
Irma Eloff
Geskiedenis is gister in Pretoria gemaak met die aanwysing van Irma Eloff as Voorsitter van die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns as opvolger van Wessel Pienaar van die Universiteit van Stellenbosch. In sy bestaan van 108 jaar is Eloff slegs die tweede vrou wat voorsitter van die Akademie word na Elize Botha wat tussen 1990 en 1992 die eerste vroulike voorsitter was. Eloff was die sewende en eerste vroulike dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit van Pretoria en het haar termyn as dekaan pas beëindig. Tans is sy professor in Opvoedkundige Sielkunde aan die UP. Sy het haar BA-graad aan die Noordwes-Universiteit behaal en vervolgens nagraadse kwalifikasies verwerf aan die Universiteit van Pretoria en die Universiteit van Stellenbosch. Eloff was tussen 2001 en 2002 besoekende professor by Yale Universiteit in die VSA en was gasdosent onder meer by die Universiteit van Innsbruck, die Universiteit van Wisconsin, Fordham Universiteit en die Universiteit van New York. Sy het in 2014 die International Aids Society se Prys vir Uitnemendheid in VIGS-navorsing met betrekking tot kinders gewen. Akademiese handboeke en talle navorsingsartikels het reeds uit haar pen verskyn. Sy is ’n geregistreerde psigoloog.
Oppel Greeff, voormalige hoof van die Departement Farmakologie by die Universiteit van Pretoria en tans mediese direkteur van Cytespace SA (Edms), is aangewys as Ondervoorsitter. Ander lede van die Raad wat vir ′n nuwe termyn verkies is, is Anne-Marie Beukes van die Universiteit van Johannesburg, Japie Engelbrecht (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit), Ilse Feinauer (Universiteit Stellenbosch), Fransjohan Pretorius (Universiteit van Pretoria), Hennie van Coller (Universiteit van die Vrystaat), Helena van Coller (Rhodes-Universiteit), Kobus van der Walt (Noordwes-Universiteit), Leopold van Huyssteen (Universiteit Stellenbosch) en Cassie Carstens (Pretoria). Kobus Eloff, Ina Wolfaardt-Gräbe en Rudolph Botha is ex officio-lede. Dit is die eerste keer in die SA Akademie se geskiedenis dat pa en dogter, Hennie en Helena van Coller, gelyktydig in die Akademieraad dien.
Benewens Eloff se geskiedkundige aanstelling het die SA Akademie ook sy nuwe gebou in gebruik geneem. Die drieverdiepinggebou is ′n toevoeging tot die geskiedkundige Engelenburghuis in Ziervogelstraat, Arcadia langs die Uniegebou.
Kommentaar
Baie geluk aan prof Irma Eloff met haar verkiesing as voorsitter. Sy is 'n ervare akademikus en 'n skerp denker wat as Opvoedkundige al diep spore getrap het in leiersposisies. Met die eerste vroulike voorsitter en die nuwe gebou kan die SA Akademie net van krag tot krag gaan.