Persvrystelling: Neville Alexander-prestige-eerbewys – oproep om benoemings

  • 0

Die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi die publiek om geskikte kandidate te benoem vir hul derde Neville Alexander-prestige-eerbewyse ter waarde van R10 000 elk, geborg deur Naspers.

Volgens Michael Jonas, Direkteur van die ATM, is hierdie eerbewyse ’n poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te gee én om taalprojekte te bevorder. Alexander (1936–2012) was ’n bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk beywer het vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

"Die eerbewyse sal toegeken word aan iemand wat sy/haar tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans toeganklik te maak vir almal, asook ’n persoon wat Afrikaans as ’n medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder,” sê Jonas.

Die wenners sal op 13 Oktober 2018 tydens die ATM se 43ste verjaardagvieringe en sy jaarlikse Neville Alexander-gesprek deur die Voorsitter van die Raad aangekondig word. Die wenners ontvang ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R10 000 ten behoewe van relevante taalprojekte. Vorige wenners was die Fakulteit Onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde.

’n Benoemingsvorm is by die ATM beskikbaar en die benoemings, vir individue of organisasies, moet die ATM voor of op 15 Junie 2018 bereik by Posbus 498, Paarl 7646, of per e-pos by admin@taalmuseum.co.za. Vir meer inligting, skakel 021 863 0543/4809 en sien www.taalmonument.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top