Persvrystelling: Moedertaalmaand 2020 – Kom ons maak ’n bohaai!

  • 0
Waarom weer ’n bohaai oor moedertaalonderrig?

Dit is Moedertaalmaand en op 21 Februarie vier ons Internasionale Moedertaaldag wat deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ingestel is om te fokus op die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld. Hulle moedig mense aan en lig mense in oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en lê klem op die bewaring van kultuur en erfenis.

Ons wêreld staan op sy kop. Die gaping tussen die rykes en armes word al groter. Ons staar die gevolge van aardverwarming in die gesig, politici faal ons en die tegnologie tot ons beskikking word in baie gevalle ons grootste vyand. Ons almal probeer net kop bo water hou. Waarom nog teem en kerm oor moedertale en veral moedertaalonderrig?

Teen dié tyd is ons almal deeglik bewus van die oorweldigende resultate van navorsing wat moedertaal aandui as die sleutel tot leersukses, maar ons staar ons blind teen die praktiese uitdagings. Dit is moeilik om toegang te kry tot gehalte moedertaalonderrig. Die wêreld funksioneer hoofsaaklik in Engels. Tersiêre instellings het boedel oorgegee ...

.........

“Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig te ontvang in jou moedertaal laat jou uitstyg bo die gemiddelde en gee jou die vermoë om saam te praat met die bestes in die wêreld.” – Theo du Plessis, professor by die Eenheid van Taalfasilitering en -bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat.

.........

Dit is mos die realiteit ... Basta met die navorsing wat aantoon dat jou fondasie in jou moedertaal jou ware potensiaal ontsluit. Basta met die feit dat dit ’n mensereg is om in jou moedertaal te leer. Basta met die feit dat jy Engels en ander tale beter aanleer as jy eers leer lees en skryf in jou moedertaal. Basta met die feit dat ingewikkelde konsepte makliker posvat wanneer jy eers die begrippe in jou moedertaal onder die knie kry. Basta met die feit dat van die suksesvolste, welvarendste en beste lande in die wêreld hul reg op moedertaalonderrig opeis. In lande soos Nederland, Duitsland, Japan en Amerika, wat op die gebied van innovasie, tegnologie en ekonomiese vooruitgang die toon aangee, is moedertaalonderrig nie eers ’n debat nie!

Maar in Suid-Afrika, waar die geletterdheidsvlak daal, waar die standaarde jaarliks verswak en waar die sosio-ekonomiese uitdagings daagliks eskaleer, besef ouers steeds nie dat die pendulum slegs kan swaai wanneer ons ons kinders bemagtig sodat hulle die uitdagings van vandag met innovasie en kreatiwiteit kan aanpak ... jongmense wat uitnemendheid na die tafel bring.

Maak die waarheid jou realiteit

Kyk na die sukses van die 2019-matrieks wat kon skoolgaan in hul moedertaal. Een so voorbeeld is Madelein Dippenaar, Suid-Afrika se topmatriek. Sy was bevoorreg om haar hele skoolloopbaan in haar moedertaal te kon voltooi en dit stel haar in staat om sonder skroom (en in Engels!) ’n graad in molekulêre en biotegnologie aan te pak. 

Afrikaanse skrywers en joernaliste met ’n stewige fondasie in hul moedertaal kraai koning in die Suid-Afrikaanse niefiksiemark. Entrepreneurs, akteurs en beroepslui wat internasionaal meeding ervaar uitsonderlike sukses.

.........

“Die prestasie in en deur Afrikaans is seer sekerlik een van die beste voorbeelde van wat die voordele van moedertaalonderrig tot gevolg het.”

.........

Kreatief dra mense wat die voorreg van moedertaalonderrig gehad het by tot ’n lewendige multimiljoenrand teater-, fees-, boeke- en vermaakbedryf en kommunikeer radio-omroepers vlot (dikwels in meer as een taal) en dui rigting aan op die gebied van joernalistiek. Wat het hulle almal in gemeen? Hul moedertaal en ’n stewige fondament gebou op moedertaalonderrig!

En as jy steeds bekommerd is oor jou kind se Engelse taalvaardigheid?

Spraakterapeut Christien Neser sê: “Dit is amper onmoontlik vir kinders om nie Engels in ons land aan te leer nie, maar slegs ’n ouer (ma, pa, ouma, oupa…) kan vir die kind ’n moedertaal aanleer. Die plastisiteit van kinders se breine gee hulle die unieke voordeel dat hulle taalkodes uit die omgewing kan absorbeer. Die taalkundiges glo: ‘Language is caught, not taught’. Wanneer ouers dus hul moedertaal vir die kind aanleer, verseker hulle dat hy of sy later meertalig gaan wees. Want Engels gaan hy leer praat, kom wat wil.”

Afrikaans.com – Leerhulp

Hou gedurende Februarie ons Leer- en onderrighulpblaaie dop vir praktiese hulp in ’n meertalige klaskamer (die konsep van transtaling). Ons is voortdurend besig om ons inligting by te werk en jou ingelig te hou oor die nuutste verwikkelinge en gebeure op die moedertaalonderrigfront. Ons hou jou ook ingelig oor die werksaamhede van organisasies wat hard werk om moedertaalonderrig behoue te laat bly.

Lees verder:

  • Kry antwoorde op jou kwelvrae hier
  • Kry die nuutste navorsing hier
  • Wat kan jy doen as moedertaalonderrig (in jou omgewing) nie ’n opsie is nie? Klik hier
  • Wat is die verband tussen kreatiwiteit en moedertaal? Klik hier
  • Waarom is meertaligheid belangrik? Klik hier
  • Kyk hier na video’s waarin uitskieters hul sukses aan moedertaalonderrig toeskryf. 
  • Afrikaanse skrywers blink uit in Engels. Klik hier
Navrae kan gerig word aan:

Ingrid Erlank (Inhoudsbestuurder en redakteur): [email protected]

....

Besoek Afrikaans.com se moedertaalblad vir die feite asook die lekker aflaaibare moedertaalplakkate en hulpmiddele vir die klaskamer:

 

Lees ook:

Persvrystelling: Moedertaalonderrig gee jou die X-faktor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top