Persvrystelling: Loslippige lagterapie met Ian (Loslip) Wessels

  • 0

Loslippige lagterapie met Ian (Loslip) Wessels, aangebied deur die Vriende van NALN-vereniging, vind plaas op Donderdag, 2 November 2017, om 18:00 vir 18:30 by NALN.

Kaartjies @ R100 beskikbaar by NALN* en Exclusive Books, Bloemfontein. Verversings ingesluit.

RSVP: lochlogan@exclusivebooks.co.za óf vriendevannaln@gmail.com óf by annelien.naln@sacr.fs.gov.za,  tel. 051-405 5407

*Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum is geleë op die h/v President Brand- en Elizabethstraat, nou Miriam Makebastraat, Bloemfontein.

Parkering is beskikbaar op die parkeerarea langs die NALN-gebou vanuit Miriam Makebastraat.

Nooi asseblief u vriende om aan te sluit by die Vriende van NALN-vereniging vir 2017 en lewer ’n aktiewe bydrae as gewone lid, student of instansie, of hernu gerus u lidmaatskap. Die lidmaatskapvorm en grondwet is beskikbaar by NALN se webwerf: www.fssacr.gov.za/naln (punt 10), of stuur ’n boodskap aan vriendevannaln@gmail.com en ontvang dié twee dokumente. Skakel gerus in by die Vriende van NALN se Facebookblad.



Loslippige lagterapie: Opsomming

Dis onmoontlik om ongelukkig te voel terwyl jy lag. Lag stel goedvoel hormone vry, dis goeie oefening en verlig stres, en as jy lag, lag die wêreld mos saam. Ian Wessels glo lag is ’n vorm van naasteliefde en dis hoekom hy dit as sy roeping beskou om landwyd sy Loslippige Lagterapie toe te dien. Hy aanvaar gelate dat dit nou maar sy lot is om pal dik van die lag te wees en dra moedig die ekstra gewig saam.

Die inhoud van Loslippige Lagterapie verskil na gelang van die gehoor se samestelling, maar tipies bevat dit ’n kykie agter die skerms in die radio ateljee na omroepers se glipsies en luisteraars se grille en geite. Ian het ook ’n versameling van kinders se eksamenantwoorde en wyshede bymekaargemaak wat bewys dat “ouma se slimkind” nie altyd so slim is soos wat ouma dink nie. Omdat Ian gereeld by kerke ooptree, gee hy ook ’n deernisvolle kykie na die uitdagings waarmee predikante gereeld te doen kry, soos Delila en die drankduiwel. Staaltjies ten koste van mans én vrouens is altyd gewild, en Ian het ’n paar wat hy waarborg jy nog nie gehoor het nie.

Ongeveer 30kg gelede was hy ’n staatsaanklaer en weet dus uit persoonlike ondervinding dat daar aan “edelagbare” dikwels meer lagbaar as agbaar is. Dit het gelei tot ’n boek met humoristiese stories uit die breë regswêreld – “Genade EdeLAGbare!” ’n Paar gunstelinge is ook by die vertoning ingesluit en waarborg om jou lagspiere gym toe te stuur.

Kom vergeet vir ’n rukkie van al jou sorge en bring jou gesin en vriende saam na Loslippige Lagterapie. Julle sal almal met ’n ligter gemoed huis toe gaan.


 

Ian Wessels (foto: verskaf)

Ian Wessels se CV

Ian Wessels het diep in die vorige millennium in die wynlande van Stellenbosch moeisaam die grade BA en LLB verwerf. Hy moes byna daagliks worstel met die versoekings van die spreekwoordelike “wine, women and song” maar voel trots dat hy eerstehands kon ervaar hoe swaarkry wel karakter bou. Weens ’n akute tekort aan staatsaanklaers het Ian dadelik werk gekry by die Departement van Suspisie.

Na sy bevordering tot die Streekhof het hy gefrustreed begin raak om daagliks met kriminele te werk. Hier verwys hy na die beskuldigdes – nie na die prokureurs en advokate wat hulle verdedig nie. Ian is lief vir lag, maar in die hof word dit as minagting beskou. Derhalwe het hy die hof se mikrofoon minagtend verruil vir die een in die radio-ateljee.

As aanbieder van Loslip, RSG se voormalige geselsprogram, het Ian en die luisteraars mekaar vir ses jaar lank vermaak...én verduur. As gevolg van die toenemende gekla van die gifappeltjies en kermderms het Ian begin navorsing doen oor hoekom sommige mense gelukkig kan wees onder presies dieselfde omstandighede wat ander wanhopig laat. Dit het gelei tot die saamstel van sy gewilde motiveringspraatjies vir die publiek, jeug en korporatiewe sektor.

RSG luisteraars was egter ook die bron van ’n oorvloed materiaal wat Ian kon gebruik in sy humoristiese eenmanvertonings. Anders as die meeste inbellers bly hy egter nie anoniem nie en tree dapper onder sy eie naam op.

Ian het ook onlangs vir RSG ’n boek saamgestel oor humor in die breë regswêreld, insluitende van sy eie ervarings as staatsaanklaer – nou reeds meer as 30 kilogram gelede. Hy weet uit persoonlike ondervinding dat daar aan Edelagbare dikwels meer lagbaar as agbaar is – vandaar die titel van die boek: “Genade Ede-LAG-bare!”

Ian sluit van die staaltjies uit die boek in by sy Loslippige Lagterapie optredes en bring gewoonlik ’n paar eksemplare saam na sy vertonings toe. Volgens hom is dit die ideale geskenk vir iemand vir wie jy nie baie moeite wil doen nie. Daarom het hy die boek spesiaal so geskryf dat dit ook vinnig en maklik toedraai.

Ian werk tans aan nog ’n boek met algemene humor met die voorlopige titel “Leer weer lag!”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top