Persverklaring: Uitnodiging om Kersgeskenke aan kinders in die Oos-Kaap te skenk

  • 0

Die Jakes Gerwel Stigting nooi skenkers uit om ’n Kersgeskenk ter waarde van R50 per leerder te borg. Elke geskenk sal ’n storieboek, lekkers en ’n klein speelding insluit. Hierdie inisiatief ondersteun die Stigting se Bloukraan-leesprojek in die Oos-Kaap, waar ons 3 000 Grondslagfaseleerders in die Blue Crane-distrik, insluitend Pearston, KwaNojoli (Somerset-Oos) en Cookhouse, bereik. Ons het 40 leesassistente in diens wat intensiewe een-tot-een-leessessies vir kinders met ernstige leesprobleme aanbied. Alle deelnemende skole voorsien die Stigting van ’n klaskamer wat ons assistente as leeskamers gebruik, toegerus met boeke, rakke, leesmatte en kreatiewe woordspeletjies. Hierdie kamers skep ’n veilige ruimte vir kinders wat dikwels skaam is oor hul leesprobleme.

Aangesien hierdie leerders uit geïsoleerde omgewings kom met beperkte toegang tot die kunste, bring die Stigting, in samewerking met die Suidoosterfees, ook kinderopvoerings na die skole en bied vakansieprogramme aan met woordspeletjies, kospakkies, gesigverf en meer. Deur hierdie aktiwiteite poog ons om ’n gemeenskapsgevoel te kweek en te wys dat lees en boeke pret kan wees.

Ons vra die publiek se ondersteuning om Kersgeskenke vir hierdie kinders te borg. Met net R50 kan jy vreugde en geluk bring aan ’n kinderhart wat baie min het. Ons benodig R150 000 om te verseker dat elkeen van die 3 000 leerders ’n geskenk ontvang.

Om by te dra, besoek https://www.backabuddy.co.za/campaign/blue-crane-reading-project-for-kids.

Meer inligting:

Die Jakes Gerwel Stigting, gestig in 2013, vier die nalatenskap van die wyle professor Jakes Gerwel deur programme wat daarop gemik is om die talente van opkomende skrywers te ontwikkel en die volle potensiaal van jongmense te ontsluit. Ons visie is om gelykheid te bereik in ’n bedagsame, verenigde Suid-Afrikaanse gemeenskap wat saam sosio-ekonomiese uitdagings aanpak en oorbrug.

Besoek www.jgf.org.za om meer te leer oor die projekte wat die Jakes Gerwel Stigting aanbied.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top