Persvryheid en dreigemente teen ANN7-joernaliste

  • 0

Dit het begin as ’n skynbaar grappige kommentaar toe die Valke die moordlys van die coup-samesweerder bekend gemaak het.

Op die lys was onder andere die Guptas, en iemand het opgemerk dat die ANN7-joernaliste ook op daai lys hoort, tot groot vermaak en met goedkeuring van ’n aantal ander.

Daar is egter niks lagwekkend daaraan om te dreig om joernaliste dood te maak net omdat jy nie met die nuusbron, of die eienaar van die nuusbron, se siening saamstem nie.

Daar is alreeds vele aanvalle op die vryheid van die pers, sonder dat lede van die gemeenskap ook nog moet sensuur toepas. En moenie ’n fout maak nie, as jy iemand se dood wil veroorsaak omdat jy nie saamstem met wat hulle skryf nie, is dit die ergste vorm van sensuur wat daar kan wees.

In Amerika is Trump met ’n volgehoue aanslag op die vryheid van die pers besig. Berig die pers positief oor hom, is hulle patrioties. Is beriggewing negatief, wat dit gereeld is, dan is dit “fake news”. Net soos “white monopoly capital” is dit ’n term wat maar redelik onlangs eers in algemeen gebruik gekom het. Deesdae gaan daar omtrent nie ’n dag verby dat Trump nie die term gebruik nie. Dan is daar ook die aanvalle op joernaliste wat die byeenkomste van sy ver-regse ondersteuners dek.

In Turkye het Erdogan ’n aantal joernaliste wat krities oor sy bewind is, in hegtenis geneem. Putin het net so ’n ysere houvas op Russiese joernaliste. In Tsjetsjnië, waar joernaliste onlangs die bestaan van gaykonsentrasiekampe ontbloot het, is intimidasie van joernaliste welbekend. ISIS het op meerdere geleenthede joernaliste tereggestel, met die aantyging dat hulle Westerse spioene is.

In Suid-Afrika was daar al pogings, tot dusver onsuksesvol, om die vermoë van joernaliste om ondersoeke in te stel en berig te lewer, in te perk in die howe. Daar was ook al intimidasiepogings wanneer joernaliste by sekere byeenkomste opdaag. Inbrake by nuuskantore, soos die onlangse diefstal van rekenaars by die SABC se parlementêre nuuskantoor, kan seer sekerlik ook as ’n intimidasietegniek gesien word.

In al hierdie gevalle is die intimidasie-inisiatiewe vanaf die staat se kant.

Wanneer privaatpersone nou ook tot die intimidasie-arena toetree, bedreig dit persvryheid tot ’n veel groter mate. Dis nie net simptomaties van veel groter onverdraagsaamheid om alternatiewe insigte aan te hoor nie. Dis tog algemeen bekend dat elke koerant, elke televisienuusspan vanuit ’n bepaalde regse of linkse standpunt berig. Die kanse dat die Mail & Guardian, om ’n voorbeeld te noem, met goedkeuring oor neo-Nazi’s berig sal lewer, is maar bitter skraal. Die New Age, die Gupta-koerant, sal nooit negatief oor Zuma berig nie. Dit weet ons tog.

Daar is genoeg bronne van nuus dat ons die keuse het om een bron te ignoreer en ’n ander te ondersteun. Dit skep natuurlik ’n eggokamer wat die gevaar skep dat ’n persoon nie al die feite tot sy of haar beskikking het om ’n ingeligte besluit te neem nie, maar die eggokamer, die “filter bubble”, is uit die individu se eie keuse, nie afgedwing deur ’n derde party nie.

Om dan steeds te kies om ’n bron buite jou eggokamer gewelddadig stil te maak, is aanduidend van ’n veel dieper siekte. ’n Weiering om ’n alternatiewe siening toe te laat, is aanduidend van die aanwesigheid van neigings tot diktatorskap. Dis aanduidend van onverdraagsaamheid.

Die vraag ontstaan dan: Waar word die streep getrek? Vandag mag joernaliste nie meer standpunte publiseer nie; môre is dit musiek, kuns, literatuur wat gewelddadig stilgemaak word.

Die oomblik as inligting nie vryelik beskikbaar is nie, word basiese menseregte geskend. Dis daarom dat die seinverstoorder in die parlement ’n jaar of wat gelede so skokkend was. Vandag is inligting die slagoffer. Môre kan dit liggaamlike integriteit wees, of vryheid van beweging.

Juis daarom moet enige pogings om joernaliste stil te maak, selfs (of dalk veral) as ons nie saamstem met hul standpunt nie, as veragtelik verwerp word.

Beskerm ons joernaliste. Die gesondheid van persvryheid is baie keer die barometer van die gesondheid van ’n demokrasie.

Beskerm ons demokrasie. Beskerm ons joernaliste. Selfs al kry hulle hul salaris van die Guptas.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top