Persverklaring: Wie is op die kortlys van die Afrikaanse Taalraad se 2016 Kokertoekennings?

  • 0

Wie is op die kortlys vir die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings op Vrydag 18 November? Wat is ’n Kokertoekenning en hoekom maak dit alles saak?

’n Kokerboom (Aloe dichotoma) is ’n geharde plant wat in die halfwoestyngebiede van Suider-Afrika groei. Dit verteenwoordig die taal se aardsheid en uithouvermoë en haar diepe wortels in die grond, geskiedenis en mense van Afrika.   

Kokertoekennings word jaarliks deur die Afrikaanse Taalraad toegeken vir spesiale bydraes tot die Afrikaanse taal en haar sprekers. Hulle bydraes maak saak omdat moeder Afrikaans dit nodig het. Ons wil die presteerders onder ons uitlig as voorbeelde vir die res van ons.

Die kortlys vir die 2016 Kokertoekenning lyk soos volg:

Vir die “Bevordering” van Afrikaans:

  • Magdaleen Kruger vir die wyse waarop sy RSG gevestig het as ’n inklusiewe Afrikaanse stasie en vir die goeie gehalte van RSG se taalprogram, “Die tale wat ons praat”.
  • Henriëtte Loubser vir die bevordering van Afrikaans deur ou en nuwe kanale en haar doelbewuste poging om die populêre mark te handhaaf en daarby aan te pas.
  • Sandra Prinsloo vir haar lewenslange bevordering van Afrikaans deur film en teater.

Vir die “Bemagtiging” van die Afrikaanse taalgemeenskap:

  • Pieter-Dirk Uys vir bemagtiging deur die besondere humor wat ingebed is in sy optredes.
  • Priester John Nicholson vir sy eiehandige opbou van die Omegaview- gemeenskapontwikkelingsprojek, asook vir sy geletterdheidswerk en voedingskema vir kinders.
  • Prof Christo van Rensburg vir die nuwe perspektiewe oor die ontstaan van Afrikaans in sy boek, “So kry ons Afrikaans.”

Vir die “Beskerming” van Afrikaans:

  • Advokaat Johan du Toit vir sy saak teen die taalbeleid van die UV.
  • Kaptein John MacNab van die Rehoboth Bastergemeente vir sy volgehoue stryd vir Afrikaans in Namibië.

Hierdie jaar word vir die eerste keer ook ’n Spesiale Koker vir lewenslange werk vir Afrikaans toegeken. Erepennings vir goeie werk word ook aan drie besondere jongmense toegeken. Hierdie name bly ’n geheim tot Vrydagaand.   

Wie gaan wen? Hou ons op Faceboek en Twitter dop vir meer nuus. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top