Persvrystelling: Skryf in vir die 2018 kykNET-Rapport-resensiepryse

  • 0

Boekresensente word genooi om in te skryf vir die 2018 kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke bekroon word.

Met dié pryse word erkenning gegee aan Afrikaanse resensente wat boeke en die leesgenot van boekliefhebbers bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke vir die breë Suid-Afrikaanse publiek toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.

Resensente word genooi om in te skryf in twee kategorieë:

  • Uitnemende resensie: Afrikaanse fiksie (alle genres)
  • Uitnemende resensie: Afrikaanse niefiksie (alle genres)

Die wenner in elke afdeling ontvang ’n kontantprys van R25 000.

Die 2018-pryse word toegeken vir resensies wat tussen 1 Januarie 2017 en 31 Desember 2017 in die drukmedia en hoofstroom- aanlyn media verskyn het. Transkripsies van radioresensies word ook aanvaar. ’n Resensent mag ’n maksimum van drie resensies per kategorie inskryf.

Slegs Afrikaanse resensies van Afrikaanse fiksie en Afrikaanse niefiksie kom in aanmerking.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 29 Junie 2018.

’n Paneel van drie keurders met Bibi Slippers as sameroeper sal die wenners aanwys uit die resensies wat ingeskryf is.

Met die beoordeling van inskrywings sal die vernaamste kriteria wees dat resensies toeganklikheid vir hul waarskynlike lesers demonstreer en die leesplesier van Afrikaanse boeke bevorder. Daarbenewens sal die keurders op die uitkyk wees vir werk wat:

  • oorspronklike insigte weergee oor boeke wat waarde toevoeg tot die Afrikaanse letterkunde
  • ’n relevante verwysingsraamwerk en konteks toon
  • ingeligte oordeel met goed gemotiveerde en opbouende kritiek weerspieël
  • lesers lus maak om te lees
  • nie op sensasie en afbrekende kritiek fokus nie, en
  • getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk.

Die keurders sal ruimtebeperkings in ag neem.

Die inisiatief om in te skryf berus in die eerste plek by die deelnemer, maar boekeredakteurs en redakteurs word versoek om resensente aan te moedig om deel te neem.

Geen inskrywingsgeld is betaalbaar nie.

Sowel elektroniese as papierinskrywings word aanvaar. Inskrywings van gepubliseerde resensies moet waar van toepassing vergesel wees van PDF-weergawes van die resensies soos dit oorspronklik verskyn het tensy vooraf anders ooreengekom met die administrateur van die pryse.

Kontak die administrateur, Anita van Zyl, by anita@vanzylpr.co.za of 021 422 3350 indien jy verdere navrae het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top