Persvrystelling: SA Akademie betreur Minister van Hoër Onderwys en Opleiding se uitlatings oor die Afrikaanse taalgemeenskap

  • 0

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns distansieer haar met groot nadruk van Blade Nzimande, die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, se uitgediende stereotipering van die Afrikaanse taalgemeenskap soos berig op 14 Oktober 2019 op Netwerk24. Om stééds in 2019 te wil argumenteer dat die gebruik van Afrikaans, ’n inheemse taal wat ten volle ontwikkel het as ’n akademiese en wetenskapstaal, ’n middel is om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te streef soos in apartheid” is nie net ’n belediging vir ons taalgemeenskap nie, maar ’n powere poging om politieke munt te slaan uit die Konstitusionele Hof se uitspraak oor Universiteit Stellenbosch se taalbeleid.

Die SA Akademie neem kennis maar is bekommerd dat die Minister die hofuitspraak as "’n oorwinning" oor ’n vermeende Afrikaanse hegemonie beskou. Ons wys egter graag die Minister daarop dat die hegemonie van Afrikaans wat 30 jaar gelede in die tagtigerjare in die hoër onderwys bestaan het, nou mos vervang is met ’n Engelse hegemonie, ten koste van ons inheemse tale. Daar kan geen sprake meer wees van ’n Afrikaanse hegemonie nie. Afrikaans is tot onlangs slegs op enkele universiteitskampusse saam met ander tale gebruik.

Dr Nzimande, wat sal die onbedoelde gevolge en skade wees in die groot poging om van Afrikaans as onderrigtaal ontslae te raak?  As ons sê Afrikaans word gebruik om uit te sluit, wie word nie almal deur Engels uitgesluit nie? Alle tale is mos dan uitsluitend vir niesprekers of tweede- of derdetaalsprekers?

Dr Nzimande, die Afrikaanse taalgemeenskap is die mees diverse taalgemeenskap in Suid-Afrika. Hierdie gemeenskap het reeds ver gevorder op ’n pad van versoening en inklusiwiteit binne en buite die gemeenskap. Ons beskou ons jong taal as ’n onskatbare bate vir haar sprekers en mede-Suid-Afrikaners in die strewe na nasiebou in ’n konteks van diversiteit. Ons bestuur ons taal- en kultuurbates met groot sorg. Ons is trots op die konstruktiewe rol wat ons gemeenskap vervul in die heropbou van ons land. U wil Afrikaans “red van ’n wit regse agenda”? Red eerder ons onderwysstelsel, asseblief.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top