Persvrystelling: SA Akademie doen ’n beroep op ouers om hulle te vergewis van die voordele van moedertaalonderrig

  • 0

Op Internasionale Moedertaaldag 21 Februarie dink mens onwillekeurig aan jou eie moedertaal, die taal waarin mens spontaan kan praat, ontspanne kan lees, werk, skryf en droom. Moedertaaldag gee erkenning aan die ongeveer 7 000 afsonderlike tale wat biljoene mense regoor die wêreld daagliks gebruik om hulle lewens te leef.

Foto: Pixabay.com

Die fokus op moedertale skep nie slegs ’n bewustheid van taal as ’n kulturele bate nie, maar dit bied ook die geleentheid om die waarde van moedertaalonderrig wêreldwyd op die voorgrond te plaas.

Die voordele van moedertaalonderrig as ’n akademiese bate word steeds nie wyd genoeg erken nie. Internasionaal vergelykende studies, soos die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) toon oor verskeie siklusse in Suid-Afrika dat ons graad 4-leerders, vir wie die taal waarin hulle getoets is en wat ooreenstem met hulle moedertaal, tot beter leesprestasie in staat was.

Foto: Pixabay.com

Hierdie bevindinge ondersteun die empiriese waarde van ’n sterk moedertaalbasis, veral in die ontwikkelingsjare tydens vroeë onderrig op skool. Bewyse dui daarop dat selfs blootstelling aan ’n taal wat minstens ooreenkomste toon met die moedertaal ’n positiewe uitkoms tot gevolg kan hê.

Die Onderwyskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns doen ’n beroep op ouers om hulle te vergewis van die bewese voordele van moedertaalonderrig. Die skoolprestasies van leerders by skole waar moedertaalonderrig steeds in plek is, spreek vir sigself. In so ’n omgewing kan daar verwag word dat bevoegde moedertaalonderwysers ’n beter kans het om groter sukses te behaal in die voorbereiding van ons toekomstige generasies.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top