Twee maande gelede het ek ’n pleidooi vir die oprig van ’n aanlyn nagraadse studiegroep vir Afrikaans en Nederlands gelewer. Ek is opgewonde om aan te kondig dat die Samespraakwebblad op 1 September geloods is. Remona Voges het die ontwerp van die webblad behartig.
Die oogmerk van Samespraak is die kweek van belangstelling in die vergelykende bestudering van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Samespraak bied ’n aanlyn platform vir nagraadse studente en postdoktorale ondersoekers van die Lae Lande en Suid-Afrika (maar ook Pole, Tsjeggië, Duitsland, Namibië, Suiname, Curacao en Aruba) waarop seminare, leesgroepe en werkswinkels gefasiliteer word. Altesaam agt lesings word vir die 2021-studiejaar beplan, wat strek van Januarie tot November 2021. Alfred Schaffer is Samespraak se eerste skrywer in residensie en ’n spesiale skrywerswerkswinkel word vir Mei 2021 in die vooruitsig gestel.
Die vereiste vir deelname is dat kandidate vir ’n MA of PhD in Afrikaans en/of Nederlands by ’n universiteit geregistreer moet wees. Postdoktorale ondersoekers en akademici wat belangstel in die vergelyking van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde word ook uitgenooi om deel te neem.
Indien jy belangstel om deel te word van die Samespraakgemeenskap, voltooi asseblief die vorm op die Samespraakwebtuiste voor of op Maandag 16 November 2020.
Volg ons Facebook en Instagram vir sosiale media.
Alwyn Roux, namens die Samespraakbestuur