NB-Uitgewers se drukname Human & Rousseau en Tafelberg maak met trots die wenners bekend.
Die bekendmaking van die twee wenners volg op die aankondiging van die ses finaliste op 25 Maart 2024. Hulle is Celeste Loriston, De Wet Hugo en Karla Cloete in die kategorie vir ’n kinderverhaalmanuskrip vir lesers 8 tot 12 jaar oud, en Sandy Schoeman, Fanie Viljoen en Celeste Loriston in die kategorie vir ’n tiener- of jongvolwassenemanuskrip vir lesers ouer as 13 jaar.
Die wenners is:
- Tiener- of jongvolwassene-wenner
Sandy Schoeman vir Chakalaka uit ’n blikkie - Kinderverhaal-wenner
De Wet Hugo vir Die doodgelukkige bure

Sandy Schoeman. Foto: verskaf
Die twee wenners is uit altesaam 104 inskrywings aangewys. Hulle stap elk met ’n prysgeld van R50 000 weg – die grootste kontantprys tot nog toe in ’n kompetisie vir Afrikaanse kinder- en jeugmanuskripte.
Beoordeling het anoniem plaasgevind, dus kon gevestigde en debuutskrywers op gelyke vlak meeding.
Beoordelaars beskryf Chakalaka uit ’n blikkie as “’n heerlike leeservaring wat realiteit vermeng met ’n verbeeldingsvlug van die ideale lewe”.
Cliffordene Norton, Marita van der Vyver en Susan Samuel het die manuskripte vir tieners beoordeel. Volgens Marita van der Vyver het die wedstryd haar verwagtinge oortref. “Daar was byna dubbel soveel manuskripte as in vorige kompetisies, en die gehalte was werklik hoog. Ek glo dat daar, benewens die finaliste se uitstekende verhale, nog 'n hele paar boeke uit die ander deelnemers se manuskripte gepubliseer gaan word.”
Cliffordene meen: “Chakalaka uit ’n blikkie is ’n verhaal wat jou van die eerste oomblik gryp. Ek het dit ontdek ná ek reeds seker was oor my top tien. Ah! Dié storie het my regtig getref en my sprakeloos gelaat – en gewys dat verwagtinge oortref moet word. As ’n skrywer kon ek die taalgebruik, vertelstyl en karakterisering waardeer. As ’n leser het ek elke tree saam met Helena gestap en kon ek deel wees van die fantasie en realiteit van haar lewe. Ek hoop lesers sal net soveel vreugde daarin vind soos ek. Dit is ’n wenner!”

De Wet Hugo (foto: Ilse Kitshoff)
Die beoordelaars van manuskripte vir 8 tot 12-jariges was Mia Oosthuizen, Kobus Geldenhuys en Jaco Jacobs. Kobus Geldenhuys sê oor Die doodgelukkige bure: “Dis ’n griller met heerlike tong-in-die-kies humor, absurde situasies, over-the-top karakters en ’n storie oor vriendskap wat die grense tussen lewe en dood oorbrug.”
Mia Oosthuizen beaam dit: “Die storie bly my by – dalk spook dit selfs by my! Die doodgelukkige bure is snaaks, effe makaber, vernuwend, met net genoeg bangmaakelemente wat selfs sensitiewe lesers sal geniet. Nie dat dit ’n bangmaakstorie is nie! Ek kan hierdie storie weer en weer lees.”
Ook vir Jaco Jacobs was Die doodgelukkige bure ’n hoogtepunt tussen die inskrywings wat hy gelees het. “Die topverhale is sterk, vermaaklike, eietydse stories wat myns insiens hul plek met trots op enige Afrikaanse kind se boekrak kan volstaan. Dit was veral lekker om oor soveel uiteenlopende temas te lees. Van ruimtefiksie tot plaasstories, van volbloed-fantasieverhale tot vermaaklike stories oor die alledaagse uitdagings en pret waarmee kinders van dié ouderdom te make kry. Die verhale wat vir my uitgestaan het, was dié waarin dit duidelik was dat die skrywers die teikenmark ken en verstaan, en waarin daar nooit ‘afgeskryf’ word na die teikenleser nie.”
Die wenskrywers
Sandy Schoeman woon op Klerksdorp. Sy is ’n beeldende kunstenaar wie se werke as deel van plaaslike sowel as internasionale uitstallings vertoon is. Op haar tuisdorp is sy aktief betrokke as kunstenaar, beoordelaar en mentor in die kunste. Sy tree ook as spreker op. Sandy is die skrywer van die niefiksieboek Rooiletterkind (Naledi, 2023), wat handel oor haar reis as pleegma en later as aanneemma van ’n kind met besonderse uitdagings.
De Wet Hugo is ’n laerskoolonderwyser wat die afgelope sowat vyftien jaar by internasionale skole, eers in Saoedi-Arabië en tans in China, skoolhou. Hy kom oorspronklik van ’n Bolandse wynplaas, maar noem Kleinmond tans sy Suid-Afrikaanse tuiste. Sy topverkoperreekse Grilgrypers en Kies-jou-avontuur is uiters gewild onder jong lesers. Katastrofe en Catastrophe verskyn in 2022, sowel as Lekkerlag-pretboek, gevolg deur die Kinkels en keuses-reeks. Hy het bydraes gelewer tot die versamelbundels Rympies vir Pikkies en Peuters, Skrik op die lyf , Rympies vir Kleintjies en Kleuters, Liedjies vir Pikkies en Peuters, Bybelliedjies vir Kleintjies en Kleuters, Ingonyama en ander maats met leeueharte en Skool is ’n riller.
Die wentitels word onderskeidelik deur Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee en verskyn teen die einde van 2024.

