Persverklaring: WAT, Frazer Barry as nuwe beskermpersoon aangewys

  • 1

Die rymkletser, musikant, akteur en televisiepersoonlikheid Frazer Barry is op 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, aangekondig as die nuwe beskermpersoon van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg n Woord-projek.

Barry is reeds vir meer as 20 jaar op verskillende wyses betrokke in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Hy is die voorsanger van die gewilde groep Tribal Echo en is bekroon met verskeie toekennings vir musiekproduksies – onder meer vir Lepeltjie vol snare en Die Riel van Hip Hop. Hy het as akteur in die internasionale verhoogproduksie Krotoa: Eva van de Kaap opgetree en doen klankontwerp vir verskeie projekte. Hy is verder betrokke by die ontwikkeling van jong kunstenaars en help opkomende rymkletsers om hul stem te vind. Frazer is ook ’n bekende gesig op televisie, onder meer as aanbieder van die feesprogram Fiësta en Ommighellie, ’n storievertelprogram waarin hulle dwarsdeur die land reis om Afrikaanse mense se stories te versamel.

Die beskermpersone word aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer. Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy veertiende jaar. Vorige beskermpersonesluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch, Dawie Roodt, Amanda Strydom, Hannes van Wyk en Amore Bekker.

Frazer Barry se liefde vir Afrikaans is aansteeklik. “Afrikaans bars deur my long! Dit dans op my tong! Slaan lettergrepe in my mond voordat dit land op jou oordrom. Hoe lekker is dit nie om die taal te praat en te hoor nie!” Volgens hom is Afrikaans steeds besig om te groei, tans ook veral deur die invloed van Afrikane uit ander dele van Afrika wat in Suid-Afrika werk en Afrikaans aanleer. “Hulle verryk Afrikaans met ’n ander ritme.”

Een van Frazer gunstelingwoorde is boegoe wat uit een van die Khoi-tale ontleen is. “Dit klink mooi in die mond: boe-goe. Dis ’n krui wat die koningin van kruie is in Suid-Afrika.”Hy beskou dit as ’n wonderlike voorreg om die beskermpersoon van die WAT se Borg ’nWoord-projek te wees, aangesien die WAT Afrikaans in sy wydse omvang dokumenteer. “Alhoewel dit belangrik is om die taal te praat, is dit net so belangrik om die taal te ontwikkel en te dokumenteer. Jy kan ook betrokke raak deur een van jou gunstelingwoorde te borg of te koop.”

Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en woord, sowel as toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.

Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die dokumentering van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top