Persverklaring: Uitnodiging – Studiegroep Afrikaans en Nederlands (aanlyn forum)

  • 0

Geleenthede en uitdagings

Nerina Bosman en Wannie Carstens (2020) skryf in “Tussen geleentheid en uitdaging. Die Nederlandistiek in Suid-Afrika” wat in De Lage Landen in Februarie verskyn het, dat “daar steeds ’n gesonde belangstelling in die bestudering van Nederlands as akademiese terrein” in Suid-Afrika bestaan. Dit blyk veral uit “nagraadse skripsies, verhandelinge, en proefskrifte van studente” asook die publikasies in akademiese tydskrifte. Verder noem hulle dat “[s]amewerking tussen individuele navorsers en hulle nagraadse studente in beide die Lae Lande en Suid-Afrika […] eweneens ’n goed gevestigde gebruik” is “met gedeelde publikasies en navorsingsprojekte”. Alhoewel, soos Carstens en Bosman (2020) tereg opmerk, is daar talle uitdagings vir die Nederlandistiek in Suid-Afrika “as gevolg van die politieke klimaat en die tersiêre omgewing waarin ons in Suid-Afrika werk”, wat onder andere befondsing en krimpende studentegetalle insluit.

As ’n manier om opnuut belangstelling vir die bestudering van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde te kweek en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan op ’n koste-effektiewe wyse te oorbrug, wil ek graag ’n voorstel maak vir die daarstel van ’n nagraadse studiegroep met studente van die Lae Lande en Suid-Afrika (maar ook Pole, Tsjeggië, Duitsland, Namibië en Suriname). Die voorstel behels die oprig van ’n aanlyn forum waar nagraadse studente by seminare, leesgroepe en werkswinkels, soortgelyk aan die werksaamhede by ASCA (Amsterdam School for Cultural Analysis) aan die Universiteit van Amsterdam, betrokke is. Aangesien lede van die voorgestelde studiegroep uit verskeie lande kom, sal ontmoetings nie tot ’n enkele instansie (byvoorbeeld ’n residensiële universiteit) beperk kan word nie, maar sal daar van ’n aanlyn platform soos Zoom, Microsoft Teams of Skype gebruik gemaak moet word. ’n Webblad sal ook spesiaal vir die projek opgestel word wat inligting oor die studiegroep se jaarprogram en navorsers verstrek.

Hoe die lesings sal werk

Die maandelikse lesings sal ’n sekere tema of onderwerp aanspreek waarby al die lede sal baatvind. Hierdie lesings sal dan maandeliks deur een of twee van die lede van die studiegroep aangebied word. Veronderstel DJ Opperman se proefskrif, Digters van Dertig (1954), is die onderwerp vir daardie spesifieke akademiese jaar, dan kan die verskillende figure in die proefskrif elke maand deur een of twee van die lede bespreek word. (Die figure sluit in ID du Plessis, CM van den Heever, NP van Wyk Louw, Uys Krige, WEG Louw en Elisabeth Eybers.) Vrae wat hieruit na vore sal kom, sluit byvoorbeeld in tot watter mate dié figure vandag nog relevant is en hoe hulle ’n venster op die Nederlandstalige letterkunde oopmaak. Mens sou ook na seminale studies kon gaan kyk wat in Nederland en Vlaandere verskyn het, met spesifieke fokus op belangrike figure en hulle verhouding met Afrikaans en Suid-Afrika. (Hierdie is net ’n voorbeeld ter illustrasie van wat bestudeer kan word.) Aan die einde van die studiejaar sal die lede die kans kry om ’n miniseminaar op die aanlyn forum aan te bied, met spesifieke fokus op die onderwerpe wat gedurende die jaar bespreek was. Die referate wat gelewer word kan dan voorgelê word aan spesiale uitgawes van akademiese joernale.

’n Oop uitnodiging

Tans is die uitdaging om medewerkers vir die projek te verkry, ’n jaarprogram op te stel en die studiegroep van stapel te stuur. Enigeen wat belangstel om deel te word van die projek, kan Alwyn Roux voor Vrydag 31 Julie 2020 by erouxap@unisa.ac.za kontak. Bestuursposisies wat tans beskikbaar is, is voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris, tesourier en addisionele lid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top