
Aardklop sit nie sommer agteroor of raak ouderwets nie, nee, nie sommer nie. Hierdie jaar stel ons met trots ons spiksplinternuwe selfoontoep bekend. Dié toepassing gee jou toegang tot ’n interaktiewe feesprogram en regstreekse resensies van alle produksies. Jy kan jou eie feeskalender aanmekaarslaan en hy waarsku jou selfs oor moontlike botsings!
Verder laat die toepassing jou ook toe om deur die feesprogram te loer, kaartjies met jou kredietkaart te koop en vertonings tot jou koopmandjie te voeg. Dit is baie eenvoudig – jy daag slegs by vertonings op en jou kaartjies word direk na die toep gestuur as jy die kode op jou foon inskandeer. Dit is verspot maklik!
Aardklop is natuurlik nie net toneel, musiek en kultuur nie, daar is ook die feesterrein. Ons toepassing staan jou by om uitstallers op die feesterrein te vind deur van interaktiewe navigasie en foto’s gebruik te maak.
Almal is deel van die fees en alle feesnuus voor en tydens die fees word direk na jou toepassing gestuur, so kan jy jou vinger op die pols hou van alles wat gebeur.
Die Aardklop-toepassing is gratis verkrygbaar in die Apple App Store vir iPhone en ook die Google Play Store indien jy ’n Android-toestel het. Tik slegs “aardklop” in en laai die toepassing af.
Aardklop morfeer en innoveer elke jaar en ons sien uit na die hierdie toevoeging tot ons dienslewering.
Aardklop vind vanjaar van 2–7 Oktober in Potchefstroom plaas. Die ingangsfooi tot die feesterrein is slegs R30 per persoon en kinders onder 12 kom gratis in!
Produksiekaartjies is beskikbaar by Ticketpro.
Vir meer inligting besoek ons webblad www.aardklop.co.za of volg ons op Facebook.

