Persvrystelling: Poëtiese leesfees tussen graniet en olien vier Erfenismaand

  • 0

Taalmonument, LitNet en ATKV-Skryfskool fokus op 11 stedelike digters

In aanloop tot Erfenisdag op 24 September, is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) trots om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal LitNet, asook die ATKV-Skryfskool, te snoer om minder bekende digters se werk by die monument se Groen Galery uit te stal. Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op nege digters wie se werk in 2018 op LitNet se Skryfwerk-blad verskyn het en op twee digters wat aan die ATKV-Skryfskool se 2018-werkswinkel by die Taalmonument deelgeneem het. Die digters woon in Kaapstad, Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein, dus val die klem hierdie keer op stedelike digters.

Volgens Michael Jonas, ATM direkteur, is die instelling ’n lewende monument waar daar gedurig ’n interaksie tussen die struktuur, natuur, besoekers en taalskeppers is. “Ons wil graag minder bekende skrywers, musikante en digters die kans gee om hul werk aan ’n groter gehoor bloot te stel. Die meeste besoekers is nie net baie geïnteresseerd in die geskiedenis van Afrikaans nie, maar ook nuuskierig oor die taal se ontwikkeling en haar jongste skeppende gedaantes aangesien dit nuwe perspektiewe bied op die bestaanswêreld van talle Afrikaanssprekende Afrikane.”

Siende dat die tema van vanjaar se Erfenismaand "Die jaar van Nelson Rolihlahla Mandela: bevorder die transformasie van Suid-Afrika se erfenislandskap" is, is dit gepas dat hierdie ikoniese monument ’n rol speel om maatskaplike samehorigheid te bevorder deur besoekers kennis te laat maak met nuwe, uiteenlopende Afrikaanse stemme. “Mandela se gesegde (‘As jy met iemand praat in ’n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand; as jy met hom praat in sy moedertaal, praat jy met sy hart’) is immers nog net so waar soos altyd,” sê Jonas.

Die 11 digters is Carma Shaw, Deon Swanepoel, Ilze Lammers, Japhta Makwena, Kim Cloete, Marius Coetzee, Monn-lee Geduld, Ricardo Arendse, Sunelle Geyer, Susanne Pike en Willem de Vries wat tesame ’n wye verskeidenheid belangstellings, geskiedenisse en skryfstyle verteenwoordig.

’n PDF van al die gedigte is te vinde by http://www.taalmuseum.co.za/wp-content/uploads/2018/09/groen-galery-september-2018-Taalmonument.pdf.

Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor die natuur en daarom word hy vereer deur dié buitelug galery waar sy as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur inheemse olienhout en graniet. ’n Uitstalling van verskillende Afrikaanse skrywers word elke paar maande in dié galery se uitstalkaste van herwonne hout en glas aangebied om hiermee op die monument se kulturele én natuurlike aspekte te fokus. LitNet is ’n wyd-gerekende, interaktiewe joernaal op die internet waar skrywers hul verhale, gedagtes, rubrieke, artikels en opinies kan publiseer. Die ATKV-Skryfskool bestaan sedert 1985 en bied landwyd ’n verskeidenheid kort skryfkursusse aan enigiemand wat graag kreatief wil begin skryf of wat hul kreatiewe skryfwerk wil verbeter.

Die publiek kan die uitstalling van 15 September tot Januarie 2019 in die Groen Galery besigtig. Die monument, wat ook die beginpunt van die Paarl se Boomroete is, is daagliks oop van 08:00 tot 17:00. Toegang is R30 vir volwassenes, R10 vir SA studente/pensionarisse en R5 vir kinders (gratis onder ses jaar). Oudiogidse in verskeie tale asook gratis begeleide toere is beskikbaar en die monument bied ook ’n speelpark vir kinders, staproetes en ’n heerlike restaurant.

Vir navrae oor die monument of om meer te wete te kom oor die talle gewilde geleenthede, skakel 021 863 4809/0543/2 of stuur ’n e-pos na admin@taalmonument.co.za. Besoek www.taalmonument.co.za of www.facebook.com/afrikaansetaalmonument vir meer inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top