
Donderdagaand 21 Mei om 8 uur in Radioteater kan jy luister na die argiefdrama Slang in die gras, deur Chris Majiedt, wenner van die tweede prys in die RSG Radiodramaskryfkompetisie van 2013.
Slang in die gras is vir die eerste keer in 2014 uitgesaai. RSG is bevoorreg om ’n argiefdrama te kan uitsaai wat afspeel in ’n milieu wat nog nie voorheen ontgin was in 2014 nie, naamlik ’n stortingsterrein. Die karakters is almal oudgevangenes wat onder die ystergreep van Slang, die sentrale karakter, ’n bestaan voer deur in die rommel te grawe op soek na glas, karton en metaal wat aan herwinningsaanlegte verkwansel word.
In ’n wêreld waar normaliteit geweldig relatief is, voer die karakters van Slang in die gras ’n bestaan op ’n Kaapse stortingsterrein waar hulle weeksdae werk, saans kosmaak buite hulle plakkershut en om ’n vuurtjie ontspan en naweke die plaaslike sjebien besoek. Verraad en bedrog word egter nie geduld nie en sal wraaksugtig en wreed gestraf word…
Van die regisseur – Eben Cruywagen
“Hoorspelregisseurs is van die mees bevoorregte mense. Nie alleen is die moontlikhede van wêrelde en ruimtes wat geskep kan word oneindig nie, daar is ook geen beletsel ten opsigte van duur stelle, internasionale grense of gevaarsones nie. Dit maak dus hoegenaamd nie saak of ’n drama op Mars of in die DRK afspeel nie. Die enigste beperking is die kreatiwiteit van die skrywer, regisseur en produksieregisseur.”
Eben vertel verder dat “weinig skrywers egter akteurs is, en andersom, en wanneer die skrywer van ’n bekroonde inskrywing ’n gesoute akteur is, is dit ’n dubbele bonus! Toe Chris Majiedt in 2013 vir die eerste keer sy hand aan ’n radiodrama gewaag het en beloon is met ’n tweede plek in die RSG Radiodramaskryfkompetisie vir Slang in die gras, was hy dus ’n logiese keuse in die rolverdeling. En wie verstaan ’n komplekse sentrale karakter beter as die skrywer self?”
***
Die RSG Radiodramaskryfkompetisie bied regisseurs nog die verdere geleentheid om jaarliks met nuwe materiaal en skrywers te doen te kry. Vir regisseurs wat bevoorreg is om ook as mentors vir die kompetisie op te tree, is dit ’n bykomende bonus wanneer so ’n teks boonop met ’n prys beloon word.
Luister gerus Donderdagaand, 21 Mei na Chris Majiedt se radiodrama, Slang in die gras. Die spelers is Chris Majiedt (Slang), Charlton George (Klonkies), Marlo Minnaar (Ougat), Keenan Herman (Haroen), Royston Stoffels (Ballie) en André Samuels in die kamee van die koperdief. Radioteater is om 8 uur op RSG, rsg.co.za, of die RSG APP en is beskikbaar as potgooi en op Spotify na afloop van die uitsending.

