
Dinsdag 23 April, 16:00 tot 18:00
Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.
Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.
In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April, bied drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther (JL), Fred Pheiffer (FP) en Annelise de Vries (ADV), ’n kort oorsig oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het. Onder die vergrootglas kom:
- die ontstaansgeskiedenis van die AWS (JL)
- belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het (FP)
- die AWS en die WAT (JL)
- die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling (FP)
- die AWS en vaktaal (JL)
- anglisismes (FP)
- taalbeplanning (ADV).
Die lesing word intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met ruim geleentheid vir vrae aan die einde.
Alle lesings vind virtueel plaas. Daar moet minstens die dag voor die tyd vir elke lesing afsonderlik ge-RSVP word. RSVP’s moet gestuur word aan Sanita Meyer by akademie@akademie.co.za.
Bywoning is gratis.

