Persvrystelling: Aardklop spog met vier landbougesprekke

  • 1

Van die land se voorste landbou-organisasies, waaronder AgriSA, sit by vanjaar se Aardklop-kunstefees koppe bymekaar oor verskeie brandpunte in dié bedryf. Nie minder nie as vier van die 12 feesgesprekke handel oor landboukwessies.

Aardklop se bestuurder, Alexa Strachan, sê die fees is trots op sy verbintenis met Noordwes se landbougemeenskap, en het daarom moeite gedoen om die vernaamste rolspelers van 3 tot 7 Oktober op Potchefstroom te kry.

Dit sluit in die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, en die UDM-leier, Bantu Holomisa, wat  op Dinsdag 3 Oktober hulle sê oor grondhervorming gaan kom sê. Ook op dié paneel is Theo Boshoff van Agribiz, Francois Strydom van Senwes en die Noordwes-Universiteit (NWU) se politieke en beleidsanalis Theo Venter. Die gespreksleier is Suzanne Paxton, aanbieder van Spektrum op RSG.

Die Efficient-groep se hoofekonoom en gewilde TV-aanbieder Dawie Roodt lei op Woensdag 4 Oktober ’n gesprek oor hoe landbouproduktiwiteit verbeter kan word. Ferdi Meyer van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gaan saam met dr Johnny van der Merwe van die NWU, Wessel Lemmer (ABSA) en Requier Wait van AgriSA praat oor die landboubedryf se uitdaging om in die volgende 35 jaar net soveel kos as in die afgelope 500 jaar te produseer.

Plaasveiligheid kom op Donderdag 5 Oktober met die aanbieder van Spektrum op RSG, Suzanne Paxton, as gespreksleier onder die loep. Baie boere oorweeg dit om eerder die handdoek in te gooi weens ’n toename in plaasaanvalle en –moorde. Francois Strydom van Senwes, Kobus Visser van AgriSA, Henry Geldenhuys van TLU SA en Frans Marx van Suidwes Landbou gaan help om oplossings vir die problem te soek.

Die laaste landbougesprek is op Vrydag 6 Oktober wanneer die impak van die resessie op die landbougesprek bespreek gaan word. Ivor Price, skrywer en mediapersoonlikheid, lei dié gesprek met onder andere Wessel Lemmer (ABSA) en Pietman Roos van AgriSA op die paneel.

Al die gesprekke is gratis en word vanaf 18:00 tot 19:00 by die NWU Besigheidskool aangebied. Feesgangers kan egter ook vooraf ’n glas wyn en braaivleis vir R120 by Computicket koop en dit na die landbougesprekke geniet.

  • 1

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Waarom altyd veiligheid op plase op radio, TV en verhoë bespreek? Wat doen Boereverenigings vir boere se veiligheid? Daar word meer geld vir beskerming van diere ingesamel deesdae, as bydraes vir boere se veiligheid?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top