Persverklaring: Uitnodiging – Befondsingsaansoek vir vakkundige navorsingsprojekte in Afrikaans

  • 0

Die PUK-Kanselierstrust is in 1994 opgerig met fondse wat wyle FW de Klerk, destydse staatspresident asook die voormalige kanselier van die PU vir CHO, uit sy Nobelprysgeld as aanvangskapitaal geskenk het. Die oogmerk was van meet af aan om die fondse aan te wend vir die behoud en uitbou van Afrikaans se hoër funksies, veral sover dit Afrikaans as wetenskapstaal betref.

Personeel en studente van Suid-Afrikaanse universiteite, asook ander navorsers, word derhalwe uitgenooi om, by wyse van onderstaande vorm, aansoek te doen vir befondsing van projekte, binne enige wetenskaplike domein, wat tot vakkundige publikasies in Afrikaans sal lei of wat die gebruik van Afrikaans as wetenskapstaal op ander wyses kan bevorder.

In 2025, meer spesifiek op 8 Mei 2025, sal dit 100 jaar wees sedert Afrikaans die status as een van die amptelike tale van Suid-Afrika verwerf het. Dié taal is een van net vier wat in die 20ste eeu kon ontwikkel tot volle funksionele taal, dit wil sê as taal wat alle omgangs- en hoë funksies bestryk. Vakkundiges op alle wetenskaplike terreine word derhalwe aangemoedig om nuwe navorsingspublikasies in Afrikaans te oorweeg wat sal bydra tot dié eeufeesviering. Die PUK-Kanselierstrust sal dit derhalwe waardeer as u hierdie uitnodiging om befondsing onder die aandag van soveel Afrikaanstalige navorsers as moontlik bring.

Toekennings deur die Trust sal normaalweg nie R25 000 per jaar oorskry nie.

Let wel: Aansoeke om beurse vir graadstudie word nie oorweeg nie.

Soos u op die hierby aangehegte aansoekvorm kan sien, moet aansoeke vergesel wees van

  • ’n volledige uiteensetting van die beplande projek,
  • ’n projek-opsomming van enkelbladsylengte en
  • ’n detailbegroting daarvoor (met ’n aanduiding ook van ander befondsers).

Sluitingsdatum: 28 Februarie 2025

Klik hier om die aansoekvorm af te laai.

Aansoeke kan op die verskafte vorm aangebring en, vergesel van ondersteunende dokumente waar nodig, aan die volgende e-posadres versend word: pukkanselierstrust@gmail.com.

Waar toekennings gemaak word, sal die fondse met ingang April 2025 beskikbaar gestel word.

Administratiewe navrae moet ook per e-pos gerig word aan: pukkanselierstrust@gmail.com.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top