Persvrystelling: Aardklop is Suid-Afrika se gewildste kunstefees!

  • 1

Aardklop is op Donderdag 8 Februarie by Montecasino Teatro in Johannesburg vereer met ’n kykNET Fiësta-toekenning as Suid-Afrika se gewildste kunstefees.

Alexa Strachan, Aardklop se feesbestuurder, het met die ontvangs van die toekenning gesê: “Dit is nie sleg vir ’n fees wie se deure twee jaar terug toegemaak is nie. In so ’n kort tydperk is die fees van niks af opgebou tot die gewildste fees in die land!”

Talle Aardklop-debuutproduksies is ook by die toekenningsgeleentheid vereer:

Beste akteur:
Paul du Toit – Melk & Vleis

Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks:
Marina Albertyn – Melk & Vleis

Beste opkomende kunstenaar:
Retief Scholtz – Teks vir Dop en Weerkaats

Hier is die volledige lys van vanjaar se wenners.

DEURnis het met die gesogte Blou Fiësta-toekenning weggeloop. Hierdie een-tot-een teaterproduksie het vanjaar groot opspraak gemaak weens die intieme en eksperimentele aard daarvan. Strachan sê verder dat Aardklop juis die platform hiervoor geskep het om te verseker dat hierdie unieke en uitdagende produksie raakgesien kan word.

As ’n jong fees het Aardklop ook ’n belegging gemaak in ’n jong, vars en dapper stem – die skrywer Marina Albertyn. “Gelukkig het die veelbekroonde regisseur Marthinus Basson en KunsStig saam met ons in die projek geglo. Die resultaat was ’n ontstellende en beeldskone produksie.” In 2018 sal nog ’n produksie uit Albertyn se pen en onder leiding van Basson by Aardklop debuteer.

“Ons wil graag elke Potchefstromer bedank vir hul gasvryheid en die merkwaardige rol wat hulle in die sukses van die fees speel. Aardklop hoort op die Bult, in die hartjie van Potchefstroom, maar ons kan nie alleen die rooitapyt vir duisende feesgangers uitrol nie, dit doen die Potchefstromers saam met ons.”

Aardklop sal vanjaar van 2 tot 7 Oktober 2018 in Potchefstroom plaasvind. Die fees sal op
1 Oktober afskop met die immergewilde Kunssafari.

  • 1

Kommentaar

  • Colette Pretorius

    Dankie Alexa en die feesbestuur. Julle is 'n klomp helder sterre. Ons Potjiestromers is julle ewig dankbaar dat julle ons geliefde fees van 'n gewisse dood gered het. Lank lewe Aardklop!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top