Persvrystelling: Meer as 50 museums reeds gesluit en ’n verdere 50 in gevaar

  • 11

Macrorie Huismuseum in Pietermaritzburg (Foto: Janek Szymanowski, CC BY-SA 3.0, Wikimedia Commons)

Museumversamelings, uitstallings, konservering en museumverwante kundigheid het tydens ’n onlangse bestekopname onder die loep gekom. Ontstellend is dat meer as 50 museums die afgelope jare tot niet gegaan het en ’n verdere 50 in gevaar verkeer. Dit sluit museums in soos Schoemansdal, Botshabelo, Winburg, Kroonstad, die Macrorie Huismuseum in Natal, die landboumuseum in Lichtenburg en talle dorpsmuseums.

Die stand (en ongelukkig ook die agteruitgang) van Suid-Afrikaanse kultuurgoedere in verskeie museums is op versoek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns deur kundiges uitgevoer. Indien die korrekte museumkundige bewaringsbeginsels nie dringend toegepas word nie, sal baie onvervangbare voorwerpe tot niet gaan. Die "stories" en kultuurkonteks van die voorwerpe, en gevolglik ook ’n kosbare deel van die Suid-Afrikaanse verlede, sal verlore gaan indien nie vinnig opgetree word nie.

Konstruktiewe gesprekke en aksie vir die bewaring van hierdie voorwerpe is noodsaaklik. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is tans onder leiding van Anton van Vollenhoven in gesprek met ’n forum van kultuurorganisasies en ander kundiges oor die huidige stand van museums in Suid-Afrika. Wêreldwyd word museums as bewaarders of beskermers van kultuurgoedere beskou, en in Suid-Afrika verkeer die daarmee gepaardgaande kultuurbewussyn in ’n krisis. Dié situasie word klaarblyklik nie in die algemene diskoers in Suid-Afrika erken of raakgesien nie.

Sonder vakkundige kennis, veilige bewaring en sekuriteit, konservering en korrekte museumkundige bewaringsmetodes (wat internasionale praktyk is) en sonder sinvolle kontekstualisering van voorwerpe het kultuurgoedere min kans op oorlewing. Ook word daar nie ’n toekomstige generasie van museumbesoekers gekweek nie.

Dié kwessies kry tans min aandag en daar is feitlik geen verset teen die huidige agteruitgang nie. Daar is ’n gebrek aan die optekening van die gewoontes, tradisies of lewenswyse van mense in die verlede en voorwerpe, uitstallings of getranskribeerde mondelinge oorlewering vind ongekoördineerd plaas. 

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns doen hiermee ’n beroep op plaaslike gemeenskappe om by hierdie aksie betrokke te raak.

  • Kontak asb vir Anton van Vollenhoven by antonv@archaetnos.co.za of 083 291 6104 vir meer inligting.
  • 11

Kommentaar

  • Nader Suid-Afrikaners in ander lande, veral Australië, om museums in hulle dorp te stig. Dit sal daar behoue bly en soveel van die expats se nasate stel in ons geskiedenis belang. Om in die media in dié land vir ons toekoms te veg is soos on water in 'n mandjie te probeer dra. Ons moet voorsorg tref voordat al die voorwerpe, boeke, ens vernietig word. Kry die goed op 'n veilige plek so gou as moontlik!

  • Corine de Jonge

    Rakende Middelburg MP het ek facebook begin inspan om dmv foto's darem iets te bewaar vir die nageslagte. Die fb groep is nog in sy kinderskoene en BAIE inligting moet nog gelaai word. Maar dis 'n begin.

  • George Bekker

    Toerisme is 'n groot geldverdiener vir die land en voorsien duisende mense van 'n inkomste. Hierdie argument kan moontlik gebruik word om die staatsteun aan ons museums te verhoog.

  • Dit is tyd dat ons self tot aksie oorgaan en bewaar. Ons kan nie langer verwag dat die owerhede geld gaan spandeer om te bewaar wat vir ons belangrik en bewaringswaardig is nie. Privaat vrywillige museumverenigings of kultuurverenigings sal sterk na vore moet tree om plaaslike gemeenskappe te mobiliseer en hulleself te beywer om te bewaar. Hiermee saam rus daar 'n groot opvoedingstaak om gemeenskappe (en die jeug) op te voed ten opsigte van die belangrike rol wat museums in ons samelewing speel. Voorbeeld hiervan is die oorname van die skulpmuseum in Jeffreysbaai deur Humansdorp se museumvereniging. Alhoewel die museum aan die munisipaliteit behoort is die bestuur en bedryf van die museum deur die museumvereniging oorgeneem en word dit suksesvol bedryf.

  • Die probleem is die bestuur van die inrigtings. Die mense wat dikwels in beheer geplaas is, het geen insig in die kulture en geskiedenis wat ter sprake is nie – ook geen formele museum-opleiding nie. Hul passie ontbreek en hulle dryf net saam (tot die skip sink). 'n Mens kan seker oorsese museums probeer stig, maar dikwels is die geboue self van groot belang.
    'n Mens kan ook voorsien dat hierdie hele aangeleentheid weer 'n rasse-twisappel word. Dan weer sal die kulture wat nie verteenwoordig word nie, moet opgehef en begunstig ("privileged") word. Iewers sal apartheid weer ingesleep word.
    Ek is gatvol vir hierdie tipe gesanik. Miskien beter as ons dit maar los.
    Ek dink dis miskien beter as alles verdwyn.

  • Annatjie Le Roux

    Ons Museum in Utrecht KZN sukkel ook met onderhoud aangebou. Ons het maar self ingespring en begin. Pragtige plek en ons hou maar funksies ens om aan die gang te bly. Dis baie hartseer, ja as mens sien hoe die plekke agteruitgaan. Sterkte aan almal. Ons moet nie moed opgee nie, dis ons kultuur en geskiedenis.

  • Is nou in my derde jaar waar ek ‘n tydlyn saamstel, oor ons kosbare geskiedenis. Dit sluit die hele Suid-Afrika en destydse Suidwes in.
    Mens moet kyk dat die geskiedenis bewaar word.
    Al die geskiedkundige voorwerpe kan nie geberg word nie. Foto’s wel.
    Het al boeke geskandeer en gebêre in my elektroniese tydlyn. Dit werk, oorspronklike Afrikana.

  • J S de Villiers

    Reeds enkele jare gelede was van die glasvertoonkaste in die Lichtenburg-museum leeg, met die blatante opmerking "these items have been stolen ". Deur wie, en waar is die toesig?

  • Daan Desimaal

    In ons weermagbasis (6 SAI) het die banier "Die Boere is hier om te bly" gepryk.
    Hierdie museum-tragedie is maar net 'n manifestering van die feit dat die Boere die 3de oorlog verloor het. Mens wonder wat van die Hugenote se kulturele erfenis in Frankryk staande gebly het na 1688.
    Miskien is die les dat die tasbare dinge minder belangrik is.
    "Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top