Persverklaring: Twee nuwe Afrikaanse vertalings van dramas uit Sesotho

  • 1

Chris Swanepoel het Senkatana deur S Machabe Mofokeng en Moshoeshoe en die sendelinge deur B Maralo Khaketla uit Sesotho in Afrikaans vertaal.

Vir meer inligting, kontak Swanepoel by swanecf@outlook.com.

Senkatana deur S Machabe Mofokeng

Mofokeng herverbeel die antieke Afrika-legende van Senkatana, die wonderseun wat sy verdwene volk uit die ingewande van die gevreesde ongedierte Kgodumodumo bevry en die koning word, maar gou deur jaloerse groepe gesoek word om sy lewe te neem. In Mofokeng se Senkatana smee die antagonis Bulane – aangevuur deur sy erge haatdraende vrou – ‘n slinkse komplot waartydens die volk opgestook en die koning uiteindelik vermoor word. Onmagtig om dit te verhoed, kyk Senkatana se vriende met groeiende ontsteltenis toe hoe die klimaat teen hul eens gewilde bevryder draai, en Senkatana vanweë sy sublieme lewenswaardes nie bereid is om homself te verdedig nie. So sluit Mofokeng se “daadlose” leier aan by karakters wat meermale in die wêreldletterkunde voorkom en waarvan NP van Wyk Louw se Germanicus ‘n tipiese voorbeeld is. Teen die einde van die tragedie swig Verteller2 voor die versoeking om sy held se strewe en sterwe direk met dié van Christus te verbind wanneer hy hom ‘n bekende kruiswoord in die mond te lê. Dis ‘n donker drama wat tot nadenke stem.

Moshoeshoe en die sendelinge deur B Maralo Khaketla

Khaketla dramatiseer ‘n koning se vasberadenheid om sendelinge na sy land te bring. Moshoeshoe se doelwit was om politieke stabiliteit in Lesotho te bevorder, sy volk se ontwikkeling te versnel en van die sendelinge se godsdiens kennis te neem. Khaketla volg die geskiedenis betreklik nougeset, met skerp fokus op die rol van die koning. Dit is betekenisvol dat dit juis dié aspek van die sendinggeskiedenis is wat die skrywer as dramatiese materiaal gekies het en die sendelinge heel positief uitbeeld. Maar dit was in 1947, ruim ‘n driekwarteeu gelede. Dit sal interessant wees om te sien hoe Khaketla se houding vandag beoordeel sou word te midde van die luide openbare misnoeë oor kolonialisme en die sendinginisiatiewe wat daarmee geassosieer word. Chris van der Merwe wat die Inleiding geskryf het, beskou die sentrale tema van die werk as die teenstelling tussen vrede en oorlogsgeweld. Hy sluit sy stuk af met: ”Ek skryf hierdie inleiding terwyl die wêreld geskok word deur die verskriklike lyding wat die Russiese inval in die Oekraïne veroorsaak. (…) dit is ‘n relevante werk, een wat relevant sal bly solank mense die boodskap van vrede wat hier gebring word, ignoreer.”

  • 1

Kommentaar

  • Ronel du Toit

    SENKATANA – die offerande, deur S Machabe Mofokeng
    Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel (2024)
    ‘n Lesersrefleksie, Ronel du Toit

    Baie dankie aan Litnet waar ek kon kennisneem van die drama, Senkantana - Die offerhande - uit Sesotho na die mooiste Afrikaans vertaal deur Chris Swanepoel.

    Die skrywer, S Machabe Mofokeng skep 'n tydlose drama uit die Senkatana/Kgodumodumo- legende wat verrassend resoneer met eietydse grondpatrone van mens- en medemenswees, die kwessie van goed en kwaad, en die morele dilemma van hoe kwaad bestry word in 'n konteks waar daar na geregtigheid gesoek word. Boeiende gesprekke word gevoer oor dominante diskoerse wat mens se idee's oor geregtigheid beïnvloed en hou as't ware 'n moreel-filosofiese- spieël voor mens op. Dit is verstommend dat hierdie skrywer maar net 30 jaar oud was toe hy hierdie drama geskryf het en tragies dat hy op die jeugdige ouderdom van 34 in die jaar, 1957 aan tuberkulose sterf.

    Mense, weet ons, verskil van ander lewende wesens, deurdat ons stories vertel en binne stories leef. Dit is alleen deur stories dat mens 'n greep op ingewikkelde insigte oor menswees, waardes en normes en die soeke na geregtigheid kan kry. Die geskiedkundige Yuval Noah Harari sê byvoorbeeld dat nasies teen mekaar veg oor die stories wat hulle vir hulleself vertel en nie oor skaars hulpbronne soos wat ons dink nie. En omdat mense die stories maak, kan mense die stories verander. Daarin lê die hoop. Ook in ons reënboogland gaan die stories wat ons vir mekaar vertel, 'n beslissende rol speel in hoe ons toekoms sal lyk. Sosiale wetenskaplikes besef lank reeds dat mens nie met 'n morele kompas gebore word nie, maar afhanklik is van onder andere, die stories wat ons lees en ons vertel word, die gesprekke wat ons voer en die voorbeeld wat deur die mense in jou leefwêreld gestel word. Dit het meer as ooit belangrik geword om stories soos die van Senkatana vir mekaar te vertel.

    Dit blyk deur navorsing dat die Afrika-legende van die held, Senkatana wat die draak, Kgodumodumo verslaan baie eeue oud is en in verskeie Afrika lande vertel word. Moontlik selfs ouer as die Christus verhaal. Diep in Lesotho in die Roma vallei word Senkatana met Christus identifiseer, lank voordat die sendelinge nog daar was. Senkatana die held wat deur 'n wondergeboorte in die wêreld kom en veg teen die draak wat nie genoeg kon kry nie, die draak van vraatsug. Mens sien in jou geestesoog hoe die dikgevrete draak, Kgodumodumo daar tussen die blou berge van Lesotho deur die dapper Senkatana verslaan word. Senkatana, die held wat glo jy kan nie net vir jouself leef nie en dat elke mens 'n behoefte aan vryheid het. Hy beywer hom om 'n gemeenskap van geregtigheid te vestig waar mense medelye met mekaar het. Om koninskap te beklee is vir Senkatana nie iets wat hy vir die eer doen nie, maar glo dat die eer verwerf sal word deur wat hy met die amp maak. Koningskap beteken vir Senkatana arbeid en dit wat jy ten bate van ander doen.

    Dat 'n Sotho-teks so helder en mooi in Afrikaans kan klink is 'n heerlike verrassing. Lees hoe Senkatana woorde gee aan al die skoonheid van die wêreld wat hy om hom waarneem en die oproep voel dat dit nie goed is dat net hy dit alleen kan aanskou nie; hy ervaar die behoefte om die mooi met medelandgenote te deel:
    "My oë het oopgegaan en ek kon goed sien.
    Vir die eerste keer sien ek die verbysterende groen,
    Sien ek gebergtes een groot reeks vorm,
    En boontoe reik soos die bome.
    Oral is daar ruigtes, diggeweeg;
    Oral uit hul toppe borrel fonteine, water,
    Water wat glinster in die blinkende son
    Glinster asof dit roep,.." p 3.

    Nadat die vleeslike Kgodumodumo verslaan is, kom Senkatana en die volk teen 'n geestelike Kgodumodumo te staan, die "skaduwee" binne elke mens en volk, daar waar diep manifestasies van die bose lê. Volgens die sielkundige Jung, is die onvermoë om daardie "skaduwee" te herken en in mens se bewussyn te integreer en mee te handel, dikwels die wortel van die probleem by tussenmenslike konflik en persoonlikheidspatologie.

    Jaloesie word dan die lont wat die opstand teen Senkatana aanvuur. Die antagonis, Bulane sê: "Ek is klaar sat van al die gepraat oor Kgodumodumo. Die oomblik as jy by 'n plek kom is dit "Senkantana en Kgodumodumo" p 18.

    Wanneer een van Senkatana se vriende vir een van die oudstes vra om hom te verduidelik waarom daar mense is wat nie met Senkatana tevrede is nie, antwoord die ou man: "My kind jy vra my 'n baie moeilike vraag. Jaloesie is jaloesie, dit het nie rede nie. Dit peul skielik uit soos enige ding enige tyd sy verskyning kan maak. Dit is 'n ding wat die mens bederf, wat voorkom dat iemand volkomendheid kan bereik. Tussen al die goeie dinge is daar altyd die saad van ondeug soos skoonheid en hoogheid steeds daar is, soos die goeie en die liefde dikwels te midde van pyn te voorskyn kom. Die goeie en die slegte woon saam op hierdie aarde, gun mekaar geen plek nie, hulle ontmoet en vermeng", p 28.

    Bulane word verder slu deur sy vrou oorreed om Senkatana dood te maak, omdat sy kwansuis 'n opdrag van die voorvaders gekry het. Haar primêre rede blyk egter te wees dat sy haar wil wreek op onopgelosde konflikte wat tussen haar en Senkatana se voorouers ontstaan het. Sy verlang om te sien hoe Senkatana se ma onttroon word en "sprietjies gras onder my voete wees" p 40. Vergelding mag nie stop voordat die hele nageslag van daardie familie gedood is nie. Dominante diskoerse van waarheid word hier ingespan om die komplot te verskerp. Wie kan dit waag om teen godsdiens en geloof te redeneer?

    Gesprekke word deur Senkatana se navolgers gevoer oor die kompleksiteit en tragedie van die mens se onvermoë om gekheid en dwaasheid raak te sien: "die meeste van ons is vatbaar vir die slegte gees, ons weet nie mooi hoe om sake te beskou nie. Ons is soos blindes, al het ons oë. Dis in so 'n omgewing dat die slegte saad maklik groei" p 23.

    Senkatana se mag word verder uitgedaag deurdat sy doen en late deur sy teenstanders onder die vergrootglas geplaas en na foute gesoek word. Die strategie is om die foute op te blaas en dan eensydig te beoordeel. So is die strawwe wat Senkatana aan veroordeeldes oplê te lig na hul mening, en redeneer hulle dat hierdie vonnisse sal maak dat die volk versleg en ondergaan. "As die volk die wette oortree, en soos 'n bees die graanlande plunder, kan daar nog gesê word, daar is 'n wagter?", word onderling gewonder en daag so met taal Senkatana se leierskap uit p 56. Volgens Senkatana is die effektiefste straf om na die lig in die siel van elke mens te soek en die lig van die gewete aan te steek.

    Leuens en verdraaiings van die waarheid word ingespan om Senkantana se posisie as leier verdag te maak en te verswak. Senkatana en sy ma word towenaars genoem wat self die monster, Kgodumodumo geskep het, daarom dat hulle van die monster gespaar is. Selfs die feit dat Senkatana nie op daardie stadium aan trou gedink het nie, word skeefgetrek as dat hy nie die waardes van man- en vrourolle respekteer nie, en dan sy hegte verhouding met sy ma te blameer is. So word Senkatana ingetrek in 'n verwikkelde magstryd teen die "bose".

    Senkantana neem die radikale besluit om nie kwaad met kwaad te beveg nie en word deur Bulane gedood, maar die naam, Senkatana en dit waarin hy geglo het, bly leef, "Die gees wat vir geregtigheid geveg het, die gees wat geglo het dat die goeie nooit oorwin kan word nie, leef steeds, en sal tot in ewigheid lewe" p 92.

    Hierdie drama sluit vir my aan by Antjie Krog se versdrama, Met die oog op môre asook Max du Preez se verhaal van hoofman Mohlomi (Die Bouer), buitengewone wysgeer uit die voorkoloniale tyd wat naby die huidige Clocolan, in die Vrystaat, gewoon het. Ek staan verbyster oor die filosofiese argumentering oor dilemmas van moraliteit en menswees wat opgesluit lê in hierdie tekste. Soveel interpretasie en toepassingsmoontlikhede wat wag om onsluit te word.

    Mens hoop dat die drama se inherente waarde raakgesien sal word en dat hierdie belangrike storie na die volgende geslag oorgedra sal word. En soos Chris van der Merwe in sy Voorwoord sê: "Mofokeng se drama lewer dus 'n oorspronklike bydrae vanuit Afrika tot 'n universele narratief van geweld en versoening, en van lyding wat genesing bring",p xviii.

    






  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top