Persvrystelling: Die skielike dood van Mark Minnie, medeskrywer van Die seuns van Bird Island

  • 0

....

Lees die jongste verwikkelinge (Augustus 2020):

Verklarings van Media24:

Media24 het verskoning aangebied vir die publikasie van lasterlike stellings aangaande Mnr Barend du Plessis in die boeke "The Lost Boys of Bird Island" en "Die Seuns van Bird Island" asook die emosionele skade wat die publikasie van die boeke vir die Malan- en Wiley-families kon veroorsaak het. Volg hierdie skakel na die relevante verskoning.

....

Tafelberg Uitgewers het met skok verneem van die skielike dood van Mark Minnie, die medeskrywer van Die seuns van Bird Island wat ’n week gelede verskyn het. 

Minnie se liggaam is Dinsdag naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap gevind. 

Tafelberg het nog Sondagaand met Minnie kontak gehad, maar kon hom sedert Maandagoggend nie bereik nie. Sy selfoon was af en hy het nie op e-pos-boodskappe gereageer nie.

In die week voor sy dood het Minnie niks aan Tafelberg gesê wat daarop gedui het dat hy homself sou leed aandoen nie. Hy was opgewonde oor die verskyning van die boek en die feit dat hy uiteindelik beweringe wat volgens hom dertig jaar lank toegesmeer is, openbaar kon maak. Hy het gesê die boek “is net die begin” van die proses om geregtigheid te laat geskied vir die slagoffers wie se storie hy in die boek vertel.

Hy het Tafelberg meegedeel dat hy die afgelope week verskeie leidrade in Port Elizabeth suksesvol opgevolg het en was vasberade om nog getuienis openbaar te maak. Hy het ook uitgesien na die Open Book Festival in Kaapstad waar hy, Steyn en die joernalis Marianne Thamm in September oor die boek sou praat.

Steyn sê sy is verpletter oor Minnie se onverwagse dood en staan by elke woord in die boek. “Mark het gesê ons moet geregtigheid vir die slagoffers laat geskied. Hy sou wou hê ek moet voortgaan met die stryd en dit is presies wat ek sal doen.”

Intussen het Yasmin Sooka, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Mensregte, met Steyn kontak gemaak en gesê die stigting wil graag die saak namens die seuns van Bird Island verder voer. Steyn het dit verwelkom en gesê: “Mark sal nooit hiervan weet nie, maar dit is presies waarvoor hy gehoop het. Dit is te laat vir hom, maar nie vir die slagoffers nie.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top