Persvrystelling: “En al die bome van die veld sal in die hande klap”

  • 0

Kunsuitstalling by die Brooklyn Teater in Pretoria

25 Augustus tot 22 September 2017
Opening: 25 Augustus 19:00 by die Brooklyn Teater

Jenny Boon

Jenny Boon is ’n kunstenaar van Pretoria met ’n groot voorliefde vir bome. Bome fassineer haar, elkeen het sy eie karakter en baie bome het al geleef voordat ons bestaan het.

Haar skilderye gaan eerstens oor die sintuiglike ervaring van bome. Die meeste bome wat sy skilder, verf sy allereers in die die veld om so die boom in al sy fasette te kan ervaar. Later word dit in die ateljee voltooi en ander groot skilderye van die bome gemaak. Haar liefde vir gedigte vorm ’n dankbare inspirasiebron. Bome word gereeld as metafoor vir verskeie aspekte van die lewe in die digkuns gebruik. Veral in die Afrikaanse letterkunde is daar baie gedigte oor ons inheemse bome te vinde. Van die ouer digters soos Louis Leipoldt, TT Cloete, Hennie Aucamp tot die bundel In die skadu van soveel bome waarmee Hennie Nortje in 2013 die Eugène Marais-prys gewen het. Deur die gedigte saam met die bome uit te stal, ontstaan daar ’n samespraak tussen gedig en skildery.

Die titel van die uitstalling "En al die bome van die veld sal in die hande klap" is ’n aanhaling uit die Bybelboek Jesaja, waar geprofeteer word aan die volk Israel terwyl hulle in ballingskap is. Dit was ’n hopelose tyd, maar Jesaja praat van uitredding en beskryf die ekstatiese vreugde wat daarmee saam gaan in die pragtige beeld van berge wat jubel en bome wat hande klap.

Jenny Boon is in 1975 in Pretoria gebore. In 1997 gradueer sy by die Universiteit van Pretoria in Beeldende Kunste. Tydens haar studie het sy verskeie toekennings ontvang. Van 1998 tot 2005 woon sy in Nederland waar sy ook uitstallings hou. Behalwe vir landskappe skilder sy ook graag portrette. Sy hou daarvan om met verskillende mediums te eksperimenteer. Haar werk is in versamelings opgeneem oor die hele wêreld.

Vir verdere inligting besoek www.jennyboon.wordpress.com of kontak Munnik Marais by mmarais@cansa.org.za.

Die kunswerke word nog uitgestal tot 22 September 2017

Tye:

  • Maandag to Vrydag 9:00–17:00
  • Saterdag 9:00–14:00

Jakaranda

legende versier met violet sneeu die strate
vanaf dubbele geveerde blare
in ons jakarandastad

’n stadsingenieur verpers, die
droë takke aan ’n ‘kampus’ boom
as tydhouer vir pretorianse student

as die jakarandas blom
in kerkstraat-oos
word ’n koningin by die karnaval gekroon

waar die son strale pers filtreer
sit onder ’n jakarandaboom en wag, of
trek boeke nader, en studeer

mag ’n blommetjie op jou kop maar vál…

– Johan Redelinghuys

Kremetartboom

die kemetartboom is ’n boom
hy laat nie sommer mense in hom klim nie
hy laat jou in hom óp kyk hy laat jou om hom loop
die olifante het hom bygekom sy bas gestroop
dit laat hom ongeroer
die kremetartboom is ’n boom
die ape mag maar in hom klouter
baljaar en hom beskyt dit laat hom ongeroer
hy laat die slang en vlermuis in hom boer
die leeus mag aan sy basis pis
hy bly maar wat hy is
die kremetartboom is ’n boom
diep in sy ou-ou sagte bruin ou bas
het harteloses hulle éie harte uitgesny
dit laat hom ongeroer sy holtes is deur bye
vol van hulle blommesoet gemaak
die spinnekoppe span hul sterrerak en radar daar
die kremetartboom is ’n allerboomste boom
hy is meer kaal meer stam as tak en blaar min vrug
meer aarde toe terug en ín as in die lug
mens sien hom as hy oud is raker raak
vol rimpels sag vol vog en sap
geen ander boom lyk naasteby
so enig bomelik soos hy
alleen die Groot Voet kan hom trap
sy swaar liggaam totaal toemaak
die kremetartboom is my boom

– TT Cloete

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top