Persverklaring: Tyd om opnuut te Listen by US

  • 8

StudentePlein het Woensdagaand by ons kantore in Stellenbosch ’n dokumentêre film bekendgestel wat oor Afrikaanse studente se ervaring by Stellenbosch handel. Dié film, Listen, duur 20 minute en dek temas soos die akademiese belange van Afrikaanse studente, die aftakeling van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch en die afdwing van Engelstaligheid in die studentelewe.

“Die getuienis in hierdie film is tekenend van die wankelrige plek wat Afrikaans by die US het, van die sistemiese aftakeling van Afrikaans as ryke akademiese medium, en van die minagting van studente se taalbehoeftes. Die US-bestuur het oor die afgelope ses jaar Afrikaans doelbewus afgeskaf en die gevolge daarvan spreek vanself in die film,” lui ’n verklaring van StudentePlein.

Die film se titel, Listen, sinspeel op die titel van die video Luister wat in 2015 geskep is om uiting te gee aan studente se ervarings rondom beweerde gevalle van uitsluiting deur Afrikaans. “Die doel van Listen is nie om die weergawes en ervarings in Luister te negeer of te verkleineer nie. Inteendeel, Luister was op sy tyd tekenend van belangrike gesprekke oor taal en taalbeleid by die US. Ses jaar daarna het die landskap op die US-kampus egter dramaties verander. Die pendulum is te ver in die ander rigting geswaai en dit is van voor af tyd om na nuwe ervarings en werklikhede te luister.”

StudentePlein gaan die US se Transformasiekantoor met ’n versoek nader om met dieselfde ywer tot die verspreiding van Listen by te dra as met die verspreiding van Luister.

In reaksie op die Demokratiese Alliansie se feitesending op kampus oor die verbod op Afrikaans in koshuise, het die Transformasiekantoor vroeër vanjaar in samewerking met Open Stellenbosch bewusmaking rondom die bestaan van die 2015-film, Luister, geskep.

“Dit sal interessant wees om te sien of die Transformasiekantoor die ervarings van alle studente ewe ernstig sal opneem.”

Die ervarings in Listen is egter net ’n druppel in die emmer, aangesien baie Afrikaanse studente met die ervarings kan vereenselwig, maar nie noodwendig bereid is om op ’n film te verskyn nie. “Om mee te begin, is daar verskeie StudentePlein-lede wat by die ervarings in die film aanklank vind, maar wat nie gemaklik is daarmee om op ’n openbare platform daaroor te praat nie. Dit is heeltemal verstaanbaar gegewe die indruk wat reeds op Stellenbosch gewek is, naamlik dat dit agteraf en verdelend is om aan gesprekke oor Afrikaanse taalkwessies deel te neem. Dit is ’n narratief wat spoedig besig is om te verander – ’n nuwe generasie studente en voornemende studente het sterk gevoelens oor die betekenis van taal.”

Die dapperheid en grootsheid van gees van die studente wat wel in Listen verskyn, behoort die Afrikaanssprekende gemeenskap tot selfs dieper deelname aan die taaldebat aan te spoor.

  • 8

Kommentaar

  • André Badenhorst
    André Badenhorst

    Is ek werkik die eerste een wat hierop kommentaar lewer? Mens noem dit selektiewe luister as jy kyk na die die reaksie op die ”Luister” video van ‘n paar jaar terug, veral vanaf die universiteitsowerhede. Moet asseblief nie dat julle stemme stil raak nie. Julle is só reg om op te staan teen dit wat verkeerd is. Ek haal my hoed vir julle af.

  • Avatar
    Hendrina Grové

    Skokkend - maar dit kom al 'n langpad!
    Afrikaanssprekendes was so behep daarmee om hulle kinders in Engelse skole te kry, sodat hulle Engels magtig kon wees om oorsee te gaan werk. Of 'n ander argument dat hulle nie 'n 'akademiese' agterstand sal hê as hulle na skool in Engels by universiteite onderrig sou word nie. Daarom dat dit my glad nie verbaas dat vele van hierdie studente dit as die ‘nuwe’ normaal aanvaar het nie.
    Maar dis vir my wonderlik dat daar wel nog studente op Stellenbosch is wat so sterk oor Afrikaans as onderrigtaal, asook elke dag as omgangstaal, voel, dat hulle uiteindelik daaroor in opstand teen die universiteitsowerhede kom om hierdie skryende oneer te herstel!
    As 'n Stellenbosch Universiteitsalumni moes ek die afgelope paar jaar gereeld tydens alumnifunksies bevestigend hoor dat die universiteitsverteenwoordiger die alumni se vrese dat Afrikaans nie as onderrigstaal sal verbied word nie, aanhoor. Wat 'n absolute klug as ek nou terugkyk na daardie funksies waar alumni vals hoop gegee is - herhaaldelik!
    Ek lig my hoed hemelhoog vir hierdie groepe wat nou die universiteitsowerhede tot verantwoording roep m.b.t Afrikaans by Universiteit Stellenbosch. 0m notas asook handboeke in verskeie tale beskikbaar te stel - behoort vir geen 'wêreldkkasuniversiteit' soos Stellenbosch 'n probleem te wees nie! Glo ook dat daar oorgenoeg ‘skenkinggeld’ hiervoor beskikbaar sal wees .
    Maar dat daar doelbewus n veldtog teen selfs die praat van Afrikaans op kampus ingestel is — dit neem die taalkwessie tot n totaal ander vlak!

  • Avatar
    Elizabeth Blackbeard (Pretorius)

    Stellenbosch is gestig en deur die jare opgebou deur die Afrikaanssprekende nasie omdat hulle as kinders deur Engeland onderig en van hul eie taal ontneem is. Elke Afrikaanssprekende kind kon dus in twee tale komunikeer. Wat 'n wonderlike geskenk van verligte leiers. Om Afrikaans te wil vernietig, is kortsigtig. Stellenbosch bied ook ander tale aan, so waarom Afrikaans vernietig vir politiek? Universiteit Kaapstad was en is die Engelse Universiteit. So studente het 'n keuse as hulle nie Afrikaans kan verstaan nie, of 'n probleem het met die taal, kan hulle by Universiteit Kaapstad gaan studeer. Die Afrikaanssprekende kinders het nie probeer om alles wat Engels is te vernietig of te verander nie, maar het dit omhels en het hul eie universiteite opgerig. As jy Havard toe sou gaan, gaan jy aanpas en nie probeer om alles te verander omdat jy nie daarvan hou nie, so los een universiteit vir die mense wat hard gewerk daarvoor. Ons konstitusie maak voorsiening vir onderrig in jou eie taal. Nou wil julle Afrikaans wegvat, dit is ongrondwetlik.

  • Hierdie studente kla oor hulle nie Engels verstaan nie, en ek dog Engels is 'n compulsory vak op skool? Die onderrigtaal is Engels, dit is tyd dat julle dit aanvaar en aanbeweeg. Hierdie hartseer attempt om Afrikaans terug te bring gaan niks help nie. Ek is Afrikaans maar ek verstaan hoekom akademie in Engels aangebied moet word. As jy nie verstaan nie, is universiteit dalk nie vir jou nie.

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Edwin, net soos Engels ook 'n verpligte vak op skool is en baie Engelse nie Afrikaans kan praat nie, so maak jou argument nie juis sin nie. Van die ontstaan van die universiteite af was die onderrigtaal hoofsaaklik Afrikaans en toe het dit niemand gepla nie.
    Ek het by twee Afrikaanse universiteite gestudeer waar die onderrigtaal Afrikaans was en my studies suksesvol klaargemaak ondanks die feit dat feitlik al my handboeke in Engels was.
    Waarom moet ons Engels as onderrigtaal aanvaar? Al die duisende studente wat in Afrikaans onderrig is, het suksesse van hulle lewens gemaak. Hoe gaan Engels dit verbeter of verander? En hoeveel van die "nuwe generasie" studente het onderrig op skool in Engels gehad en sal akademie in Engels kan verstaan?
    Of is dit nou maar net 'n kwessie dat ons Engels moet aanvaar omdat dit 'n "superior language" is?

  • Avatar
    Ronée Robinson

    Hier by die Universiteit van Stellenbosch wil ons inklusief wees, daarom gaan ons jou uitsluit.
    Die dag dat Engels by die voordeur instap, stap meertalligheid by die agterdeur uit.

  • Dit is 'n skreiende skande dat hierdie gebeure toegelaat is. Danksy die publisiteit oor die diskriminasie teenoor Afrikaanse studente het die Menseregtekommissie nou toegetree tot die saak. Meertaligheid beteken om ruimte vir verskillende tale te skep en nie een taal te onderdruk ten gunste van 'n ander taal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top