Die Afrikaanse literêre leefstyljoernaal Ambassadeur het – in samewerking met die Italiaanse modehuis, Gucci – so pas ’n eerste-van-sy-soort foto-essay bekendgestel.
Die 54-bladsy foto-essay (jy het reg gelees, 54 bladsye!) bring Etienne Leroux se roman Sewe dae by die Silbersteins tot die lewe in ’n unieke ontmoeting van letterkunde en modeontwerp. In die foto-essay word die modelle gestileer in die Gucci voor-herfs ’18 versameling – wat spesiaal van Italië af ingevlieg is vir die foto’s – langs aanhalings uit die roman.
Met die eerste publikasie van Sewe dae by die Silbersteins in 1962, is dit beskou as revolusionêr – ’n deurbraak in die Suid-Afrikaanse letterkunde. ’n Satiriese, fantasmagoriese pantomime wat die konsepte van goed en kwaad herondersoek. Die roman speel af op die fiktiewe Welgevonden-wynlandgoed waarheen die hoofkarakter, Henry van Eeden, gestuur word om vir ’n week te bly sodat hy sy verloofde, Salome Silberstein, vir die eerste keer kan ontmoet.
In die loop van die sewe dae eskaleer die roman in die duisterheid soos Henry in die weë van die rykes opgevoed word. Elke aand woon hy ’n buitensporige, bisarre partytjie by – ’n uitbundige fees van oorvloed wat grens aan makaber. Die roman eindig op die sewende dag, die paartjie se troudag, wanneer Henry se bruid, wat hy nog nie deur die loop van die week kon ontmoet nie, hom by die kansel tegemoetkom.
Hierdie eerste-van-sy-soort foto-essay was gekonseptualiseer deur Derick Muller, die skeppende hoof van The Suits – ’n advertensie agentskap van Kaapstad. Hy was ook die hoof fotograaf van die foto-essay. “Wat vir ons regtig ongelooflik was, was dat ons die foto’s kon neem op die landgoed wat as oorspronklike inspirasie vir Etienne Leroux se roman gedien het. Die huis het homself perfek verleen tot die gevoel wat ons gevisualiseer het vir die fotografie.”
Die omgewing waarin die roman afspeel is indirek geïnspireer deur die Bellingham-wynlandgoed, wat op daardie stadium in die besit was van die eksentrieke Bernard Podlashuk en sy merkwaardige vrou, Fredagh. Die paartjie het die binnekant van die herehuis versier met ’n eksentrieke mengsel van Eurosentriese en Oosterse style. Daar is alles van eiers gemaak, van halfedelstene tot versamelings Venesiese glas en antieke meubels uit Frankryk, Rusland, Portugal en Italië. Daar is selfs ’n vergulde hemelbed in een van die gastekamers wat oorspronklik ’n trougeskenk aan die koning en koningin van Soematra was.
Na Fredagh Podlashuk se dood in 2002 het die Bellingham-herehuis ’n nasionale monument en privaat museum in besit van die Podlashuk Bellinchamp National Heritage Foundation geword. Elke item in die herehuis is presies gelaat soos wat dit was op die dag van haar dood.
“Die inspirasie vir die konsep het gekom nadat ek die artikel “'Op soek na Etienne Leroux se Welgevonden' deur Willemien Brümmer op Netwerk24 gelees het,” sê Derick Muller. “Toe ons die konsep van ’n foto-essay oor Sewe dae by die Silbersteins vir Gucci voorstel, en sê ons wil dit in die Bellingham-herehuis skiet, was hulle absoluut versot daarop.”
Die openingstoneel van elke “hoofstuk” was gefotografeer met ’n 1979 Hasselblad-kamera. “Die 120mm medium formaat film wat ons in die Hasselblad gebruik was ideaal om die eklektiese nuanse van die storie en die ligging vas te vang,” sê Karin Muller, kreatiewe vervaardiger by Ambassadeur. “Die reeks van Gucci het egter die koek gevat. Toe ons eers die modelle in die tonele plaas met die klere aan, het alles net gewerk!”
Ambassadeur is ’n literêre leefstyljoernaal, en die inhoud handel oor kuns, avontuur, makers, mode en literatuur. Hierdie joernaal word nou ook in Engels vrygestel. Beide die Engelse en Afrikaanse weergawes word Vrydag 6 Oktober 2017 om 18:00 by die Youngblood Galery, 72 Breëstraat in Kaapstad bekendgestel. Toegang is gratis.
RSVP by: kontak@ambassadeur.co.za
Webtuiste: www.ambassadeur.co.za
Facebook: https://web.facebook.com/dieambassadeure/
Instagram: https://www.instagram.com/ambassadeur_journal/