
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns voeg graag haar stem by dié van ander belanghebbende Afrikaanse organisasies en individue wat besware opper oor die voorgestelde wysigings aan skole se taal- en toelatingsbeleid. Dit wil voorkom asof die Departement van Basiese Onderwys onbewus is van die primêre rol wat taal in die onderrigsituasie vervul.
Nie net geskied onderrig deur die medium van gesproke en geskrewe taal nie, maar onderrig in die taal wat die leerder ten beste beheers lei tot die gewenste goeie kognitiewe ontwikkeling en akademiese prestasie.
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns is die mening toegedaan dat die status quo ten opsigte van skole se taalbeleid behoue moet bly sodat beheerliggame steeds taalbeleid bepaal. Skoolbeheerliggame is immers in noue voeling met die gemeenskap en hul behoeftes en dra daarom die belange van ouers en leerders op die hart. Om taalbeleid, wat deurslaggewend is vir goeie skolastiese prestasie in die hande van onderwysburokrate te laat, is roekeloos. In ’n taalheterogene landskap soos dié van Suid-Afrika sal die sentralisering van besluite oor taalbeleid lei tot uitsluiting en ironies juis ongelykheid in die hand werk. Só ’n situasie sal ons sukkelende onderwysstelsel verder knou; iets wat ons land nie kan bekostig nie.
Die SA Akademie doen ’n ernstige beroep op onderwysowerhede om te besin oor hierdie aspek van die voorgestelde wysigings en die insette van skoolgemeenskappe te respekteer.


Kommentaar
Sentrale magte wat beheer probeer uitoefen oor skole is 'n direkte aanval op Suid-Afrika se toekoms, deur absolute magsvergryp en idees wat basiese logika ontbreek.
Dit verbaas my nogal dat die SA Akademie HOM bemoei met hierdie saak (by implikasie ook Afrikaans as onderrigtaal), gesien die feit dat HY HOM aan hoogs onidiomatiese taalgebruik skuldig maak deur die Akademie met 'n vroulike voornaamwoord te benoem. En dit het niks met geslags- of gendergelykheid te doen nie. Dit is doodgewoon onidiomatiese Afrikaans.
Dalk is die skrywer van bostaande stukkie 'n soort Rip van Winkel wat uit 'n diepe slaap wakker word anderhalf eeu of meer nadat Afrikaans grammatikale geslag afgeskud het, of dalk het die skrywer Duits of Nederlands grootgeword.
Almal weet onder watter druk Stadaardafrikaans tans is. As die organisasie by uitstek wat voorgee HOM vir o.m. Standaardafrikaans te beywer – een van sy organe is immers verantwoordelik vir die opstel, byhou en uitgee van die "Afrikaanse woordelys en spelreëls" – HOM van sulke onidiomatiese verwringing van Afrikaans bedien, watter hoop is daar vir Standaardafrikaans? Dan is Charlize Theron dalk tog reg...