Persvrystelling: Bekendstelling van "Die algemene demografie van Afrikaans (2022)"

  • 3

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het ’n verslag, “Die algemene demografie van Afrikaans (2022)”, op 4 November by Joostenberg naby Stellenbosch bekendgestel.

Conrad Steenkamp, hoof van die ATR, sê dit is die eerste keer dat so ’n deeglike studie van die Afrikaanse bevolking in sy geheel gedoen is. “Dit is belangrik, want Afrikaanssprekendes gaan oor alle grense heen moet saamwerk om die gevolge van demografiese verandering oor die volgende dekades te hanteer.”

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut en medeskrywer van die verslag, sê by wyse van ’n aanhaling dat demografie die toekoms is wat reeds gebeur het. “’n In-diepte demografiese studie soos dié maak dit dus moontlik om vooruit te kyk en vooruit te beplan, selfs tot op die vlak van individuele buurte.”

Volgens Steenkamp gebruik die verslag UNESCO se raamwerk, Language vitality and endangerment (2003), om die kwesbare aspekte van Afrikaans te identifiseer en om sodoende die impak van demografiese verandering beter te verstaan.

Afrikaanssprekendes krimp as ’n persentasie van die land se algehele bevolking wat hulle bedingingsmag teenoor die staat verminder. Terselfdertyd verskuif die groeiende meerderheid van bruin/swart teenoor wit Afrikaanssprekendes toenemend die magsbalans binne die taalgemeenskap en skep daarmee nuwe uitdagings wat die sprekers sal moet hanteer.

Die toenemende gebruik van Engels as de facto-amptelike taal en nóg minder Afrikaans in belangrike taaldomeine soos die openbare onderwys het enorme implikasies vir die behoud en groei van die taal. “Hierdie neigings sal die verengelsing van Afrikaanssprekendes (reeds meer as 20 000 per jaar) aanjaag en Afrikaans se groeipotensiaal verder knou,” sê Mulder. “Verengelsing dryf ook die buitengewone sterk groei van Engels as huistaal.”

Volgens die verslag steek Engels – gevoed deur al die inheemse tale – reeds in 2022 vir Afrikaans, die derde grootste taal in die land, verby.

“Ons nooi alle belanghebbers in Afrikaans uit om die analise van die demografiese data saam met ons verder te ontwikkel en verfyn,’ sê Steenkamp. ‘Ons moet egter weet Afrikaanssprekendes gaan buite hulle gemaksone moet beweeg om die lewenskragtigheid van Afrikaans te behou en uit te bou,’ sê Steenkamp. “Die wat nie deeglik beplan nie of wat nie met ander wil saamwerk nie sal met die wa in die drif bly staan.”

Boks: Belangrike demografiese neigings (2021–2041):

  • Sterk bevolkingsgroei en migrasie sal taaldiversiteit in stedelike gebiede verhoog;
  • Afrikaanse getalle groei in absolute terme van 7,11 miljoen (2021) na 7,12 miljoen (2031), wat dui op ’n groeiende Afrikaanse onderwysbehoeftes;
  • Afrikaanssprekendes krimp relatief tot die algehele bevolking van 11,7% (2021) na 9% (2041), wat hulle toegang tot staatshulpbronne verswak;
  • Die reeds hoë vlakke van verengelsing (ongeveer 20,000 Afrikaanssprekendes per jaar) sal waarskynlik toeneem en die groei van die taal beperk;
  • Die bruin/swart meerderheid binne die Afrikaanse taalgemeenskap groei van 59,5% (2021) na 63.8% (2041).

Boks: Strategiese aanknopingspunte:

  • Beter samewerking tussen Afrikaanse organisasies en netwerke;
  • Die groei van die Afrikaanse ekonomie en die handhawing van Afrikaans se infrastruktuur;
  • Nuwe in-diepte gesprekke tussen wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes oor kwessies soos identiteit, taal, en die onderwys;
  • Verbetering van die sosio-ekonomiese omstandighede van jong Afrikaanssprekendes;
  • Versnelde herstandaardisering van Afrikaans;
  • Handhawing van die Afrikaanse onderwyspyplyn;
  • Bevorder die oordrag van Afrikaans tussen die generasies: daarsonder sterf ’n taal;
  • Vennootskappe met die Afrikatale;
  • Navorsing vir taalbeplanning en -bestuur.
  • 3

Kommentaar

  • Leon de Bruin

    Baie prysenswaardig en ’n noodsaaklikheid vir kerk-, skool-, en kultuurstrategiese beplanning; hierdie moet as bron van verwysing vir enige bemarkingsplan(ne) gebruik word.

  • Hanno Visagie

    "’n Manifes vir Afrikaans" – deur Johannes Comestor

    Ons as Afrikaanssprekendes verklaar hiermee dat

    - ons trots is op wat in Afrikaans tot stand gebring is
    - ons groot waarde heg aan Afrikaans as ’n volwaardige taal
    - ons eis dat Afrikaans as amptelike taal tot sy reg kom
    - ons Afrikaans oral en altyd gebruik waar en wanneer dit enigsins sinvol is
    - ons bereid is om telkens vir Afrikaans in die bres te tree
    - ons daarop aandring dat skool- en naskoolse onderrig in Afrikaans beskikbaar moet wees
    - ons Afrikaans so suiwer moontlik hou en gebruik
    - ons veral teen die verengelsing van Afrikaans waak
    - ons Standaardafrikaans as rigsnoer koester
    - ons die Europees-vastelandse grondslae van Afrikaans aanvaar
    - ons Kaaps, in soverre dit Engels is, as ’n bedreiging vir Afrikaans beskou.

    Bron: https://www.litnet.co.za/n-manifes-vir-afrikaans/

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top