-Spelathon

  • 0

Sosiale media openbaar gereeld die swak gehalte van spelling, nie net onder jongmense nie, maar ook onder volwassenes. Lelike taalgoggas verskyn in die kuberruim wat enige taalpuris se nekspiere sal laat bult, maar gelukkig is daar hoop.

Leerders van regoor die land het op 12 en 13 Oktober hul taalvernuf by vanjaar se ATKV-Spelathonfinaal by die HB Thom-teater in Stellenbosch ten toon gestel. Een ding was duidelik: Spel kan hulle spel.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe hierdie kompetisie se gehalte elke jaar verbeter,” sê Minette Mentz, hoofbeoordelaar van die ATKV-Spelathon.

“Hierdie leerders is fenomenaal en ons monde het telkemale oopgehang vir die moeilike woorde wat hulle reg kon spel.”

Dit sluit in woorde wat selfs volwassenes sal laat kopkrap, soos: biochemikus, kaas-en-wyngeselligheid, haakwurmbesmetting en tipe A-persoonlikheid.

Dit is ook die eerste jaar waar senior leerders (graad 10 tot graad 12) ook aan die ATKV-Spelathon deelgeneem het.

“Daar was so ’n groot aanvraag van kinders wat vorige jare deelgeneem het en weer wou deelneem dat ons besluit het om hulle ook in te sluit,” sê Minette.

Volgens René Zietsman, projekorganiseerder, is die doel van hierdie projek om spelvaardighede te verbeter, innoverende onderrigmetodes te bied en gesonde kompetisie aan te moedig.

“Dit is kompetisies soos hierdie wat nie net ’n kardinale bydrae tot spelling lewer nie, maar dit ook vir leerders lekker maak om te spel,” sê sy.

Die ATKV verskaf die gesiene woorde en die leerders moet daardie woorde leer. Deelnemers word ook met ongesiene woorde by die uitdunne, provinsiale finale en nasionale finaal uitgedaag.

“Wat nog meer verbasend is, is dat die leerders so goed vaar met ongesiene woorde,” sê Minette.

Die ATKV-Spelathon bied geleenthede vir huistaalsprekers sowel as Afrikaans addisionele taalsprekers.

Die kategorieë sluit in: graad 6 en graad 7 (huistaal en eerste addisionele taal), graad 8 en graad 9 (huistaal en eerste addisionele taal), en graad 10 tot graad 12 (huistaal en eerste addisionele taal).

Die uitslae is soos volg:

Graad 6 en graad 7, eerste addisionele taal

1ste plek: Gia Reynolds van Bryneven Primary School (Gauteng)
2de plek: Unam Hewu van Laerskool Danie Malan (Gauteng)
3de plek: Tyler Schagen van Laerskool Gene Louw (Wes-Kaap)

Gia Reynolds

Graad 6 en graad 7, huistaal

1ste plek: Annemay Schade van Laerskool Welgemoed (Wes-Kaap)
2de plek: Venessa Bouwer van Laerskool Kabega (Oos-Kaap)
3de plek: Jessy Bekker van Laerskool Roodekrans (Gauteng)

Annemay Schade

Graad 8 en graad 9, eerste addisionele taal

1ste plek: Sameeha Minty van Al Huda Muslim School (Noordwes)
2de plek: Gavin Swartz van Hoërskool Noord-Kaap (Noord-Kaap)
3de plek: Caitlin Hamilton van Fourways High School (Gauteng)

Sameeha Minty

Graad 8 en graad 9, huistaal

1ste plek: Deandré Jacobs van Hoërskool Grens (Oos-Kaap)
2de plek: Angelique Abrahams van Hoërskool Noord-Kaap (Noord-Kaap)
3de plek: Jenna Steenkamp van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)

Deandré Jacobs

Graad 10 tot graad 12, eerste addisionele taal

1ste plek: Nolwazi Mahlangu van Hoërskool Patriot (Mpumalanga)
2de plek: Sethabile Mchunu van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)
3de plek: Kylie van Wyk van Hoërskool De Kuilen (Wes-Kaap)

Nolwazi Mahlangu

Graad 10 tot graad 12, huistaal

1ste plek: Lucille Carmen Bray van Hoërskool Sentraal (Vrystaat)
2de plek: Ingrid Groenewald van Hoërskool Ferrum (KwaZulu-Natal)
3de plek: Almé Hugo van Hoërskool Zwartkop (Gauteng)

Lucille Carmen Bray

Foto's: Stef Krüger

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top