Persvrystelling: Naweekbederf op kykNET!

  • 0

kykNET (DStv-kanaal) skop April af met naweke wat propvol kykgenot is! Kykers kan vanaf die komende naweek uitsien na die volgende nuwe programme:

Dankie, Lottoland
Saterdag 3 April 18:00

Dankie, Lottoland is ’n nuwe program wat daarop gaan fokus om ’n hand uit te reik na dié wat dit die nodigste het. In hierdie reeks van dertien episodes gaan daar gefokus word op verskeie liefdadigheidsorganisasies en sal daar van warm water aangelê word tot kos en beddegoed verskaf word. In elk van die programme gebruik ons twee bekendes by ’n liefdadigheidsorganisasie wat hulle na aan die hart lê.

In episode 1 word daar op Rock of Hope gefokus –  ’n plek van veiligheid vir kinders. Dankie Lottoland kuier by hulle en Dewald Wasserfall help rondom die huis. Simoné Pretorius kom maak ’n draai met ’n groot verrassing.

Dankie, Lottoland maak drome waar

Die afgelope jaar het die mat onder mense se voete uitgeruk. Ons moes gewoond raak aan ’n nuwe manier van lewe en vir menige was dit ’n tyd van swaarkry en sente omdraai.

Dankie, Lottoland is ’n nuwe program wat daarop gaan fokus om ’n hand uit te reik na dié wat dit die nodigste het. In hierdie reeks van dertienepisodes gaan daar gefokus word op verskeie liefdadigheidsorganisasies en sal daar van warm water aangelê word tot kos en beddegoed verskaf word.

“Maryke Haywood van Lottoland wou ’n verskil in mense se lewens maak,” sê een van die vervaardigers van die program, Johrné van Huyssteen. “Ek en my medevervaardiger, Francois Nolte, het toe saam met haar en haar span gesit om te kyk watter konsep vir TV kan werk. Die uiteinde was Dankie, Lottoland.”

In elk van die programme gebruik ons twee bekendes by ’n liefdadigheidsorganisasie wat hulle na aan die hart lê. Hulle besoek die organisasie,vind uit wat broodnodig is en dan om in die behoefte te voorsien. In die eerste episode van die reeks besoek Dewald Wasserfall en Simoné Pretorius Rock of Hope, ’n plek van veiligheid vir baba’s en jong kinders in Pretoria, en hulle ’n reuse verskil in dié organisasie se bestaan. Ander bekendes wat in die reeks ’n verskil gaan maak, is o.a. Francois van Coke, Duane Vermeulen, Mimi Mahlasela en Therese Bam.

“Ons het met hierdie projek net weer besef wat die waarde van die woord dankbaarheid is, veral in hierdie tye,” sê Johrné.  “Daar is soveel oomblikke wat uitstaan. Dis ongelooflik om te sien wat mense se reaksie is wanneer daar vir lank nie lig op die horison was nie, maar nou word daar ’n uitkoms gebied.”

Dankie, Lottoland is nie net ’n droom wat vir Lottoland waar geword het nie, maar ook vir Johrné en Francois.

“Ons ken mekaar al 27 jaar,” sê Johrné. “Ons het saam studeer en toe later vir ses jaar saam Gons op kykNET en MK aangebied. Nou, ná bykans ’n dekade, werk ons saam as vervaardigers en kan ons ’n impak op mense se lewens hê. Wat ’n voorreg.”

Dankie, Lottoland begin op Saterdag 3 April om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hokaai, my meisie!
Saterdag 3 April 18:30

In Hokaai, my meisie! gaan kykers die pragtige Shari Kennedy, aanbieder van die program, se soektog na avontuurlustige, kulturele en wonderlike Suid-Afrikaanse stories volg. Met besondere bravande en ’n tikkie glans! In elke episode sal Shari na ’n verskillende area in die land reis, tyd spandeer met ’n interessante karakter wat hulself inleef in hul spesifieke kultuur en sommer ’n lekker paar aktiwiteite saam met hulle doen.

In die eerste episode maak Shari kennis met die realiteit van renosterbewaring in ’n adrenalien-gedrewe veldtog. Ook in die bos is ander eienaardige verskynsels: Jack Parow en Gazelle maak ’n musiekvideo.

*Meer oor Hokaai, my meisiehttps://kyknet.dstv.com/show/hokaai-my-meisie

Kom op ’n reis saam met Shari Kennedy – van Matjiesfontein tot Tsitsikamma 

As dit nog altyd jou droom was om in die pragtige Elandsbaai te gaan branderplank ry of om op ’n riller van ’n rit op die Kalahari duine te gaan, dan is kykNET se nuwe reisprogram net vir jou! Op Hokaai, my meisie!, wat Saterdag 3 April 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, kan jy dit en nog meer verwag!

In Hokaai, my meisie! gaan kykers die pragtige Shari Kennedy, aanbieder van die program, se soektog na avontuurlustige, kulturele en wonderlike Suid-Afrikaanse stories volg. Met besondere bravande en ’n tikkie glans!

Shari is ’n plaasmeisie van Upington, ma van drie, ’n avonturier en ’n waaghalse rabadoe sonder ’n banghaar op haar kop!

In elke episode sal Shari na ’n verskillende area in die land reis, tyd spandeer met ’n interessante karakter wat hulself inleef in hul spesifieke kultuur en sommer ’n lekker paar aktiwiteite saam met hulle doen.

En niks is te veel vir Shari nie! Sy gaan van vierwielmotorfiets tussen die leeus in Hoedspruit na Laingsburg om Tannie Poppie se roosterkoek te proe.

En as dit nie roosterkoek is nie, gaan Shari ook op ’n boot in die Wes-Kus om te hoor hoe die vissermanne se lewens verander het sedert hulle Abalobi begin het. Abalobi is ’n selfoon-app vir vissermanne.

Danielle McDonald, vervaardiger van die program, sê dit was ’n absolute belewenis om hierdie program te verfilm. “Ons het die land deurkruis en uiteenlopende karakters gevind en hul elkeen die geleentheid gegee om hulle spesiale deel van die wêreld vir ons in te kleur.

“Ons was deur die wildernisse van Limpopo, het die Kalahari na die reën in sy volle glorie beleef, die koue Weskus waters aangedurf en gevind dat die Klein Karoo alle verwagting oortref. ’n Skerpioen, paar slange en ses pap wiele later is ons uiteindelik tuis met mond vol stories wat ons ewig sal saamdra.”

Shari sê sy het nie werklik besef watter juwele op haar voorstoep wag tot hierdie program gemaak is nie. “Die geheim is om van die hoofweg af te klim en die klein dorpies en agterpaaie te verken. Wat ’n belewenis! Ek het myself tot my limiete gedruk en die lekkerste mense ontmoet. Ek kan nie wag om hierdie avontuur met die kykers te deel nie,” sê sy opgewonde.

Hokaai, my meisie! word vervaardig deur Awemybru Productions.

Kom saam met Shari op die ekspidisie van ’n leeftyd na die uithoeke van Suid-Afrika, opsoek na wonderlike stories waar ander katvoet trap.

Hokaai my meisie! begin 3 April 2021 om 18:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Leef jou reis
Saterdag 3 April 19:30

Pak jou tas en kom toer saam na van die mooiste plekke. Gerrie Pretorius en sy span het vir die nuwe reeks in Suid-Afrika asook na die buiteland gereis om weer vir ’n opwindende reisreeks te sorg. Plaaslik gaan kykers sien wat die Addo Nasionale Park het om te bied asook wat jy alles moet weet as jy die Otterwandelpad wil aandurf. Die span het ook hulle 4x4 gepak en wys onder meer hoe mooi die Baviaanskloof is en hoe Bird Island se 250 000 wit malgasse lyk. Daar wag ’n eksotiese kuier in die Maldives en ’n kykie na die tulpe van Amsterdam.

In episode een: Addo Nasionale park is Suid Afrika se derde grootste park. Dis ’n suksesverhaal as dit kom by die bewaring van Olifante. Ons verken die park en al sy weggesteekte geheime.

*Meer oor Leef jou reis: https://kyknet.dstv.com/show/leef-jou-reis

Glam Guru
Sondag 4 April 17:30

Die gewilde skoonheid- en modeghoeroe Hannon Bothma is terug wanneer die 20ste seisoen van Glam Guru begin.  Dit is ook die tweede seisoen van Glam Guru wat tydens die COVID-19 geskiet is. Hannon sê hy het hierdie keer die werklike impak wat die pandemie op gewone mense het, ervaar. Daarom is die tema’s en wenke wat hy vir deelnemers gee veral met dit in gedagte sodat kykers wat in dieselfde bootjie is daarby sal baat. Daar is ook verskeie stories van inspirasie van vroue, wat ongeag COVID-19, moes planne beraam het om met hul lewens en loopbane aan te gaan.

In episode een: Nicky de Villiers het vir oulaas die motor ghries van haar hande afgewas, want nou moet sy gemanikuur en met ’n korporatiewe sybloes haar nuwe loopbaan in die finansiële industrie begin.

Die gewilde skoonheid- en modeghoeroe Hannon Bothma is in April terug op kykNET wanneer die 20ste seisoen van Glam Guru begin.

Dit is ook die tweede seisoen van Glam Guru wat tydens die COVID-19 geskiet is.

Hannon sê hy het hierdie keer die werklike impak wat die pandemie op gewone mense het, ervaar. Daaroms is die tema’s en wenke wat hy vir deelnemers gee veral met dit in gedagte sodat kykers wat in dieselfde bootjie is daarby sal baat.

“’n Voorbeeld hiervan is in episode ses met Zahraa McDonald wie in ’n voorkomsgroef  veral het sedert sy net van die huis moes werk. Toe sy moes terugkeer kantoor toe, het sy besef sy het onkundig geraak oor hoe om haarself mooi te laat voel,” sê Hannon.

Daar is ook verskeie stories van inspirasie van vroue, wat ongeag COVID-19, moes planne beraam het om met hul lewens en loopbane aan te gaan.

“Maar ek het ook die ander kant van die muntstuk gesien van mense wat moedeloos geraak het. In een van die episodes ontmoet ek vir Erica van der Reede wat elke oggend met die vrees wakker geword het of sy nog ’n werk teen die einde van die dag gaan hê of nie.”  

Volgens Hannon gaan kykers dus in hierdie reeks veral praktiese wenke en raad ontvang met huidige kwessies en uitdagings in gedagte.

Glam Guru is die eerste keer in April 2008 op kykNET uitgesaai en Hannon glo dat deel van die reeks se sukses is, is dat dit aanpasbaar bly in ’n wêreld wat voortdurend verander. Terselfdertyd kan talle kykers hulself met die gaste en hul omstandighede vereenselwig.

“Die eerste episode van Glam Guru het natuurlik heelwat anders gelyk as die episodes wat jy in reeks 20 gaan sien, maar ek het vanaf die eerste episode geweet dat die konsep van voorkomstransformasies met die gepaardgaande wenke en inspirasies ’n lang leeftyd gaan hê.”

“Die reeks het elke keer verbeter soos kykers ons laat weet wat hul veranderende behoeftes is, wat hulle meer van wil sien en wat hulle verveel.”

Hy glo dat deel van Glam Guru se wenresep is dat dit veel meer as ’n Aspoestertjie-verhaal is waar ’n persoon tam en verwaarloos arriveer en uiteindelik soos ’n energieke vlinder uit ’n kokon breek.

“Dis ’n program waar kykers vermaak en geïnspireer word. Terselfdertyd kry hulle wenke wat sommer dadelik toegepas kan word as hulle ’n soortgelyke voorkomsuitdaging het,” sê Hannon

“Ons pak episodes ook met humor of ’n ‘tong-in-die-kies’-benadering aan om dit lig te hou, want dit help om dit toeganklik vir ’n groot gehoor te maak.”

“Wat veral belangrik is, is die feit dat ons steeds nie staatmaak op naalde, messe of mediese prosedures  nie. Dit maak Glam Guru geloofwaardig, want om mooi te lyk is binne die bereik van enige iemand wat die hunkering daarna het om hulself te verbeter.”

Glam Guru begin op Sondag 4 April om 17:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) vir 13 episodes.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top