
Breyten-inspirasie by Tuin van Digters 2025
Waarheen (en hoe) loop die pad vir oud en jonk, ook gevestigde en nuwe digters ná Breyten Breytenbach se heengaan op 24 November 2024 in Parys, Frankryk?
Dit is die fokus van vanjaar se Tuin van Digters-poësiefees – met die tema wanatoe – wat op Vrydag 12 en Saterdag 13 September 2025 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind.
Volgens Francois Lötter, wat vanjaar vir die negende keer die programsamesteller van Tuin van Digters is, het Breytenbach in 2024 in een van sy laaste e-poskorrespondensies oor Afrikaans en die letterkunde se pad vorentoe geskryf daar behoort veel meer koördinasie te wees (die deel van moontlikhede, ensovoorts) tussen feeste. En “in diepte nadenke van waarmee mens nou eintlik besig is, en hoekom, en waarnatoe”.
Daarom is besluit om die tema van vanjaar se Tuin van Digters wanatoe – wat net sowel ‘n Breyten-skepping kon wees – te maak.
Die Breytenbach Sentrum se trust en direksie is volgens Lötter voorbereid en gereed om die nagedagtenis van Breyten en sy visie vir die Sentrum in stand te hou. Daarom sal voortgegaan word om jong digters en woord- en kunsskeppers uit die hele gemeenskap te betrek en bewus te maak van die belangrike rol wat Breytenbach deur sy werk en sy menswees gespeel het.
Die volledige en finale program van Tuin van Digters sal eers teen 10 Augustus bekend gemaak word. Daar is egter reeds besluit dat Johann de Lange, die Afrikaanse digter, kritikus en skrywer van kortverhale wat op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore en op 27 Maart 2025 in die ouderdom van 65 in Kaapstad oorlede is, die digter is wat Vrydagaand 12 September postuum by vanjaar se Tuin van Digters gehuldig sal word.

Johann de Lange (Foto: LitNet/verskaf)
De Lange is onder meer met die Ingrid Jonker-prys en die Hertzogprys vir sy skryfwerk bekroon. Daniel Hugo, digter en vertaler, sal ’n praatjie lewer by die huldiging. Gedigte sal ook voorgelees word. Die digter, liedjieskrywer, sanger, kunstenaar en akademikus Andries Bezuidenhout toonset ook spesiaal ’n gedig of twee van De Lange wat hy by die geleentheid sal sing.
Vanjaar se Ingrid Jonker-debuutprys is vir ’n Afrikaanse digter en sal op Saterdagaand 13 September aan die wenner oorhandig word. Ons Klyntji word ook weer bekendgestel met verskeie jong digters en skrywers wat hulle gedigte en skryfsels sal voorlees in die loop van Saterdag.
Die programitems sal buiten die bekendstellings van nuwe Afrikaanse digbundels ook bestaan uit gevestigde, sowel as nuwe jong digters. Daar sal ook akademiese gesprekke en ’n item deur PEN Afrikaans oor die pad vorentoe na die heengaan van Breyten wees. Verskeie digters uit die buiteland, insluitende Klara du Plessis, wat in Kanada woon, en die Poolse letterkundige, vertaler en digter Jerzy Koch, sal optree.
Daar is ook toonsettings (en voorlesings) van Breyten-gedigte deur erkende toonsetters soos Laurinda Hofmeyr, wat optree saam met Schalk Joubert en die jong, opkomende digter en toonsetters Ilana de Vlakte. Jong (en ouer) gemeenskapsdigters met ’n nuwe aanslag word ook betrek.

Breyten Breytenbach lewer op 16 September 2023 op sy 84ste verjaardag die afsluitingstoespraak by die Tuin van Digters. Dit was sy laaste optrede, waartydens hy ook van sy gedigte voorgelees het, by die Breytenbach Sentrum. (Foto: Francois Lötter)
Ysterkoei, kunswerk deur Marinda du Toit. Die foto is deur haar geneem en verskaf.
Breyten Breytenbach se eerste digbundel, die ysterkoei moet sweet, wat in 1964 verskyn het, het die kunstenaar Marinda du Toit, geïnspireer om ’n kunswerk, Ysterkoei, te skep. Dit was deel van ’n uitstalling in die Breytenbach Galery tydens die lewensviering van Breyten, wat op 23 Februarie vanjaar by die Breytenbach Sentrum plaasgevind het.

Ysterkoei, kunswerk deur Marinda du Toit. Die foto is deur haar geneem en verskaf.
Du Toit sal weer van haar werk uitstal tydens ’n groepuitstaling by die Tuin van Digters. Die groepuitstalling, gee, aangee: nooit opgee, is onder leiding van Louis Jansen van Vuuren. Met Breyten Breytenbach se kuns en poësie as inspirasie, skep/verbeel/herverbeel hierdie groep kunstenaars kunswerke wat sy nalatenskap eer, erken en verder neem.
Daar is ook ’n solo-uitstalling Bergengel: verbeel(d) deur die bekroonde digter, skrywer en kunstenaar, Carina Stander.
Tuin van Digters, die tuiste van die Afrikaanse digkuns, word moontlik gemaak deur Dagbreektrust se trust vir kuns, kultuur en erfenis in samewerking met NB Uitgewers.
Kaartjies kan reeds gekoop word by Quicket by https://www.quicket.co.za/events/289556-tuin-van-digters-2025/
Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag 13 September (alle programitems ingesluit), R250 per volwassene vir Saterdag 14 September (alle programitems ingesluit), R300 per volwassene vir ’n naweekkaartjie, R100 per student vir ’n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16.
Die volledige program sal vroeg in Augustus beskikbaar wees op die Breytenbach Sentrum se webblad https://breytenbachsentrum.co.za/, in die media en op sosiale platforms, of hier: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2025/08/Tuin-van-Digters-2025-program-0829.pdf

Breyten Breytenbach op 3 April 2019, die jaar waarin hy 80 geword het, by die bekendstelling van sy bundel op weg na ku in The Book Lounge in Kaapstad. (Foto: Francois Lötter)
Volg die Breytenbach Sentrum op Instagram en Facebook @breytenbachsentrum en gesels saam: #TuinVanDigters #MeerDigdinkIsNodig.

