Die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans is ’n sleuteldoelstelling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sedert 1917 tree die Akademie se Taalkommissie standaardiserend op ten opsigte van Afrikaans as skryftaal en in belang van die gebruik en ontwikkeling van Afrikaans in al sy funksies. ’n Belangrike resultaat van hierdie werk is die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS), waarvan die elfde uitgawe in 2017, die eeufeesjaar van die AWS, verskyn het. Die Taalkommissie werk tans aan die twaalfde uitgawe met inagname van streeks- en sosiale variëteite uit die breë Afrikaanse taalgemeenskap.
Die Taalkommissie van maksimaal nege lede sal gereeld virtueel vergader. ’n Jaarlikse openbare webinaar sal gehou word om verslag te lewer van die belangrikste sake waaraan aandag gegee is.
Taalkommissielede sal kontraktueel vir ’n termyn van drie jaar aangestel word en werk op ’n deeltydse grondslag. TK-lede word ’n honorarium betaal.
Aansoeke van belangstellende kundiges word tans ingewag vir die volgende vakante poste in die Taalkommissie:
- 1 x taalkundige (spesifiek in die morfologie, sintaksis, semantiek of sosiolinguistiek)
- 2 x taalkundiges/taalpraktisyns (taalpraktisyn met ’n toepaslike kwalifikasie en grondige kennis van die leksikografie, terminografie, teksredaksie of vertaalkunde)
Aansoeke sluit op 15 Januarie 2025.
Stuur aansoeke met ’n volledige CV en rig navrae aan die hoofuitvoerende beamte by annelise.devries@akademie.co.za
Aansoekvorms is hier verkrygbaar.
Meer inligting oor die SA Akademie en sy Taalkommissie
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is ’n multidissiplinêre organisasie wat ’n leidende rol speel in ’n inklusiewe omgewing waar kennis, kreatiwiteit en innovasie in Afrikaans gedy. Die SA Akademie verbind hom tot die bevordering van die wetenskap, tegnologie, letterkunde en kuns in Afrikaans, asook die gebruik en beskerming van Afrikaans in al sy variëteite.
Die Taalkommissie is ’n besluitnemingsliggaam van die SA Akademie wat sedert 1914 die Afrikaanse taal bereël deur taalnorme vir die gebruik van geskrewe Afrikaans vas te stel met inbegrip van die spelling, skryfwyse, punktuasie en grammatika daarvan. Hierdie werksaamhede sluit advies en voorligting in oor Standaardafrikaans aan die SA Akademie en die breë publiek. Elf uitgawes van die gesaghebbende Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) opgestel deur die Taalkommissie het reeds oor die afgelope honderd jaar verskyn. Oor die jare het denke en vertrekpunte oor standaardisering telkens verskuif na gelang van veranderde omstandighede en taalbeskouings.