Persverklaring: US WOW bied landwye Telfees aan om syfervaardighede by leerders te bevorder

  • 0

Woorde Open Wêrelde (WOW), ’n bemagtigingsinisiatief van die Universiteit Stellenbosch, stel met trots die eerste landwye WOW Telfees bekend.

Danksy die ondersteuning van die Millennium Trust word die WOW Telfees vanjaar op kring-, distriks- en provinsiale vlak in ál nege provinsies van Suid-Afrika aangebied. Belangstellende skole word genooi om leerders in die volgende grade vir die geleentheid in te skryf:

  • Laerskole: Graad 4 tot 7
  • Hoërskole: Graad 8 en 9

Die WOW Telfees word in Afrikaans aangebied.

“Die Telfees dien as ’n opwindende platform vir leerders om hulle syfervaardighede en wiskundige denke ten toon te stel, terwyl dit ook akademiese selfvertroue en skooltrots bevorder,” sê Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder. “Ons wil wiskundige geletterdheid verbeter en ’n liefde vir wiskunde help kweek deur prettige berekeninge met ’n element van spanning te kombineer.”

Skryf nou in

Registrasies vir die WOW Telfees 2026 is oop tot Maandag 15 Junie 2026 om 17:00.

Vir verdere inligting en om te registreer, besoek gerus die WOW Telfees-portaal op die WOW-webblad by https://wow.woordfees.co.za/wow-telfees/. Klik hier om direk na die registrasievorm te gaan.

Tydlyn en lokale

Die WOW Telfees begin in Julie met die kringrondes en sluit in Oktober met die provinsiale rondes af. Dit word in die meeste gevalle by deelnemende skole aangebied. Alle skole wat geregistreer het, sal inligting oor die presiese datums en lokale ontvang.

Belangrike hulpbronne

Die Telfees-formaat en -reëls sal aan alle geregistreerde skole gestuur word, en sal ook op die WOW-webblad beskikbaar wees.

Skoolnavrae

E-pos die WOW-kantoor by uswow@sun.ac.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top