Persverklaring: WAT ontvang ATKV-Woordwystoekenning vir U-deel

  • 0

Die ATKV-Woordwystoekenning is vanjaar toegeken aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal vir die trajek U wat in Oktober 2024 aanlyn verskyn het. Die Woordwystoekenning het ten doel om praktykgerigte naslaanbronne te bekroon vir die bydrae wat daarmee gelewer word tot die ontwikkeling van Afrikaans in die praktyk.

Die beoordelaars van vanjaar se toekenning was Ernst Kotzé, Gerhard van Huyssteen en Rufus Gouws. Hulle het eenparig die U-deel van die WAT vir die prys aanbeveel. Volgens hulle vorm dit ’n belangrike toevoeging tot Afrikaans se mees gesaghebbende leksikografiese projek: “Dit is ’n voorbeeld van hoe digitale publikasie nie slegs ’n voortsetting van die bestaande werk moontlik maak nie, maar ook nuwe moontlikhede ontsluit – onder meer wat betref soektogfunksionaliteit, toeganklikheid en gebruikersgerigtheid.”

........
Die commendatio wys verder daarop dat elke lemma omvattend en korrek bewerk is: “Die gehalte van die betekenisverklaring en die verskeidenheid datatipes wat vir elke lemma verstrek word, lei tot ’n geslaagde omvattende bewerking, en die benutting van ’n verteenwoordigende en gebalanseerde korpus verseker ’n getroue weergawe van die werklike taalgebruik.”
........

Die commendatio wys verder daarop dat elke lemma omvattend en korrek bewerk is: “Die gehalte van die betekenisverklaring en die verskeidenheid datatipes wat vir elke lemma verstrek word, lei tot ’n geslaagde omvattende bewerking, en die benutting van ’n verteenwoordigende en gebalanseerde korpus verseker ’n getroue weergawe van die werklike taalgebruik.”

Die beoordelaars voel dat die uitgebreidheid en deeglikheid van die dekking van die letter U getuig van leksikografiese kundigheid en toewyding. Die deel bevat 2 144 lemmas, 5 351 betekenisonderskeidings, 13 962 voorbeeldsinne, 792 poëme en 252 uitdrukkings.

Volgens die hoofredakteur en uitvoerende direkteur, dr. Phillip Louw, is die WAT-span trots en dankbaar om op so ’n besonderse wyse deur die ATKV vereer te word. “Die Woordwystoekenning speel al vir baie jare ’n kernrol in die Afrikaanse woordeboekbedryf. Die erkenning wat daarmee gepaard gaan, bied vanjaar aan ons redaksie bykomende motivering om met die werk aan hierdie skatkamer van inklusiewe Afrikaans voort te beur. Ons bedank dus die ATKV en beoordelaars hiervoor, maar ook graag elke donateur en belanghebbende wat ons so getrou in hierdie arbeid vir Afrikaans ondersteun – sonder u sou hierdie U-prys nie moontlik gewees het nie.”

Die letter U is die tweede WAT-deel wat slegs aanlyn gepubliseer is. Alhoewel hierdie trajek een van die korter trajekte in vergelyking met lywiger dele soos K en S was, wys die eindredakteur, Gerhard van Wyk, daarop dat korter nie noodwendig makliker beteken nie.  “Die U-woorde het bepaalde uitdagings gebied, en die WAT-redaksie moes telkens by die kern van daardie woorde uitkom, net soos wanneer die lae van ’n ui afgeskil word, sodat die woorde op ’n uitsonderlike manier gedefinieer en andersins bewerk kon word,” verduidelik Van Wyk. “Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om die redaksie en die res van die WAT-personeel te bedank vir hulle harde werk en uithouvermoë om hierdie WAT-deel in ’n uitsonderlik kort tyd bekend te stel.”

Die WAT is tans besig om die letter V te bewerk en beplan om dié omvattende deel in 2027 aanlyn te publiseer.

Lees ook:

WAT: Die letter U is nou aanlyn beskikbaar

Persverklaring: Vriend van Nagkantoor-eienaar wen WAT se Borg ’n Woord-Sanlamprys

Frikkie Lombard: ’n huldeblyk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top