Twee radiodrama-skrywers in eerste plek
Twee radiodrama-skrywers het vanjaar koning gekraai in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2017 en ontvang albei die eerste prys. Lee Doubell met sy drama, Rommel rommel, en Albert Short met sy storie, ’n Voorlopige begrafnis, het met die meeste punte én louere weggestap.
RSG en Sanlam het besluit om aan albei die wenners die volle prysgeld toe te ken, pleks daarvan dat hulle dit deel. Doubell en Short ontvang dus elk R35 000.
Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 21 jaar oud.
Janine van der Linde beklee die tweede plek met Vlerke vir Jason, terwyl Sophia van Taak in die derde plek is met Kommapunt. Van der Linde ontvang R25 000 en Van Taak altesame R15 000.
Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is vanjaar Erica Harris met haar radiodrama Oorlewing – C Blok, waarvoor sy ook R15 000 ontvang.
Die totale prysgeld was verlede jaar R60 000, maar is vanjaar tot R90 000 verhoog om die top Afrikaanse dramatekste vir radio te bekroon. Omdat daar dus twee eerste plekke is, is die prysgeld verder tot R125 000 verhoog.
Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai. Die vyf wendramas sal dus van April 2018 in RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2018 gehoor word.
Doubell se Rommel, rommel handel oor ’n drietal gesoute misdadigers wat ’n waagmoedige rooftog tydens ’n groot popkonsert beplan met die toevoeging van ’n naïewe, onskuldige jong man wat oor ’n swaarvoertuiglisensie beskik. Sal hulle poging ooit slaag? Die beoordelaars het dit geloof vir sy sterk, aangrypende en boeiende intrige asook geloofwaardige karakters.
In Short se ’n Voorlopige begrafnis spreek ’n brief van ’n afgestorwene aan sy familie en vriende die hoop uit dat sy begrafnis stigtelik en ordelik sal verloop. In die brief verduidelik hy waarom hy sy buitengewone wens op hierdie manier, amper soos ’n testament, uitspreek. Die beoordelaars reken dit gaan ’n “heerlike luisterervaring” waarborg en is boonop boeiend, vermaaklik, radiomatig en gevul met galgehumor.
Beide Doubell en Short het vanjaar RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool bygewoon.
Vlerke vir Jason handel oor ’n gelukkige, jong paartjie van die Kaapse Vlakte wie se lewe aan flarde geruk word weens bendegeweld. Van der Linde het ook verlede jaar die tweede plek behaal met haar debuut-radiodrama, Die kind.
In Kommapunt deur Van Taak ontdek ’n teneergedrukte kopieskrywer dat die wêreld vol gebroke mense soos sy is. Net wanneer sy die sonkant van die lewe omarm en haar digbundel bekend stel, beleef sy egter die grootste toets vir haar nuwe lewensuitkyk.
Harris, ’n vorige Jong Skrywer-wenner met Die eksentriekes, vertel in Oorlewing – C Blok die verhaal van ’n hawelose vrou wat oor veel meer beskik as net haar negosieware. Haar ryke lewenservaring het ’n blywende en ingrypende invloed op veral twee jongmense wie se lewens skynbaar nie volgens plan verloop nie.
Daar was vanjaar twee rondes met twee panele beoordelaars. Na die eerste ronde van beoordeling is vyftien tekste gekies wat dan met die hulp van ’n mentor vir die eindronde geslyp is. Die finale tekste is toe aan ’n nuwe paneel beoordelaars gestuur. In elke ronde is die tekste anoniem beoordeel.
Die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar sowat 120 inskrywings ontvang, waarvan bykans 30 tekste potensieel geslyp kon word vir uitsending.
Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, is die toename in jonger skrywers verblydend. “Dat ’n derde van die top 15-finaliste vir die Jong Skrywer-prys gekwalifiseer het, dui daarop dat al hoe meer jonger skrywers inskryf. Dit is die meeste aantal Jong Skrywers-inskrywings wat ons tot nog toe ontvang het.”
Burger sê ook daar was ’n verruiming in die temas en kwessies wat skrywers aanroer en die waagmoed wat hulle aan die dag lê. Hy reken ook dat die belegging deur Sanlam in radioskrywers deur die slypskole én kompetisie werp al hoe meer vrugte af, soos vanjaar se groep wenners bewys.
- www.rsg.co.za
- Twitter @zarsg

