Persverklaring: Virtuele bekendstelling van Breyten Breytenbach se kunsuitstalling Skeursels en ’n volksboekie of ’n traktaat Hokhokaai fragmente

  • 3

One thing leads to another - Breyten Breytenbach

Die digter en kunstenaar Breyten Breytenbach het nie stilgesit sedert die COVID-19 pandemie almal in die wêreld se doen en late van Maart 2020 af op alle terreine drasties ingeperk het nie.

Die resultaat is ’n volksboekie of ’n traktaat, Hokhokaai fragmente, en ’n uitstalling, Skeursels, van nuwe kunswerke wat op Saterdag 10 Julie 2021 van 11h00 virtueel vanuit die Breytenbach Sentrum in Wellington bekendgestel sal word by www.breytenbachsentrum.co.za.

Breytenbach het die bundel en kunswerke spesiaal geskep as deel van die Breytenbach Sentrum se projek Woordmakersvallei en die nuutgeskepte Grevilleas Steunfonds om fondse in te samel om die voortbestaan van dié gemeenskapsentrum in die hartjie van Wellington te verseker. Breytenbach het saam met sy ouers en jongste broer en suster in Grevilleas gewoon.

Die Breytenbach Sentrum is in 2007 geopen nadat die Breytenbach-familie ingestem het om die hoofgebou (bekend as Grevilleas) en ander geboue en die terrein te omskep in ’n kuns-en kuktuursentrum waar alle lede van die gemeenskap tuis kan wees en aan verskillende opleidingsprogramme en ander interaktiewe projekte kan deelneem.

Pappa - Kobus Coetzee

Breytenbach het Kobus Coetzee, die jong kunstenaar van Wellington, genooi om sy kunswerke saam met hom uit te stal. Die kunswerke sal van Saterdag 10 Julie in die Breytenbach Galery in die Sentrum se hoofgebou gesien en gekoop kan word.

Weens Covid-regulasies, moet besigtigings vooraf bespreek word by Anne-Ghrett Erasmus, kurator, by galery@breytenbachsentrum.co.za of 083 415 0002 of 021 873 2786.

’n Spesiale oplaag van 100 van Hokhokaai fragmente sal gekoop kan word teen R450 per kopie. Francois Lötter kan gekontak word by francois@breytenbachsentrum.co.za.

Veronica recto - Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach oor Woordmakersvallei se Skeursels en Hokhokaai fragmente

Miskien word die ware gesig bedek met ’n doek of ’n vel papier wat die krapspore van verganklikheid probeer na-klank en nastreep. Dit wat neerslag vind is dan blyke van erkentlikheid en dank om méns te kan wees tussen hierdie medewesens in hierdie plek.

Ook al is bewuswording ’n verbleiking van kleure.

ek wens
ek wens so
ek was ’n mens

Die bydrae tot die Breytenbach Sentrum van die huidige werk-in-wording wat grotendeels tydens die afsonderingstyd van inhokking ontstaan, word Skeursels genoem. Deels omdat dit in gemengde media is – waterverf, akriel, plakwerk – maar ook omdat dit niks méér kan verbeeld as die versnipperde geheue aan ’n geheel nie. Van die klein-formaat-werke sal u sien het ’n voorkant en ’n agterkant, ’n ‘kykkant’ en ’n ‘agternakykkant’.

Miskien lê die gesig waarna ek verwys tussen die twee.

Ek wil die uitstalling beskou as die bevestiging van ’n verbintenis aan hierdie streek se mense en geskiedenisse en aan die soeke wat ons onderling verbind. Wat anders is dit as ’n saammaak van die bevestiging van menswaardigheid al word ons ook te dikwels verblind deur angs ?

Anthony - Kobus Coetzee

Die Breytenbach Sentrum is so ’n kruispunt van wedersydse omvorming. Dit is nooit ‘ons’ s’n nie, al bly dit ook ’n herinnering aan behoort. Dis ’n ruimte van aangee, waar ervarings en insigte en vaardighede gedeel en waar van mekaar geleer kan word. Dit is ook ’n proses van herkénning waar daar uitruiling mag wees tussen die hier en dié en dit wat van elders kom.

Mnr Swart - Kobus Coetzee

As konkretisering van die help dra aan die oorgange van blootstelling dink ek dié van ons wat meer deurwinterd is, ons ouer reptiele wat nie meer baie vel het om te verloor nie, behoort elke keer ‘n jonger kunstenaar te vra om tegelykertyd uit te stal. Dit is my voorreg om vir Kobus Coetzee te nooi om saam so ’n tradisie te begin. Maar dit is ook die voortsetting van ’n ou vriendskap.

Transmitting the slippery fish of memory - Breyten Breytenbach

Belewenisse van saamgroei vertaal tot die uiting van ’n taal wat die strewe na skepping vergestalt. Daardie gang is ons droomboek teen sterwe sodat ons mag aanhou sterre plant in die erfenisaarde. Die droom is dat hierdie Sentrum eweneens die beliggaming kan wees van ’n Woordmakersvallei vir ander.

Hier kom ek dan
met wyle tyd
my ou koue pampoen
waarvoor niemand meer skrik -
al is dit ook so dat
om in oorskiettyd te verwyl
’n ekstra skeppie sou beteken - 

maar so is dit dan
soos dit eintlik altyd al is
en sou wees 

’n geval van pampoenmaan in die dam
terwyl die son opkom

op hierdie plaas
moet mens jou immers oplaas
met die lig versoen

 Tyd verwyl en word dalk yl. Tyd is taal. Taal is tyd gehaal uit die aarde. Tyd is dus syn en syn is, sover ons dit kan ervaar, taal-in-wording. Is dit waar ? Die waarheid is fragmentaries van aard en soms is dit net ’n maan in die dam.

Saam met hierdie uitstalling, en danksy die Breytenbach Sentrum, verskyn daar ’n boek – meer in die lyn van ’n volksboekie of ’n traktaat :

Hokhokaai fragmente. Dit bevat geen wysheid nie en weer eens is dit die gedeeltelike en soms donker weerspieëling van ingeperkte tyd.

al-wat
oor-bly
uit oer-tyd se wees
is hees pou se
kon-krete
po-e-sie

Ek wil graag die mense en die instansies wat die publikasie moontlik gemaak en bewillig het, bedank: Alida Potgieter, Catherine du Toit, Daniël du Plessis, Anne-Ghrett Erasmus en François Lötter – en Die Hiemstra Trust en Spier.

Maar woorde bring ook verantwoording. Vir my sal dit wees teenoor my ouers, Hannes en Kitty. En my broers, Cloete en Sebastiaan en Ampie. Wanneer word die masker ’n verband om die gesig, om die wond wat eens ’n mond was?

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top