Persvrystelling: Aardklop programbekendstelling 2019

  • 0

Hierdie is die een jaar, en daar is selde dié geleentheid, wat feesgangers die room van die kunste almal by één fees te siene kry!

Noem hulle en hulle is daar! Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Antoinette Kellermann, Jana Cilliers, Dawid Minnaar, Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots, Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Deon Meyer, Rolanda Marais, die lys is nimmereindigend.

Noem dit wat jy wil ’n voorreg, ’n feestelikheid, ’n kunsrevolusie!

Ons noem dit eenvoudig: Aardklop!

Siende die skoolvakansie vanjaar in September is, sal Potchefstroom dán in sy beste getooi wees om feesgangers van regoor Suid-Afrika te verwelkom. Vanaf 24–29 September sal feesgangers die moelike taak hê om te kies van die smorgasbord toneel, musiek, visuele kuns, boek- en aktuele gesprekke, kinderteater en leefstyl-ervarings wat aangebied word.

VAN DIE PRODUKSIES WAARIN DIE BOGENOEMDE GEVIERDE AKTEURS TE SIENE IS, SLUIT IN:

Koningin Lear met Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, André Roothman, Rolanda Marais, Neels van Jaarsverld, Wilhelm van der Walt, Edwin van der Walt en Matthew Stuurman – ’n herverbeelding van William Shakespeare se King Lear, verwerk deur Tom Lanoye en briljant vertaal deur Antjie Krog.

’n Oorrompelende Kellermann in die rol van ’n leeftyd en Marthinus Basson se manjifieke meestershand in hierdie majestueuse produksie is eenvoudig onmisbaar. Bekroon met agt Kanna-pryse by KKNK. Feesgangers in die noorde se een kans om hierdie produksie te aanskou!

Katvoet, vanjaar se groot Nati-/ Feesteforumproduksie met onder andere Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots, Albert Pretorius en Martelize Kolver is ’n epiese verwerking van Tennessee Williams se Cat on a Hot Tin Roof deur Nico Scheepers. ’n Voor die handliggende keuse vir teaterliefhebbers.

In Kamphoer vertel Sandra Prinsloo die verhaal van Susan Nell. Nell wat tydens die Anglo-Boereoorlog verkrag en vir die dood agtergelaat is se pad kruis jare later weer met die van haar verkragter… Na die topverkoper-roman Kamphoer (Francois Smit) en nie-fiksie publikasie The Boer Whore (Nico Moolman).

DIE SORGVULDIG SAAMGESTELDE PROGRAM BIED NATUURLIK OOK OPWINDENDE DEBUUTWERKE:

Jana Cilliers en Dawid Minnaar is te siene in Wilde-als, ’n toneelstuk oor herinnering, verromatisering, die naakte waarheid en die liefde. Uit die pen en onder regie van Wessel Pretorius.

Marieta van der Vyver se bekende “coming of age” roman, Dinge van ’n Kind word deur Francois Toerien verwerk tot ’n eenvroustuk met Cintaine Schutte. Die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord word geplaas teen die agtergrond van 70’s se politieke leuens en verminking van jong mans in die grensoorlog. ’n Produksie vir elke ma, elke dogter, en die mans in hulle lewens.

Christo Davids, in 2018 bekroon met ses Aardklop-toekennings vir My Seuns, bring vanjaar: Queenie-hulle. Met onder andere Louw Venter, Brendon Daniels en Jill Levenberg vertel dit die storie van ’n groep bergies wat die trappe by die Goeie Hoop-sentrum in Kaapstad huis noem. Queenie daag op met ’n brief van die stadsraad om hulle uit hulle blypelk te sit! Hoe nou gemaak…? Jy gaan lag; jy gaan huil!

Dowwe Dolla debuteer ook met haar nuutste lawwigheid: Nou of nooit! Kyk, jy weet wat jy gaan kry, maar weet die arme Coenraad Rall (pianis) wat op hom wag?

Op die musiekfront debuteer Charl du Plessis met sy eerste soloklavierprojek – Solo. Klassieke en populêre musiek vloei ineen in hierdie bekroonde Steinway-kunstenaar se nuwe produksie.

CH2, The Fire Gypsies en Die Montoya Spaanse Dansers beloof om ’n unieke ervaring te wees wanneer die veelbekroonde virtuoso-kitaarduo saam met vuurdansers op die verhoog te siene is.

Joshua na die Reën se nuutste produksie, Vlieërs, gaan jou oudergewoonte meesleur. Hy is saam met Liani Reynolds op die verhoog.

Veelbekroonde sopraan, Magdalene Minnaar, en Portugese pianis José Dias sluit ’n skatkis van herinneringe oop in die produksie Portret. Gunstelingarias soos O mio Babbino Caro en Ebben! Ne Andro Lontana in, asook Heimwee, The Rose en Somewhere over the Rainbow vorm deel van die produksie.

PRODUKSIES WAT JY DALK ELDERS MISGELOOP HET:

In Donkie speel Frank Opperman ’n 58-jarige skoolhoof wat onder ernstige druk is. Die skool presteer nie op akademiese- óf sportvlak na wense nie. Hy oorweeg om te bedank… Teks deur Dana Snyman. Uitverkoop by KKNK.

Tien duisend ton met Cintaine Schutte en Albert Pretorius is ’n tragikomedie oor die verrassende verloop van ’n verhouding, oor familie, verandering, hoop en verraad. ’n Produksie wat al heeljaar op almal se lippe is.

Die Intermissie, ’n kort maar aanhoudende sketskomedie met Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Bouwer Bosch, Mila Guy, Barbara Brasington en Beer Adriaanse.

Die voordele van eierwit met Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm, uit die pen van Retief Scholtz vertel van twee susters wat in ’n huisbak vassit. ’n Komiese drama – lag met ’n traan.

Musiekproduksies soos Amanda Strydom se Miss Mandy, Karen Zoid, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo-suite, Kombi-Nasie (met Wicus van der Merwe en Pietman Geldenhuys), O, my Folk (met o.a. Koos Kombuis, Herman Kleinhans, Bottomless Coffee Band en Johrné van Huyssteen), Refentse, Loki Rothman en Albert Frost, Mathys Roets en Dana Snyman, om maar ’n paar te noem.

VIR DIE KINDERS: OM VAN TE KIES EN TE KEUR!

KlopKidz – Bekendes maak storietyd vir kinders lewendig. Interaktiewe dramaklasse, werkswinkels en heerlike vermaak vir kleuters en laerskoolleerders op die feesterrein. Die opwindende program word deur Anna Davel saamgestel. Slegs R10 vir kinders o/12.

Kinderteaterproduksies sluit in die “ware” verhaal van die Drie Varkies, Liewe Loeloe en die Moenie-Boelie-Masjien en Klikkerland – Lag ’n Slag. Hierdie produksies word bekostigbaar teen slegs R80 aangebied – ’n belegging in die teatergehore van môre!

Ook op die feesterrein is ’n spesiale speelarea vir kinders. Ouers kan met gemoedsrus die kroos by die speelarea los en die fees op hul eie tyd ervaar en geniet.

IETS NUUTS?

Die lys is eenvoudig te lank om alles in te sluit, maar hier is nuwe hoogtepunte waarna daar uitegesien kan word:

Kontreistories – ’n saamkuiergeleentheid soos min! 25–27 September op die feesterrein teen slegs R100 kan feesgangers heerlik om die vuur kuier met ’n glasie wyn terwyl ons stories van regoor die land sowel as uit die kontrei vertel. Met onder andere Johny Klein. Wat ’n geselligheid!

Proe-ervarings is altyd gewild by Aardklop en daarom word die program vanjaar uitgebrei. Kom proe brandewyn, gin, vonkelwyn en whisky, saam met ’n lekkerny wat die drankie komplimenteer.

Kulinêre Kunsies. Hierdie reeks koswerkswinkels is ’n interaktiewe geleentheid om jou kook- en bakvaardighede op te skerp. Kom maak pasta, skerp jou mesvaardighede op of leer om ordentlik te bak saam met professionele sjef Nathan Robinson.

Aardklop Aktiveer – die fees eerste fringe-aanbod. Vyf produksies word onder dié vaandel aangebied. Jong en opkomende skrywers, akteurs en vervaardigers kry die geleentheid om hul werk vir ’n nasionale gehoor aan te bied.

VISUELE KUNS

Kurator, dr Johan Thom stel sy program sorgvuldig saam onder die tema Briewe aan die Nag. Hy laat die kollig val op kunstenaars wat die nag as inspirasie neem.

Cobus Haupt, feeskunstenaar, se uitstalling sal in die NWU hoofgalery te siene wees. Sien ook uit na werk van Willem Boshoff, Anastasie Pather, Alka Dass, Chrisel van der Merwe, Grace Mokalapa, Wayne Matthews, Alison Shaw, Alet Pretorius en Jacob van Schalkwyk.
Vir meer inligting verwys gerus na Aardklop se feesgids.

Opwindende visuele kunsprojekte soos daaglikse toere wat meer inligting oor die kunswerke en kunstenaars bied, visuele kunsfilms, ’n kunsveiling en ’n gesprek oor beleggingswaarde van kuns vorm ook deel van die program.

Feesgangers kan, soos verlede jaar, weer in ’n taxi spring en huise wat in Ikageng in kunsgalerye omskep word gaan besoek, die kunstenaars ontmoet en ’n eg-Potchefstroomse ervaring geniet.

Daar is natuurlik ’n paar belangrike algemene feite wat waarsonder feesgangers nie kan nie:

  • Aardklop se afskopfunksie vind op 23 September plaas en beloof om die kunsrevolusie met ’n bang te begin.
  • Feesterrein is oop van 24–28 September en daar is meer as 500 kos- en kunsvlytstalletjies om van te kies en te keur.
  • Toegang tot die feesterrein kos weer slegs R30 per dag (of R75 vir weekskaartjies te koop by die feeskantoor). Kinders o/12 kom gratis in!
  • Produksiekaartjies sal by Aardklop se kantoor (Molenstraat 69, Potchefstroom) en aanlyn by Ticketpro te koop wees vanaf die 24ste Junie.
  • Ook op die feesterrein is twee gratis verhoë, ’n veilige kinderarea, KlopKidz Kontreistories, wyn- en kunstente –’n hele week se lekkerte.
  • Pendeldienste vertrek van die h/v Esselen en Hoffmanstraat en kos slegs R15.

In ’n neutedop: ons glo vanjaar se program is alles waarvan ons én feesgangers kan droom. Ons maan feesgangers om nou te beplan aan hul September-vakansie. Bespreek verblyf en kaartjies, want as daar nou een jaar is wat Aardklop ’n móét-doen is, is dit 2019!

Lees die volledige program hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top