Persvrystelling: Slawevrystelling-viering

  • 11

taalmuseum_600

Die bekende skrywer en geskiedkundige Dan Sleigh is die gasspreker by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl se slawevrystelling-viering op Saterdag 3 Desember 2016. Die tema van die geleentheid is “Versoen met ons slawe-verlede”.

Dan Sleigh is ’n kenner van VOC-geskiedenis en is bekroon vir sy bydrae tot bewaring en letterkunde. Hy het ’n DPhil in Geskiedenis van die Universiteit Stellenbosch en ’n ridderskap van die Nederlandse koningshuis. Hy het sy nasionale diensplig in die Suid-Afrikaanse Vloot gedoen.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is die doel van die viering om hulde te bring aan die nalatenskap van die slawe in ons kultuur en omgewing. Jonas sê slawerny is geensins eie aan Suid-Afrika nie, maar ’n wêreldwye verskynsel wat reeds sedert Bybelse tye beoefen is. Hy wys egter daarop dat talle van die sosio-ekonomiese, maatskaplike en identiteitskwessies waarmee die Suid-Afrikaanse samelewing vandag worstel, hul oorsprong in slawerny het.

“Ons vier in Desember ook Versoeningsdag en wil hiermee ’n beroep op alle Suid-Afrikaners doen om te versoen met ons land se verlede, insluitend ons slawe-erfenis. Sowat 63 000 slawe is tussen 1658 en 1808 uit verskillende wêrelddele hierheen ingevoer. Hul herkoms uit sowel die Ooste as uit ander dele van Afrika het ’n unieke en diverse slawebevolking tot stand gebring wat ’n groot bydrae tot taal- en kultuurontwikkeling aan die Kaap gelewer het. Kom leer gerus meer oor hierdie erfenis tydens ons viering,” sê Jonas.

“’n Belangrike hedendaagse kwessie is dat alhoewel slawerny amptelik onwettig verklaar is in alle lande, daar vandag meer slawe as ooit bestaan. Tydens die vier eeue van slawerny is daar ongeveer 13 miljoen mense vanaf Afrika uitgevoer. Vandag is daar ongeveer 27 miljoen slawe – mense wat geforseer word om te werk vir geen geld, opgesluit word en deur geweld beheer word.

Die program sluit musiekoptredes in deur die plaaslike kunstenaars Marissa von Mollendorf en Drakenstein Youth Development. Die geleentheid begin om 09:30 in die Historium Konferensiesentrum langs die Afrikaanse Taalmuseum in Pastorielaan. Bywoning is gratis, maar plek is beperk. Bespreek by Carlo Joshua by 021 872 3441 of erf.assist@taalmuseum.co.za.

  • 11

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Die Afrikaner word toenemend met on-Afrikaanse vierings en funksies by oa die Kasteel en die Paarlse Afrikaanse taalmonument in die Wes-Kaap in die naam van "inklusiwiteit" uitgerangeer. Bestaan daar nog enige Wes-Kaapse Afrikanerorganisasies wat hieraan kan aandag gee?

  • Johann Basson

    Dr Dan Sleigh is 'n kenner van formaat van die VOC-geskiedenis aan die Kaap. Hy publiseer uitstekende navorsingsuitsette.
    Ek is 'n gebore en getoë Afrikaner in murg en been en lief vir my Afrikanervolk. My BASSON-stammoeder, blykbaar van Indiese afkoms, Angela van Bengale, was 'n slavin van en in diens van Jan van Riebeeck as huishoudster en sy kinderoppasser. Sy het as vrygelate slavin met my een stamvader Arnoldus Willemsz BASSON getrou.
    Elke Afrikaner behoort 'n genealogiestudie te maak van sy Afrikaner-voorouers se familiegeskiedenis oor alle kleurgrense heen. Dan kry die geskiedenis nuwe betekenis. Te veel Suid-Afrikaners se kennis van ons geksiedenis laat veel te wense en dan wil hulle nog oor ons toekoms besluit sonder om veel uit die foute van die verlede te geleer het.
    Het u as leser van hierdie persvrystelling al sodanige genealogiese studie van u en u huweliksmaat se families gedoen?

  • Johannes Comestor

    Ek het geen beswaar teen Dan Sleigh as historikus, skrywer of spreker nie. Ek het die hoogste agting vir hom. Maar ek vind dit teleurstellend dat Michael Jonas so vroeg in sy ampstermyn met 'n onderwerp en 'n motivering vir daardie onderwerp vorendag kom wat bitter min direkte verbintenis het met wat die ATM veronderstel is om te wees. Vir sowel die ATM as die Afrikaanse Taalraad gaan dit blykbaar in die eerste plek om versoening terwyl voorkeur aan Afrikaans gegee behoort te word.

  • Hanno Visagie

    Christo Hattingh van Orania meld elders: In Suid Afrika het slawerny nog nie opgehou nie. Ons sal slegs slawe vrystel as ons selfwerksaamheid beoefen.

  • Hanno Visagie

    Dit is deesdae polities korrek om op gemengde afkoms te roem. Dit is egter 'n nagevorste feit dat die gemiddelde nasaat van die gemiddelde ou Afrikanerfamilie gemiddeld slegs 7 % nie-Europese gene het, as genealogie dan nou hier ingesleep moet word.

  • Johann Basson

    Indo-Europese talegroep > Germaanse tale > Wes-Germaanse tale > Laag Frankiese tale > Nederlands > Afrikaans > " Post 2016 Afrikaans genaamd XXXXX "?

    Wat is die verskil tussen Afrikaanse vierings en Afrikaanse funksies teenoor nie-Afrikaanse vierings en nie-Afrikaanse funksies? Ek vra maar net.

  • Johann Basson

    Wat beteken "Gelykheid, Vryheid en Broederskap"? Wat beteken "Demokrasie"? Wat beteken "Grense, Gelykheid en Gemeenskap"? Hoe moet dit vergestald? Miljoene verskillende antwoorde. Wie is reg?

    Feit is dat die ongebreidelde groei in die wêreldbevolking teenoor afnemende beskikbaarheid van bronne toenemend gaan lei tot menseverhuisings op soek na 'n beter hoop, lewensgehalte en toekomsvooruitsigte. Die impak hiervan is toenemende konflik.

    George Orwell het in sy werk "Animal Farm" die wese van die mens raakgesien: die drang om assosiasie om die kans op oorlewing te verbeter ter uitsluiting van die andere. Daar is die varke wat die heersende elite vorm om beheer oor die bronne te bekom en daar is die skape wat met die sokkerbal en dogma en -isms besig gehou word. Daar is geen utopia op aarde nie. Gierigheid is die grootste probleem. Ons leef in 'n sondige wêreld. Punt.

  • francois verster

    Nasionalisme is 'n blinde geloof in eie onaantasbaarheid, en uitsluiting van ander om hulle te ondermyn tot eie voordeel. Patriotisme is die teenoorgestelde - die diens aan die vaderland en medemens, eerder as die aggressiewe houding teen ander, binne of buite jou grense. Nasionalisme is nie 'n goeie ding nie en ons moet soos JFK destyds gevra het, eerder vra wat ons vir ons land kan doen as wat ons land vir ons (tot ander se nadeel) kan doen. Laasgenoemde is wat Zuma en Malema ens propageer, en ons kan almal die gevaar daarvan insien. Om ander te respekteer verlaag jy nie jouself nie. Inteendeel. Ek was by Sleigh se praatjie en hy het dit duidelik gestel dat slawerny sleg was, steeds is, maar jy nie moet veralgemeen nie, en die direkteur van die ATM het ook gesê dis nie net hier waar slawerny voorgekom het nie, en dat dit steeds voorkom waar met mense handel gedryf word (bv Midde-Ooste). Nêrens en nooit het iemand iets teen die Afrikaner gesê nie (ek sou dan opgestaan het en dit bevraagteken het) en die hele geleentheid was in goeie gees afgehandel. Ek sal oor twee weke in die Bolander ('n week-koerant) daaroor berig lewer in my geskiedenisrubriek, vir diegene wat daaroor wil lees, soos ek onlangs ook oor die taalmonument in dieselfde rubriek berig gelewer het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top