Die tafel is vandeesweek gedek vir nóg vier landbougesprekke tydens Aardklop ná vier leierboere, waaronder die Sernick-groep se bekende Nick Serfontein, aan ’n feesgesprek oor grondhervorming deelgeneem het.
Die gesprek, onder leiding van Ivor Price, ’n Aardklop-direksielid en TV-persoonlikheid, het gefokus op van die bestaande landbou-oplossings en uitdagings in grondhervorming. Buiten Serfontein het Jannie de Villiers, die hoof uitvoerende beampte van Graan SA, saam met die skaapboer Eddie Prinsloo en Patrick Sekwatlakwatla, Sernick se bemarkingsbestuurder, aan die paneelgesprek deelgeneem.
“Ons moet probeer om teen die einde van die jaar modelle op die tafel te hê wat vir grondhervorming kan werk. En ons sal. Die welwillendheid van die kommersiële boere is vir my noemenswaardig,” het Serfontein aan feesgangers gesê.
Hy is onlangs deur Cyril Ramaphosa met die hand uitgekies om as taakspanlid die regering oor grondhervorming te adviseer. Dit volg ná Serfontein se veelbesproke ope brief aan Ramaphosa oor sy beproefde sewepuntplan om swart boere te bemagtig.
De Villiers, wat ook onlangs met die regering oor die rol van landbou geskakel het, het benadruk dat hy baie positief oor Suid-Afrika se landboutoekoms voel. Hoewel daar volgens hom stampe en stote in die grondhervormingsproses gaan wees, gaan Suid-Afrika nie ’n volgende Zimbabwe wees nie. “Die president wil ons planne en raad oor wat politici kan doen om die ekonomie reg te ruk voor die staatsrede (vroeg volgende jaar) hê. Hulle is gewillig om te luister.”
Hoewel daar ’n groot nasionale fokus op die bemagtiging van nuwe boere is, glo Sekwatlakwatla dat swart boere nie met ’n teelepel gevoer wil word nie. “Hulle wil by die banke geld leen, maar teen ’n rentekoers wat hulle kan bekostig – nie ’n rentekoers wat hulle besighede sal doodmaak nie. Net die regering kan daarmee help.”
Verskeie moontlike modelle vir grondhervorming is bespreek, waaronder Prinsloo se Donkerhoek-transaksie waarin hy nege plaaswerkers help om volwaardige kommersiële boere te word. “Ek het ’n plaas aan van my plaaswerkers gegee, en hulle sal eienaarskap daarvan kry. En met mentorskap sal dit suksesvol wees. Sonder mentorskap word so ’n projek dood gebore. Dit verg wedersydse vertroue tussen ons en ons plaaswerkers.”
Aardklop se landbou-gesprekkereeks is nog tot Vrydagaand elke aand van 18:00 tot 19:00 by die NWU-besigheidskool, neffens die Netwerk24-feeskafee en Senwes Park. Die gesprekke is gratis, maar mense wat braaivleis en ’n glas wyn wil hê, kan kaartjies vooraf teen R120 by TicketPro koop.
Die kykNET-aanbieder Kabous Meiring lei vanaand, 3 Oktober, ’n gesprek oor plattelandse herlewing. Price se paneelgesprek Donderdagaand gaan oor die plase van die toekoms, en Vrydagaand oor die rol van landbou-organisasies ná die 2019-verkiesing.
Foto's: verskaf